Borsvoeding 101: Moenie skaam wees om te vra nie

(Foto: Pixabay)

Die koms van ʼn nuwe baba gaan dikwels gepaard met sekere verwagtinge: die perfekte geboorteplan, idees rondom die eerste uitrusting wat jou klein bondeltjie vreugde sal dra en visioene van die hegte band wat gevorm word deur moeitelose borsvoeding. Die meeste jong moeders het egter reeds ontdek dat verskeie verrassings hierdie verwagtinge kan verpletter.

Volgens suster Ana Frawley is borsvoeding een van die moeisaamste struikelblokke wat moeders met ʼn nuwe baba moet oorkom – selfs al is dit nie hul eerste kind nie. Frawley besit en bestuur twee moeder- en babawelstandsklinieke en spesialiseer al 11 jaar lank as vroedvrou in laktasie.

“Borsvoeding is ʼn natuurlike proses, maar dit beteken nie dat dit instinktief is nie – dit is eintlik ʼn aangeleerde vaardigheid wat oefening vereis. Daar was ʼn tyd toe jong meisies moeders met babas in gesinne en gemeenskappe kon dophou terwyl hulle besig was om te borsvoed. Hierdie blootstelling was as opvoedkundig gesien,” sê sy. “Die hedendaagse lewe is egter heelwat anders en baie vroue het nie meer die geleentheid om op hierdie manier te leer nie.

“Verder is dit belangrik om te onthou dat net soos wat elke swangerskap verskil, elke baba ook anders is. Dit is dus belangrik dat moeders hul verwagtinge moet monitor en hulself voorberei op die sterk moontlikheid dat hulle hulp gaan nodig hê om reg te kan borsvoed.”

Borsvoeding as vroegste vorm van kommunikasie

“Behalwe vir die belangrike voedingsvoordele wat borsvoeding vir ʼn ontwikkelende baba se liggaam inhou, is dit ook die eerste en wonderlikste vorm van kommunikasie tussen ʼn moeder en haar kind. Wanneer jy borsvoed en gewoond raak aan die gevoel daarvan, bied jy jou baba die nodige ondersteuning en gee jy hul die eerste ervaring van hierdie soort interaksie.

“Met verloop van tyd kan jou baba van die borsvoedingproses gebruik maak om aan jou ondersteuning te bied. Ek het hierdie verskynsel al eerstehands ervaar toe ʼn huilende ma deur haar 12 maande oue baba vertroos word. Hy het langs haar gaan sit terwyl sy huil en gewag totdat sy ʼn bietjie rustiger is, daarna het hy vir ʼn oomblik aan haar bors vasgeklou voordat hy afgeklim het om die kamer te verken. Hierdie baba was nie honger nie, maar het sy moeder probeer troos op die manier waarop hy gewoond was om getroos te word. ”

Frawley merk op dat die raadpleging van ʼn lakteringspesialis aan die begin van moederskap die proses baie makliker en minder stresvol kan maak.

“Hoewel daar ʼn paar vroue is wat borsvoeding van die begin af onder die knie het, is daar baie wat hulp hiermee nodig het, en hoe gouer hulle dit besef en die nodige hulp kry, hoe beter.”

(Foto: Timothy Meinberg/Unsplash)

Doen ek dit reg?

Frawley sê daar is drie eenvoudige riglyne om nuwe moeders met borsvoeding te help:

  1. Jou baba moet agt tot 12 keer elke 24 uur gevoed word.
  2. Daar moet ten minste ses nat doeke elke 24 uur wees.
  3. Daar moet in die eerste ses weke na geboorte twee tot drie doeke met stoelgang wees, daarna word een doek met stoelgang per sewe tot tien dae as normaal beskou. Daar is geen rede tot kommer indien die baba meer gereeld sulke doeke het nie, mits die stoelgang ʼn korrelvormige of saadagtige voorkoms het, aangesien daar by diarree geen “sade” in die stoelgang is nie, in welke geval mediese raad nodig is.

Wanneer om ʼn lakteringspesialis te raadpleeg

Frawley stel voor dat jy gespesialiseerde hulp kry indien jy enige van die volgende ervarings het:

  • Seer of sensitiewe tepels tydens borsvoeding, of misvormde tepels nadat die baba ophou drink het.
  • Melk kom nie in nie, of kom te laat in.
  • Baba tel nie genoeg gewig op nie (tussen 140 g – 200 g per week).
  • Melk dreineer nie heeltemal nie, wat tot mastitis, ʼn pynlike infeksie in die bors, kan lei.

Hoe ʼn lakteringspesialis kan help

“Jy benodig ongeveer drie sessies by ʼn lakteringspesialis waarvan die eerste sessie waarskynlik die langste sal wees.”

Die spesialis sal ʼn omvattende geskiedenis van die moeder se gesondheid inwin, insluitend haar sielkundige welstand. Die spesialis doen ook ʼn deeglike ondersoek van die moeder se borste, sowel as ʼn kop-tot-tone-ondersoek van die baba.

Die belangrikste fokus is om die baba te kry om korrek aan die moeder se tepels te suig sodat die spesialis die oorsaak van die borsvoedingsprobleem kan vind en ʼn toepaslike sorgplan saam met die ma en haar ondersteuningskring ontwikkel. Soms is daar ander faktore wat oorweeg moet word, soos addisionele terapieë vir die baba.

“Dit is belangrik dat die baba goed en gemaklik geplaas word, dat die hele tepel en die areola in die mond geneem word en dat die moeder geen pyn of ongemak ervaar terwyl die baba drink nie. Borsvoeding is ʼn proses wat geduld, deursettingsvermoë en oefening verg. As die baba korrek gryp, produseer die borste van nature die voldoende hoeveelheid melk wat die baba benodig.

“Daar kan egter sekere omstandighede wees wat ʼn ma verhinder om die voldoende voorraad vir eksklusiewe borsvoeding te produseer, soos byvoorbeeld tipe 1-diabetes, vetsug en polisistiese ovariale sindroom.

“Dit sal alles bespreek word tydens die konsultasies met jou lakteringspesialis, wat die belangrikheid van ʼn gebalanseerde dieet, genoeg vloeistowwe en deeglike rus vir die voldoende hoeveelhede melk sal aandui,” verduidelik Frawley.

Gesinsondersteuning

Frawley verduidelik dat moeders met nuwe babas baie ondersteuning nodig het. “Mammas wat sukkel met die geestelike en emosionele las wat die versorging van ʼn nuwe baba inhou, het deurlopende ondersteuning en aanmoediging nodig van hul naasbestaandes. Die moeder se geestestoestand is baie belangrik en kan die ervaring van borsvoeding beïnvloed, vir die moeder én die baba.

“Familielede en vriende wat hulp wil verleen kan gereeld opbouende woorde spreek oor hoe goed die ma doen, en hulle kan help met praktiese dinge soos om vir die ma gesonde verversings en ʼn glas water te bring terwyl sy besig is om te borsvoed.

“As sy of die baba ʼn moeilike oomblik het, stel vriendelik voor dat sy ʼn blaaskans neem, selfs al is dit net vir ʼn paar minute om asem te haal. Afbrekende kritiek is in hierdie stadium nie nuttig nie,” sê Frawley.

(Foto: Wendy Wei/Pexels)

Covid-19 en borsvoeding

Volgens Frawley is die deurlopende advies aan vroue wat borsvoed dat hulle moet voortgaan om dit te doen, selfs al het hulle positief getoets vir Covid-19. “Die voortdurende fisieke kontak en voeding is voordelig vir die baba en geensins skadelik nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.