Covid-19: Moenie sielkundige uitwerking op kinders onderskat

(Foto: Volodymyr Hryshchenko)

Deur Marietjie Warrington

Die sielkundige uitwerking van die heropening van skole ná afsondering en die nuwe skoolomgewing wat daarmee saamgaan, moet nie onderskat word nie. Dié omgewing word nou gekenmerk deur die dra van maskers en skep van sosiale afstand wat kan bydra tot verhoogde angsvlakke, depressie en ʼn verlies aan selfvertroue, het sielkundiges aan Maroela Media gesê. Van dié maatreëls ontneem kinders boonop van fisieke interaksie en die gepaardgaande verlies aan kontak kan die ontwikkeling van sosiale en emosionele vaardighede in die wiele ry.

 “Nuwe normaal” skep nuwe uitdagings

Volgens Jeannette Ceronio, ʼn opvoedkundige sielkundige van die Wes-Rand wat tans bystand lewer aan onderwysers en leerders, gaan die “nuwe normaal” beslis bykomende druk op leerders se geestesgesondheid plaas.

“Aanpassings met die heropening van skole kan lei tot meer angstigheid en depressie. Leerders wat selfvertroue ontbreek en bang is, sal die situasie waarskynlik moeilik verwerk. Leerders sal dalk swaar aanpas by die nuwe manier van onderrig en derhalwe akademiese probleme ontwikkel,” sê sy.

Erika Basson, ʼn opvoedkundige sielkundige van Johannesburg wat meestal werk met tieners, sê ook jongmense se angsvlakke is tans baie hoog en sy vind dat depressie by tieners toegeneem het tydens die afsonderingstydperk. “Dis veilig om te sê die aangepaste skoolomgewing sal beslis ʼn uitwerking op almal hê, maar die intensiteit daarvan sal verskil van persoon tot persoon. Die ouer tiener sal dit anders beleef as die kleiner kind en sal dus anders benader moet word,” sê sy.

(Foto: Erika Fletcher/Unsplash)

Marie Dahl, uitvoerende hoof: Save the Children’s Mental Health and Psychosocial Support in Londen, skryf: “Kinders beleef tans ongelooflike omwenteling en op ʼn skaal wat ons nog nie in dié leeftyd ervaar het nie. Hul lewe het oornag verander en so baie is steeds onbekend oor die langtermynuitwerking van die krisis. Laasgenoemde noop ons om waaksaam te wees en sover moontlik alles in te span om die uitwerking op hul psige te versag.”

Sy sê hoewel kinders gekenmerk word deur emosionele veerkragtigheid, moet volwassenes nie die pandemie se uitwerking op leerders se geestes- en fisieke gesondheid onderskat nie.

Ceronio meen kinders wat reeds hiperaktief of aandagafleibaar is, gaan spanning beleef omrede daar meer objekte is om mee te vroetel. “Dié leerders en ekstroverte wat aan almal wil vat en gesels, kan ook in die spervuur beland, want hulle vergeet onbewustelik van die maatreël vir sosiale afstand.”

Basson sê ook die afstandmaatreël kan veral die jonger kinders se emosionele ontwikkeling nadelig beïnvloed. “Die skoolterrein vorm die klaskamer waar kinders leer om sinvol te sosialiseer. Hier word met maats gespeel wat die grondslag vorm van toekomstige verhoudings, die instandhouding van sulke verbintenisse en die beheer van emosies. Deur spel en fisieke interaksie leer kinders om gesonde verhoudings te handhaaf.”

Volgens Ceronio kan die dra van gesigmaskers leerders met leesprobleme kniehalter en ʼn gevoel van benoudheid veroorsaak by kinders wat reeds angstig voel. “Indien ʼn leerder se temperatuur boonop hoër as normaal gemeet word, kan dit verdere spanning meebring wat gepaardgaan met ʼn vrees vir verwerping deur maats,” sê sy.

Basson sê wat die heropening van skole emosioneel nog meer ingewikkeld kan maak, is dat baie leerders reeds angstig en depressief by die skool aanmeld.

“In baie ouerhuise word ekonomiese en emosionele uitdagings beleef wat oneindige druk en konflik veroorsaak. Met gesinsgeweld is daar vir kinders ook nie uitkoms nie, want almal is onder een dak saam ingehok. Van die huis se angs kom saam skool toe,” sê Basson.

Basson sê by tieners kan die skool se nuwe omgewing ʼn gevoel van verlies aan hoop en die einde van die wêreld inisieer. “Daar is byvoorbeeld nie meer rugbywedstryde, kooroefeninge, toneelopvoerings of saamkuier op die speelterrein om na uit te sien nie. Dit kan voel asof niks meer betekenis of waarde het nie, want die lekkergoed is weg. Daarbenewens is onderwysers se veranderde metodiek ook ʼn angsfaktor vir leerders wat kan inwerk op skolastiese prestasie,” sê sy.

Ceronio benadruk dat nie almal dieselfde sal reageer op die aangepaste maatreëls nie en baie sal afhang van individuele verskille. “Leerders sonder psigiese uitdagings behoort nie regtig probleme te ondervind nie,” sê sy.

Onderwysers beleef ook aansienlike spanning

(Foto: Maroela Media)

Ceronio sê onderwysers beleef tans aansienlike spanning en het leiding en berading nodig voordat skole open om voluit te kan funksioneer.

“Onderwysers moes in ʼn tydsbestek allerlei vorme van tegnologie en ʼn nuwe metodiek aanleer om met die skole se opening te kan onderrig. Daarbenewens moet omvangryke departementele dokumentasie vir elke leerder bemeester word. Sommiges is ook bekommerd oor die gesondheidsrisiko en die uitdagings wat maskers gaan bied,” sê Ceronio.

Sy meen boonop nie alle onderwysers is genoegsaam toegerus om die nuwe psigiese uitdagings die hoof te bied nie en individuele verskille soos byvoorbeeld opleiding speel hier ʼn rol. “ʼn Onderwyser wat sielkunde of lewensoriëntering as vak gehad het, is dalk beter toegerus as iemand wat nie daardie agtergrond het nie. Persoonlikheid speel ook ʼn rol. Die meer mensgerigte empatiese onderwyser sal leerders se psigiese uitdagings beter hanteer en verstaan as onderwysers wat meer taakgeoriënteerd is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.