Diabetesverwante afknouery: Is dié kinders dalk boelies se teikens?

leandie-brasler-en-natasha-smit

Leandie Bräsler en Natasha Smit pak die kwessie van diabetesverwante afknouery. Foto: Verskaf.

Deur Leandie Bräsler en Natasha Smit

Sommige kinders dink dat dit snaaks is om met iemand die spot te dryf wanneer daardie persoon “anders” as die res van die kinders in die skool is. Enige persoon kan ’n teiken vir ’n boelie wees. Meesal is dit nie kinders se bedoeling om wreed of lelik teenoor iemand anders op te tree nie, maar dit kan wel die geval wees of later die geval word. Op ’n sekere punt hou dit op om onskadelik te wees. Soms kan kinders met tipe 1-diabetes (suikersiekte) ’n teiken van boeliery of afknouery word, want hul diabetes maak hulle “anders” as die res van hulle klasmaats – dit laat hulle uitstaan.

Diabetesverwante afknouery kan ’n effek hê op die manier waarop die siekte self bestuur word. Wanneer kinders oor hul mediese toestand geboelie word, veroorsaak dit net meer stres. Dit kan dus die bestuur van tipe 1-diabetes bemoeilik. ’n Voorbeeld hiervan is dat die slagoffers (die kinders met diabetes) op die boelievoorval sal reageer deur nie hul medikasie te neem wanneer hulle moet nie, of deur nie hul nodige maaltyd of fisieke aktiwiteite se planne te volg soos voorgestel word nie, want hulle is bang dat hul klasmaats hulle sal sien en oordeel.

Wat kan leerders, ouers/voogde en onderwysers doen?

  • Verduidelik aan jou kind/leerder dat dit nie sy/haar skuld is wanneer hy/sy geboelie word of ’n slagoffer van boeliegedrag is nie. Vertel ook aan hulle dat niemand dit verdien om so behandel te word nie. Moedig jou kind/leerder wat geboelie word, aan om hulp te soek by ’n volwassene.
  • Probeer verhoed dat diabetesverwante afknouery ’n effek op die slagoffer se selfsorg het. Kinders/leerders moenie gesonde gewoontes stop omdat hulle deur hul klasmaats gespot of geboelie word nie – of dit nou is wanneer die klasmaats die slagoffer sien medikasie gebruik, wanneer hy/sy gereelde bloedsuikertoetse doen of wanneer hy/sy gesonde peuselhappies of middagetes eet.
  • Verstaan die toestand en alles wat daarmee gepaard gaan. Maak seker jy verstaan hoe werk die insulien en peuselhappies. Slaan ag op ’n kind se emosies en gedrag.
  • Probeer kinders motiveer om die goeie in die situasie te sien en om aan te pas by hul omstandighede sonder om hul gesondheid te benadeel. Enigiets kan goed wees solank dit matig gedoen word. Leer jou kind om ’n beter keuse te maak of porsiebeheer toe te pas eerder as dat hy/sy heeltemal ontneem word van sekere sosiale byeenkomste of partytjies waarna hulle moontlik emosionele verwerping of skuldgevoelens ervaar wanneer hulle nie presies volgens die boek optree nie.

Leerders met suikersiekte kan die volgende ervaar:

  • Uittarting deur klasmaats oor gedrag wat hulle as “anders” of “vreemd” beskou, soos wanneer die persoon met diabetes bloedsuikertoetse moet doen, medikasie moet gebruik of nie sekere tipes kos tydens middagete kan eet as dit nie in hul beplande maaltye val nie.
  • Fisieke aanvalle, aanlyn teistering (kuberafknouery), en om gespot of uitgeskel te word. ’n Leerder met diabetes kan deur die boelie gesien word as iemand met ’n fisieke swakheid. Aan die ander kant wys navorsing ook dat sommige kinders met ’n liggaamsgebrek of spesiale behoeftes ander kan boelie.
  • Verwerping en skuldgevoelens. Kinders met diabetes voel maklik hulle word uitgesluit omdat hul maaltye en peuselhappies dikwels anders is as hul klasmaats s’n. Sommige kinders word fisiek uitgesluit deur klasmaats, waar ander weer uitgesluit word deur ouers wat hul kind wil beskerm teen versoeking deur hom of haar te isoleer tydens sosiale byeenkomste. Wanneer die kind dan wel die geleentheid kry om ’n sosiale byeenkoms by te woon en dalk ’n ongesonde peuselhappie saam met maats geniet, voel hulle so skuldig en belemmer dit hul denke en gesonde verhouding tot voedsel.

Onderwysers is dalk nie opgelei om situasies, soos waar leerders spesiale gesondheidsbehoeftes het, te hanteer nie. Terwyl die onderwysers net goed bedoel, word leerders met tipe 1-diabetes dan anders hanteer as die res van hulle klasmaats. Dit kan dus die negatiewe effek hê waar die kind met diabetes van die ander leerders afgesonder word, wat potensieel die kind se “andersheid” versterk. Dit kan gevoelens van jaloesie by ander leerders aanwakker, omdat hulle dink dat die kind met diabetes meer aandag as hulle kry.

Dit is belangrik om te verstaan waardeur kinders (die slagoffer) gaan wat geboelie word. Boeliery/ afknouery kan stres veroorsaak wat kan bydra tot die gevoel van eensaamheid en angstigheid, wat weer ’n impak op hul emosionele en fisieke gesondheid het. ’n Verskeidenheid van reaksies op hierdie situasie kan veroorsaak dat kinders se sosiale, opvoedkundige en emosionele ontwikkeling vertraag of benadeel word:

  • Slagoffers kan die manier hoe hulle die diabetes bestuur, verander omdat hulle bang is om gespot te word. Hulle kan ook versuim om hul bloedsuiker so gereeld te toets soos wat hulle moet of hulle kan die gebruik van medikasie vertraag.
  • Slagoffers kan begin om die negatiewe aanmerkings te glo en kan dan tekens van angstigheid of depressie toon.
  • Slagoffers kan sosiale byeenkomste vermy en dan positiewe groepaktiwiteite en ander positiewe ervarings misloop.
  • Slagoffers kan ook begin om jonger kinders of klasmaats wat hulle as “swakker” sien, af te knou as ’n aangeleerde reaksie op die behandeling wat hulle ontvang het.

Die langtermyngevolge van suikersiekteverwante afknouery

Boeliery/afknouery is oor die algemeen nie ’n voorval wat net een keer gebeur nie, maar wat op ’n herhalende wyse plaasvind. Diabetesverwante afknouery is dus ’n reeks van klein voorvalle wat oor ’n lang tydperk herhaal word, wat later ’n kind se selfvertroue kan laat knak. Dit sluit in spottery, kuberafknouery (oor die internet) en bakleiery wat nie net een keer gebeur nie, maar wat herhaaldelik gebeur. Dit is ook belangrik om te weet wat langtermyn-diabetesverwante afknouery kan doen: Dit kan fisieke, verstandelike en emosionele skade aan die slagoffer aanrig wat hulle eendag as volwassenes steeds saam met hulle kan dra.

  • Kinders kan terugslae kry in die bestuur van hul diabetes as hulle ophou om te doen wat nodig is om elke dag te doen.
  • Omdat kinders kan agterraak met hul skoolwerk, sowel as hul sosiale en emosionele vooruitgang, kan hulle ook sukkel met gedragsprobleme.
  • Om die voorwerp van geweld te wees, kan ’n kind se vermoë benadeel om gesonde verhoudings met ander te vorm namate hulle ouer word.
  • Kinders se risiko vir depressie en sosiale angstigheid is groter wanneer hulle op ’n aanhoudende en deurlopende wyse afgeknou word.

Op ’n positiewe noot

Sommige kinders kan wys hoe sterk hulle is wanneer diabetesverwante afknouery hulle in die gesig staar. Ondersteuning by die huis, in hul gemeenskap en van die sorgspan van diabetes (dokters en dieetkundiges) is baie waardevol.

Wanneer ’n kind net op een skooldag geboelie is, is dit vir almal ’n teken om op te tree. Dit is noodsaaklik om boeliery/afknouery dadelik te stop sodat dit nie ’n groter probleem sal word nie. Hier is duidelike stappe wat ouers/voogde kan volg:

  • Wees ondersteunend en bemoedigend. Vra jou kind om vrylik te gesels oor wat by die skool gebeur. Maak dit ’n daaglikse taak. Vertel vir jou kind dat hy nie homself moet blameer nie. Verduidelik aan jou kind waarom diabetesverwante afknouery kan gebeur. Maak seker dat jou kind weet dat jy altyd daar is om te luister en dat jy agter hom staan. Ondersteun jou kind deur saam hom of haar ’n gesonde leefstyl te handhaaf en steeds as ’n gesin saam gesonde maaltye te berei in stede daarvan om elke maaltyd vir jou kind sy eie bord kos te berei wat weereens “anders” vertoon teenoor die res van die gesin.
  • Gesels met jou kind se onderwysers om seker te maak dat hulle bewus is van wat gebeur en ook watter stappe gedoen kan word om die probleem dadelik op te los.
  • Skryf al jou bekommernisse neer. Kontak die hoof van die skool, die beheerliggaam of die onderwysdepartement om ’n boelievoorkomingsprogram te begin of doen stappe wat min of meer dieselfde is. AfriForum se teenboelieveldtog word ook by skole landwyd aangebied om afknouery in skole hok te slaan.
  • Gesels met die onderwysers en die skool om seker te maak dat jou kind nie ander kinders begin afknou nie. Dit kan kinders wees wat jonger of swakker is as jou eie kind, of dit kan ’n kind wees wat as “anders” of “vreemd” beskou word. Ongelukkig leer kinders hoe om ander te boelie as hulle self geboelie word. Indien dit so is, sal hierdie aggressiewe gedrag verander moet word.
  • Maak seker dat jou kind nie ophou om na sy/haar eie gesondheid om te sien nie, soos byvoorbeeld, om bloedsuikertoetse en die neem van medikasie te vermy. Indien so iets gebeur, probeer om ondersteunend te wees en om nie dadelik jou kind te blameer omdat hy/sy bang is of in selfverdediging optree nie. Lê klem op die belangrikheid om by die sorgplan van hul siekte te bly.

’n Gesonde leefstyl en gesonde eetgewoontes is iets waarna ons elkeen streef. Dit is belangrik om te verstaan dat ’n kind of ander persoon met diabetes bloot ’n gesonde leefstyl handhaaf en dat elkeen by daardie leefstyl sal baat.

  • Indien jou kind se skool by AfriForum se teenboelieveldtog betrokke wil raak, kan ‘n e-pos gestuur word aan [email protected]
  • Indien jou kind sukkel met diabetes, kan Natasha Smit gekontak word by [email protected] of 076 222 2442.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Abe ·

‘n Puik artikel. Hierdie artikel behoort nie net gelees te word deur alle betrokkenes nie, maar dit behoort ook gehou te word vir naslaan en toekomstige verwysing.

Liezl ·

Ek is ‘n Tipe 1 diabeet, het dit nou wel na skool gekry, maar in die Laerskool het ek al te doen gehad daarmee met ‘n seun wat homself ingespuit het. Ek was baie besorg oor hom. Die belangrikste vir enige mens is dat hul eintlik soos ‘n diabeet moet leef. Dit is belangrik om 3 etes op ‘n dag te eet, mense ignoreer dit en ontwikkel slegte eetgewoontes. Deesdae is meer mense ingestel om gesonde kosse in te pak vir hul kinders. Die boelies is lafaards, maar dit gaan jy altyd kry. Sit hul op hul plek en maak jou Tipe 1 diabetes ‘n fees. Hulle hou nie van die ‘aandag’ wat jy kry nie en glo my jy is nie siek nie. Jy het net ‘n toestand.

honoruable member ·

Gaan kyk maar die kinders wat so boelie is baie ongelukkige kinders by die skool en by die huis so hulle moet iets doen om hulle self beter te laat voel. Kinders wat gelukkig by die huis is boelie nie.

Epilepsie-ouer ·

Kinders met epilepsie word ook geboelie. Dit was so erg dat ons besluit het saam ons kind en die sielkundige, om ons kind uit die skool te haal. Nou is sy in ñ kleiner en privaat skool en almal bewus van haar epilepsie en niemand maak ophef van dit soos die vorige skool nie. My kind is weer gelukkig.

Jan ·

My seun is n tiepe 1 diabeet van hy 1.5 jaar oud is hy is nou 4 jaar oud word nou 5. My vrou gaan skool toe elke dag 10 uur om hom te toets. Hy speel ook bulletjie rugby en hy staan terug vir niemand op daai rugby veld. Net gister was daar ouer kinders wat hom gespot het, sy ouer suster was gelukkig daar om hulle op hulle plek te sit en gelukkig vir daai kinders was ek besig om te help met die afrigting van die rugby en het eers later uitgevind oppad huis toe.
Dit is nie maklik nie my dogter het die heelpad huistoe gehuil in die kar .
Kinders is wreed sonder dat hulle dit weet.
Ek is net bly my seun het dit nie gehoor nie.

Sandy Botha ·

Dit irriteer my so om sulke goed te lees. Watter ouer maak hulle kind groot met die idee dat dit aanvaarbaar is om kinders te spot wat “anders” is??? Ek sê altyd vir my kinders om uit te kyk vir die wat alleen sit pouses, of wat niemand mee wil speel nie. Gaan knoop ‘n geselsie aan. Daardie kinders is gewoonlik die ongelooflikste mense. Hulle doen dit, en maak sulke goeie opregte vriende. Maak jou kinders reg groot – die wêreld is wreed genoeg daar buite. More gebeur so iets met jou, en dan sal jy nie weggestoot wil word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.