Die effek van egskeiding op kinders

egskeiding-SA-huweliksweek

Argieffoto.

Deur Annette van Loggerenberg

Wanneer ouers die trauma van ’n egskeiding beleef, is hulle dikwels so vasgevang in hul eie warboel van emosies, dat hulle partykeer nie ingestel is op die trauma wat hul kinders tydens en ná die egskeiding beleef nie:

Egskeiding is in die eerste plek vir kinders ’n verlies:

  • Die verlies van die daaglikse teenwoordigheid van die een ouer;
  • heel dikwels die verlies van sy/haar/hul huis en bekende omgewing wanneer die ouer wat primêre versorging het, moet verhuis;
  • die verlies van die bekende skool en daarmee saam ook maats;
  • dikwels ’n verlies van die lewenstandaard waaraan hy/sy/hulle gewoond was; en
  • ’n enorme verlies van sekuriteit omdat ouers se stabiele huweliksverhouding die belangrikste bron van sekuriteit vir ’n kind is;

Kinders worstel dikwels met die volgende emosies tydens en ná die egskeiding:

  • Skuldgevoelens: Kinders voel dikwels hulle is die oorsaak van ʼn egskeiding, veral as ouers baie konflik gehad het oor die kinders se opvoeding;
  • Vrees: Kinders worstel dikwels met gevoelens van vrees; hulle redeneer dat as die ouers kon ophou om mekaar lief te hê, hulle ook kan ophou om die kind lief te hê. Hierdie gevoelens kan versterk word indien een of albei ouers weer in ’n nuwe verhouding betrokke raak;
  • Oordrewe verantwoordelikheid: Kinders ontwikkel ook dikwels ’n oordrewe gevoel van verantwoordelikheid teenoor die ouer wat nie die primêre versorging het nie. Hierdie gevoel kan versterk word indien die ouer subtiel op die kind se gevoel speel en laat blyk hoe alleen hy/sy is;
  • Herenigingsfantasie: Kinders het dikwels ’n herenigingsfantasie en hoop die verhouding sal herstel. Dit het ook ’n impak op hul eie genesingsproses;
  • Skok: Selfs al was daar huwelikskonflik, is dit steeds vir kinders ’n skok as die ouers hulle oor die egskeiding inlig;
  • Hartseer en onttrekking: Hierdie gevoelens kan baie intensief word, veral as die kind ’n baie goeie uitgebreide ondersteuningsisteem gehad het en dit ook nou verloor;
  • Woede: Kinders praat dikwels nie oor hul woede nie, maar kan dit laat blyk in die vorm van moeilike gedrag of depressie.

My rol as ouer om my kind deur hierdie moeilike proses te help:

  • Dit is die ouer se verantwoordelikheid om die familie, vriende en onderwysers in te lig oor die egskeiding;
  • Berei kinders so goed moontlik voor op moontlike veranderinge in hul roetine/ omstandighede;
  • Kinders moet nie in ’n situasie geplaas word waar hulle emosioneel verskeurd voel omdat hulle moet kies tussen hul ouers nie; hulle moet vry wees om beide ouers steeds lief te hê;
  • Gee voorspelbaarheid aan kinders ten opsigte van kontak en besoeke aan die ouer wat nie die primêre versorging het nie. Indien dit prakties uitvoerbaar is, kan toiletware, ’n paar stelle klere en sommige geliefkoosde speelgoed, by dié ouer agterbly. Dit skep ook ’n gevoel van voorspelbaarheid en sekuriteit vir kinders;
  • Kinders behoort nooit betrek te word by konfliksituasies tussen die ouers nie. Dit moet deur die volwassenes hanteer word;

Kinders kan die egskeiding van hul ouers sinvol verwerk. Hou egter die kommunikasie tussen jou en jou kind oop en eerlik en respekteer nog steeds die ander ouer. Om die een ouer verbaal af  te kraak, dra ons die boodskap aan ons kind oor dat hulle ook sleg is.

Gee jou kinders stewige wortels: Roetine, voorspelbaarheid, tradisies wat belangrik was in julle gesin. En vlerke: onvoorwaardelike ondersteuning en aanmoediging.

As jy as ouer nie die trauma van jou egskeiding kan verwerk nie, kry egskeidingsberaad sodat jy emosioneel daar kan wees om jou kind deur die proses te help.

  • Annette van Loggerenberg is die bestuurder van Christelike Maatskaplikeraad Noord (CMR-Noord).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

WIEBO ·

Daar moet n wet ingestel word dat die ouer wat die oorsaak is vir die egskeiding, nie geregtig sal wees om onderhoud te ontvang nie. Dan sal ons sien hoeveel minder egskeidings daar in die land sal wees.

Judge Dredd ·

Dink net hoe gaan hul dan baklei oor wie nou eintlik die oorsaak van egskeiding is.

Anti-ekskeiding ·

Ek stem saam WIEBO. Gewoonlik is dit die ouer wat rondloop, of oorsaak is van die egskeiding, wat al die pad lag met nuwe liefie, en nog onderhoudsgeld ook. En die onskuldige party word gewoonlik “gemelk” vir onderhoud sodat sy en “liefie” royal kan lewe. Mens sien soveel egskeidings waar ‘n 3de party betrokke is. Die mense is siek!!!!

Anoniem ·

Ek het nog geen, maar GEEN, kind ontmoet wat nie op een of ander manier negatief geraak is deur die ouers se egskeiding nie.

nico k ·

Ek stem saam dat alle egskeidings sleg is vir die kind. Maar dan ken ek mense wat ‘n baie slegte huwelik het, maar weens verskeie redes nie geskei het nie. Dit was net so sleg vir die kinders.

M ·

My ouers het ook bymekaar gebly “vir die kinders se onthalwe”. Dit het ons baie meer skade gedoen.

Adoons ·

Suid-Afrika se sosiale weefsel is gebroke. Ek dink meeste Suid-Afrikaners, van alle rasse, sal saamstem dat ons moet terugkeer na Christelike waardes wat sentraal staan in ons reg en in ons samelewing.

Riouna Martin ·

Ek persoonlik dink die wet moet se^ as jy skei mag jy nie weer trou nie en dat ouers meer betrokke moet raak in n program wat die hele gesin behels om op n goeie voet te kom met mekaar vir die kinders. Ek het ook al gesien die meeste kinders kry baie swaar met so iets.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.