Die grootste geskenk? Speeltyd saam met jou kind

Foto: Irina Murza/Unsplash

Deur dr. Elsha Hermann

Ons, as ouers, het ons kinders ongelooflik lief. Die eerste oomblikke wat jy daardie klein, weerlose mensie in jou arms vashou, gebeur daar iets onbeskryfliks in jou hart.

Ons liefde vir ons kinders is dikwels die diepste emosionele ervaring wat ons nog beleef het. Dis nie altyd maklik om hierdie liefde aan ons kinders oor te dra nie. Tog beïnvloed ons liefde vir hulle die wyse waarop ons ons kinders opvoed, leer en met hulle ’n verhouding bou. Die tyd wat ons saam met hulle speel, ontspan en net by hulle is, versterk ons verhouding.

Ons almal het in die begin van die Desembervakansie hierdie wonderlike planne om ons verhouding met ons kinders en eggenote te bou, maar dan… gebeur die lewe. Voordat ons ons oë uitvee, is ons in ’n magstryd gewikkel en is al die goeie voornemens by die agterdeur uit. Tog moet dit ons nie keer om doelbewus gesonde, speeltyd met ons kinders te beplan en dan ook deur te voer nie.

Spesiale speeltyd met jou kind moet beplan word, ten minste 15 tot 20 min per dag. Jou kind moet betrek word oor wanneer en waar die speeltyd sal wees. Jou kind mag dan voorstelle maak vir wat om te speel. Ja, Pappa, as jy saam Barbie en Ken moet speel, dan doen jy dit vir die volgende paar minute. So leer jy ook jou dogtertjie wat ’n ware heer is. Maak dit ’n tydjie van lag en plesier. Patty Wipfler (van Hand in Hand Parenting) noem dat spesiale speeltyd met jou kind ’n aktiewe vorm van luister is, waar jou kind se spel ’n aktiewe meganisme word om jou te vertel van sy/haar lewe en persepsies.

Verwag ook die gehuil en gekerm aan die einde van die speeltyd. Dit is normaal en dit is eintlik ’n aanduiding dat jou kind die speeltyd geniet het en nog meer tyd met jou wil deurbring. Probeer om nie kwaad te word nie, maar eerder die kind se gevoelens te verbaliseer. Bou vertroue by jou kind deur te sê: “Ek kan sien jy voel baie hartseer en wil baie graag nog speel. Hierdie is my en jou spesiale speeltyd en ek wil ook graag nog met jou speel. Ongelukkig het ek nog twee takies wat ek moet doen. Môremiddag vyfuur speel ek en jy weer vir 20 minute. Jy kan nou verder speel of ek kan jou help opruim. Wat kies jy?”

Dit is dan baie belangrik dat die belofte nagekom word, anders bou ons nie vertroue by die kind nie.

’n Tweede speelpretaktiwiteit vir die Desembervakansie vir oud en jonk is om Solidariteit Helpende Hand se Desember-omgee-bingo as gesin te speel.

‘n Skermskoot van Helpende Hand se Bingo-spel vir Desember. Foto: Verskaf.

Só speel jy:

  • Laai die gratis Desember-omgee-bingo-diagram af en druk dit uit. Elke gesinslid kan hul eie vorm kry of ’n gesamentlike vorm kan vir die hele gesin gebruik word.
  • Elke gesinslid kies ’n kleurpotlood of ’n unieke teken.
  • As ’n aktiwiteit voltooi is, word die blokkie ingekleur of die gesinslid se unieke teken word op die blokkie aangedui.
  • Die gesinslid wat eerste horisontaal, vertikaal of diagonaal ’n ry aktiwiteite voltooi het, wen… Bingo!

Laat Desember ’n tyd van pret, plesier en die bou van verhoudings wees. Gee aan jou kind die nodige aandag deur te speel, te lag, te bak en te brou. Vergeet van al die geskenke vir Kersfees en gee aan jou kind die geskenk van speeltyd. Dit maak die ware verskil in jou kind se lewe en dit bou ware karakter. Die bonus van hierdie tipe geskenk – dis gratis!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.