Die Naguilklub: Aanlyn platform vir ouerskap – sonder oordeel

Suzanne Smit, Lente Swift en Juanli Theron, stigters van Die Naguilklub. (Foto: Salomien Smal)

Daar is nie ʼn handleiding vir perfekte ouerskap nie. Nietemin kan hedendaagse ouers mekaar help om dié onsekere terrein makliker te navigeer met ʼn legio beskikbare aanlyn platforms waar raad en daad uitgeruil kan word.

Een so ʼn platform is Die Naguilklub wat sowat twee jaar gelede deur drie jong ma’s en vriendinne gestig is. Hulle het tydens middernagtelike Whatsapp-gesprekke besef dat hulle die behoefte aan ʼn gemeenskap het waar daar nie oordeel gevel word oor die uitdagings en vreugdes van ouerskap nie.

Suzanne Smit, Lente Swift en Juanli Theron het daar en dan besluit om ʼn aanlyn platform te skep waar ouers vir mekaar die las van ouerskap ligter kan maak.

Die Naguilklub het spoedig gegroei en het reeds sowat 17 000 volgelinge op Facebook en sowat 6 100 op Instagram. ʼn Splinternuwe webwerf, waarop daar maandeliks ingeteken kan word, is ook onlangs bekend gestel.

“Ons skep inhoud wat geïnspireer is deur ons eie ervaringe om ander sodoende te inspireer. Ons noem dit ʼn inspirasie-stasie,” sê Theron.

“Ons wou ʼn platform skep waar ons die goeie én slegte ervaringe van ouerskap kan deel deur dit so eg as moontlik te hou. Ons probeer om met alles wat ons skryf, ʼn ‘ek ook’-oomblik te skep. Dit is ʼn veilige ruimte waarin ek as ʼn ma vir ʼn ander ouer iets kan sê wat die las dalk ʼn bietjie ligter kan maak.”

Volgens Swift het dit begin by die uitdagings waarmee elke nuwe ma worstel. “Ons het baie vinnig besef die vrese, bekommernisse en vreugdes wat jy as ouer koester nooit weggaan nie en slegs verander soos wat jou kinders groter word. Die behoefte om dit met iemand anders te kan deel en ander se stories te hoor, verander egter nie,” sê sy.

“Ons gee nie voor om kenners op die gebied van ouerskap te wees nie, maar miskien kan ek vir jou iets leer uit my ervaringe en jy vir my. Ons wil ʼn aanlyn gemeenskap wees waar jy as ouer veilig voel, waar mense by mekaar kan leer en waar jy nie al die antwoorde hoef te hê nie.”

Ouerskap sonder oordeel

Een van Die Naguilklub se Instagram-plasings.

Hulle benadruk dat dit van dag een af uiters belangrik was om ʼn platform te skep waar daar nie oordeel tussen ouers gevel word nie.

“Ons het dit van die begin af duidelik gemaak dat ons dit nie op ons platform sal duld nie. Daar is baie temas, soos byvoorbeeld borsvoeding teenoor formule melk of natuurlike geboorte teenoor keisersnee, alles wat ‘mommy wars’ kan ontketen. Ons wou ʼn platform skep waar daar ʼn skietstilstand is, waar dit nie ʼn geval is van byvoorbeeld borsmelk óf formule melk nie, maar waar albei aanvaar word omdat mense se stories en perspektiewe verskil,” sê Smit.

Om Die Naguilklub se stem te vind, moes hulle self eers onder mekaar ʼn klomp van dié gewigtige temas deurtrap en moeilike gesprekke met mekaar hê, omdat elkeen se ervaring van ouerskap verskil.

“Ons elkeen bring ʼn interessante storie na die tafel en ons het lank geoefen hoe om dialoë met mekaar te hê oor moeilike onderwerpe sonder om verdedigend te raak,” sê Smit.

Theron beaam dit. “Ons gedeelde doelwit is om dieselfde oordeelvrye boodskap wat ons uitstuur ook onder mekaar te beoefen.”

Volgens Swift het hulle in die proses ʼn kultuur van verdraagsaamheid geskep. “Mense se kultuur by Die Naguilklub is anders. Hulle lewer anders kommentaar en niemand sê mekaar sleg nie. Ons hoef selde kommentare uit te vee, maar ons sal nie skroom om dit te doen indien dit nie aan ons standaarde voldoen nie. Ons is trots daarop dat die stem wat ons oor die laaste twee jaar ontwikkel het, ʼn rol speel in die verandering van die tipografie van ouerskap in die land.”

Suzanne Smit, Juanli Theron en Lente Swift (voor) van Die Naguilklub. (Foto: Salomien Smal)

Die lede van Die Naguilklub deel nie net hul eie ervaringe nie, maar ook dié van ander ouers met merkwaardige verhale van waagmoed en hoop. Een so ʼn storie is van ʼn pa van die Strand in die Wes-Kaap wat sy twee seuns self grootmaak.

“Ouerskap is die gemene deler wat meeste mense op aarde het. Of jy Lente van Durbanville of prinses Kate van Cambridge is – ons was albei swanger. Enkelpa’s gaan byvoorbeeld deur dieselfde ervaringe as ons met kinders wat tande kry. Ons het nie aanvanklik besef hoeveel verskillende soorte ouers ons stories sal bereik nie,” sê Swift.

Swift en Theron woon albei in die Kaap terwyl Smit in Centurion in Gauteng woon. “Ek dink die genade daarvan is dat ons begin het met middernagtelike Whatsapp’s. Ons het begin deur geselsies in die middel van die nag as twee of drie van ons wakker is en een se baba koliek het of een besig is om te borsvoed. Dit was nog altyd waar ons ons beste idees met mekaar bespreek het.

“Ons het nog nooit in dieselfde dorp gebly nie, ons het nog nooit dieselfde kantoorure gehad nie en het mekaar nog nooit op ʼn daaglikse of weeklikse basis kon sien nie. Ons het gegroei uit konstante kommunikasie,” sê Theron.

“Hierdie is hoe ons werklik leef. Ons bak nie net mooi broodjies nie. Ons maak seker ons hou mekaar aanspreeklik en ons het die moeilike gesprekke, want ons wil Die Naguilklub volhoubaar hou. Al hoe ons dit kan doen is om seker te maak ons is almal ten alle tye op dieselfde bladsy,” voeg Smit by.

Besoek die webwerf om maandeliks teen ʼn tarief van slegs R35 aan te sluit by Die Naguilklub. Besoek ook die Facebook-bladsy en Instagram-profiel.

Deur in te teken op die webwerf staan jy die kans om een van twee ongelooflike pryse te wen. Klik hier om in te teken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.