Die perfekte getal kinders in ’n moderne gesin

(Foto: Nathan Dumlao/Unsplash)

Deur Charlotte Fourie

Ek het nog altyd geweet dat ek ‘eendag as ek groot is’ ‘n huis propvol kinders wil hê – beslis meer as drie was op skool al my doelwit – ekself is die middelkind, maar dít is ʼn ander onderwerp vir ‘n ander artikel. Vandag is ons die ouers van drie “opmekaar”-woelwaters: ʼn tweeling (ʼn seun en ʼn dogter) van amper drie en ʼn nog ʼn seuntjie van amper twee. In ‘n stadium in ons lewe – dankie tog dit is ʼn tyd wat ek glad nie goed kan onthou nie – was daar drie kinders jonger as 16 maande in ons sorg.

Indien iemand ons voor 2018 sou vra hoeveel kinders ons eendag wil hê, was my onmiddellike antwoord: ses! Christopher, my man, sou laggend sy kop skud, maar tog ook hoop dat ons eendag die huis propvol asempies kan vul. Vandag, waar slaap vir ons baie lekkerder as ʼn vakansie by die see is, sou ek dalk nie meer so ‘n entoesiastiese “ses”-antwoord gee nie. Om die een of ander rede vra mense nie meer of ons nóg kinders wil hê nie. Almal neem sommer aan dat ons nou genoeg het …

Het jy ook ‘n grootouer wat een van vyf tot tien kinders was?

Hoekom verkies ons minder kinders?

Deesdae is die gemiddelde Afrikaanse jongmens se fokus ná skool beslis nie meer om so gou as moontlik te trou en kinders te hê nie. Paartjies wat wel voor 30 trou, gebruik hul jare in hul twintigs eerder om aan hul huwelik te skaaf, huis te koop, die wêreld te sien en hul professionele doelwitte te verwesenlik. Die meeste jong paartjies wil in dié tydperk eers finansieel onafhanklik wees, voordat hulle die groot stap tot ouerskap neem. En wie kan hulle oor so ‘n siening verkwalik? Ouers kan verwag om gemiddeld tussen R1 000 en R2 300 maandeliks per kind vir ‘n standaard dagsorg- of voorskoolsentrum te betaal – ‘n noodsaaklikheid in ‘n huishouding met twee werkende ouers; en Wet Wipes is beslis nie so goedkoop soos wat dit eens was nie. Die finansiële implikasies van ‘n gesin met “meer kinders as ouers”, is ‘n belangrike faktor wanneer ouers besluit oor hoe groot hul gesin moet wees.

Gesinne met een kind

‘n Gesin met een kind lyk deesdae baie aanloklik. Ondanks die ekonomiese voordele en die groter kapasiteit van ouers om intensiewe emosionele aandag aan ʼn enkelkind te gee én nog tyd te hê om hul huwelik op dreef te hou, het navorsing talle uitdagings in enkelkindgesinne blootgelê.

Bewyse word voorgelê dat die gemiddelde enkelkindgesin baie minder gesond eet as groter gesinne (kan jy dit glo?). Ouers van enkelkinders bestee die meeste van hul tyd en aandag aan een kind en dit het soms oorbeskermde ouers en selfsugtige kinders tot gevolg. Hierdie ouers voel ook meestal dat hulle konstant vir die kind se vermaak verantwoordelik is; die kind leer dalk nooit om hom- of haarself deur alleenspel besig te hou nie. ‘n Gesin met net een kind blyk daarom nie noodwendig die perfekte opsie te wees nie.

Gesinne met twee kinders

“Ag lekker, nou is julle seker klaar!” was die algemene reaksie op die nuus dat ons ‘n tweeling van beide geslagte verwag. ‘n “Pigeon pair” is mos die sogenaamde pot goud van kinders kry. Ons was nooit regtig seker hoe om op dié opmerkings te reageer nie. Is ouers wat met die eerste twee probeerslae kinders van beide geslagte het, dan beter of gelukkiger as ander?

Kinders smag na ‘n boetie of ʼn sussie van dieselfde geslag – ‘n vriend en vertroueling wat lewenslank ‘n pad saam met hulle kan stap. Ouerpare smag dikwels ook na ‘n kind van hul eie geslag. Met net twee kinders gaan óf een van die ouers óf die kinders “ietsie” misloop. Meestal hoef twee kinders ook nie ‘n kamer te deel nie en word goeie vaardighede soos spanwerk nie maklik gekweek nie. Net twee kinders is dalk ook nie die perfekte getal kinders vir ʼn gesin nie.

Is drie kinders dan die ideale getal?

“Een om die pa te vervang, een om die ma te vervang en een om die nasie te bou …”

Op die oog af is drie kinders ‘n baie praktiese getal: jy hoef nie ‘n nuwe voertuig te koop nie; jy behoort nie te lank besig te wees met die betaling van skoolgeld nie en ‘n standaard, bekostigbare drieslaapkamerhuis is heeltemal voldoende vir ‘n gesin van vyf. ‘n Derde kind het egter ‘n groot impak op ‘n gesin: skielik is daar meer kinders as ouers en meestal kry een kind nie persoonlike aandag by ‘n ouer óf ‘n boetie óf ʼn sussie nie. Vakansietye raak óók ‘n uitdaging: vakansiepakkette vir gesinne van vier is algemeen beskikbaar en die meeste vakansieoorde het slaapplek vir gesinne van vier – maar nie vyf in een huisie nie; ‘n enkeltafel in ‘n restaurant is ook nie meer groot genoeg vir ‘n gesin van vyf nie en kelners moet skarrel om die tafeluitleg aan te pas om jou gesin tegemoet te kom.

ʼn Matriekseun, wat twee broers en een suster het op ʼn dag vir my as sy onderwyseres gesê: “Juffrou, ‘n kind moet ‘n boetie én ‘n sussie hê”.

Ek stem saam – ek het ook ‘n boetie en ‘n sussie, maar my boetie het ongelukkig net twee sussies. Die verhouding tussen broer en suster het ‘n groot impak op ons verhoudings met vriende van die teenoorgestelde geslag. In ‘n gesin van drie kinders, sal slegs twee uit die drie hierdie voordeel geniet. Dit wil daarom voorkom asof ‘n “klein” gesin dan ook nie perfek is nie.

Groot gesinne

Vir gesinne met vier of meer kinders, is dit omtrent ‘n storie om net by die huis uit te kom, om nie eens te praat van die ander hindernisse nie: ʼn mens het gereeld hande vol kospakkies, skooltasse, leë koeldrankbotteltjies en vuil sneesdoekies; en benodig ‘n nuwe, ordentlike wasmasjien en tuimeldroër om al die hope wasgoed daagliks te was; ‘n groter motorhuis moet vir die nuwe voertuig (verkieslik ʼn kombi) aangebou word om almal op een slag te kan karwei. Ouers benodig dan natuurlik ook ‘n persoonlike assistent om hulle deurlopend te herinner wáár die kinders wánneer moet wees. Om dan ook nie eens te praat van die groot yskas om al die brood en melk vars te hou nie!

Assistent, yskas, wasmasjien en kombi eenkant gesit – ouers van groot gesinne is dit eens dat hul grootste uitdaging is om aan die fisieke én emosionele behoeftes van al hul kinders te voldoen. Daarmee saam moet hulle as ouerpaar probeer om genoeg tyd aan hul verhouding as ma en pa te bestee. Om ʼn balans tussen konsekwentheid en regverdigheid te handhaaf, is aansienlik moeiliker wanneer jy dubbel soveel kinders as ouers in ʼn gesin het. ‘n Groot gesin blyk daarom ook nie altyd die perfekte opsie te wees nie.

Charlotte Fourie is ’n dosent aan die Wolkskool. (Foto: Verskaf)

Wat is dan die perfekte getal kinders vir ‘n gesin?

Klein gesinne, groot gesinne, gesinne met net een kind? Saamgestelde gesinne met stiefbroers en -susters, gesinne met aangenome kinders en gesinne met ‘n enkelouer – elke samestelling het talle voordele en ook unieke uitdagings vir ouer én kind.

Maar, “ as die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk dié wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” (Psalm 127:1)

Die perfekte getal kinders vir ‘n gesin word deur ons Hemelse Vader bepaal. Maak Hom deel van jou gesinsbeplanning en sien hoe jy die perfekte getal kinders sal hê.

  • Hierdie artikel is aangepas en het eerste verskyn in Die Boodskapper van Maart 2021. Lees hierdie tydskrif hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gerhardus

Om te sê dat die Here bepaal hoeveel kinders elke gesin moet hê, maak van Hom ‘n onregverdige God wat met mense se lewens speel.

Daar is ouers wat hulle kinders seksueel gemollesteer het, ander het hulle kinders vermoor en daar is mense sonder kinders, wat smag na kinders en goeie ouers sou wees. Wil jy vir my sê ‘n liefdevolle en regverdige God speel so rond met mense se lewens en gevoelens?

Wielspore

Vir ons het die getal 3 mooi gewerk, die oudste twee was beste vriende van kleins af, die laat lammetjie is deur almal bederf en almal het gehelp grootmaak.
Ek dink nou terug hoe hulle al drie soggens vroeg by ons in die bed kom klim het totdat die bed te klein geword het.
Kosbare tye.

Marcello

My Vader was een van 11 kinders, my Moeder was een van 5 kinders, my swear is een van 8 kinders, en ek is 1 van 6 kinders, waarvan net ek nog leef.……

ABDP

Baie goed gesê, daar is nie iets soos “perfek” getal gesin nie. As die ouers God vertrou as hul vennoot in die huwelik, sal dit ‘n gesonde gesinslewe inhou en ‘n veilige hawe skep. ‘n Gesonde gesins lewe is waarna gestrewe moet word, nie die perfekte getal nie.

Jacques

Ek het op die rype ouderdom van 11, en vir geen spesifieke rede nie, ‘n bewustelike besluit geneem om nooit kinders te hê nie. So, 46 jaar later het ek toe geen kinders nie… en ook nie ‘n Ferarri nie.