Die waarde van goeie sig

kind_lees_bril.jpg

Foto: visionbeyond2020.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Tot 80% van dit wat ’n kind leer, is visueel – dink maar aan lees, skryf, werk van die swartbord afskryf en rekenaargebruik. Dit beteken dat goeie gesigsvermoë noodsaaklik is. As ’n kind nie goed kan sien nie, kan sy opvoeding daaronder ly.

Oogprobleme waarvan niemand bewus is en wat nie behandel word nie, kan laat of stadige ontwikkeling van leesvermoëns en swakker akademiese prestasie tot gevolg hê, en selfs daartoe lei dat mense aanneem dat kinders aan aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) ly aangesien probleme met sig soortgelyke tekens en simptome as dié van AGHS kan veroorsaak.

Sig speel ook ’n belangrike rol in sport. Of jy ’n bal in die tuin rondskop of aan spansport op skool deelneem, elke aktiwiteit het unieke visuele vereistes en uitdagings. Spesifieke  gesigsvermoëns wat vir sport benodig word, sluit in duidelike afstandvisie, goeie dieptewaarneming, ’n wye gesigsveld en doeltreffende hand-oog-koördinasie. Kinders met ongediagnoseerde gesigsprobleme kan maklik gefrustreerd raak as hulle herhaaldelik onderpresteer in sport.

In ander ontwikkelingsvelde, soos om emosionele seine te verstaan, is goeie sig ook belangrik. Gesigsuitdrukking is ’n belangrike manier om jou bui of bedoelings te kommunikeer, en kinders met swak sig kan sukkel om die fynere besonderhede wat met emosionele konteks verband hou, te herken.

Ongelukkig sal die meeste kinders met swak sig nie enige simptome aanmeld nie, want hulle dink dat almal dieselfde sien as wat hulle sien. Juis daarom is dit belangrik vir ouers (en onderwysers) om op te let na tekens wat op swak gesigsvermoë kan dui, en om gereeld kinders se oë te laat toets. Kenners beveel aan dat kinders op die ouderdom van drie hul eerste omvattende oogtoets ondergaan. Daarna moet hul oë elke twee jaar getoets word, tensy ’n spesialis anders aanbeveel.

Tekens wat op ’n sigprobleem kan dui, sluit in:

  • Vryf oë gereeld of knip dit baie
  • Kort aandagspan as dit by visuele take kom
  • Vermy leeswerk en ander naby aktiwiteite
  • Hou leesmateriaal baie na aan die gesig
  • Lees stadig en het swak begrip van wat gelees word
  • Gereelde hoofpyne
  • Draai of hou kop skuins om slegs een oog te gebruik/bedek een oog
  • Een oog draai na binne of buite
  • Sien dubbel
  • Sukkel om vorms te onthou, uitken of nateken
  • Swak hand-oog-koördinasie

As jou kind swak presteer op skool, met sport sukkel of gereelde uitbarstings het, moenie net aanvaar dat hy ’n gedragsprobleem of leerhindernis het nie – hy kort moontlik net ’n bril!

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.