Dink só oor avontuurkampe

Foto ter illustrasie. (Foto:
Anna Samoylova/Unsplash.)

Die tragiese verdrinking van Enock Mpianzi, en die bekendmaking van ʼn verslag oor die voorval, het opnuut die kollig op skoolkampe laat val. Daar word nou talle kritiese vrae gevra oor die veiligheid, toesig en beheer, asook die sinvolheid van hierdie soort kampe.

Maroela Media het met prof. Herman Bodenstein, ʼn opvoedkundige sielkundige, gesels oor wat die voordele van kamp is en hoekom ʼn mens dan in die eerste plek sou kies om ʼn leerder of student op so ʼn avontuurkamp te stuur.

“Die kampe is eintlik niks anders as ʼn verlengstuk van die skool nie. Hierdie is net nog ʼn geleentheid vir ʼn leerder om gevorm te word. Dit is ʼn plek waar karakter gebou word, kommunikasievaardighede verbeter word en emosionele- en leierseienskappe ontwikkel kan word.

“Dit bied ook ʼn gestruktureerde veilige, vriendelike en natuurlike omgewing waar leerders die geleentheid het om uit ʼn omgewing weg te breek wat nie positief is nie, of selfs milieugestremd is,” het Bodenstein, wat ook dikwels konsultasiewerk vir eienaars van skoolkampterreine doen, aangevoer.

Hy meen ook dié soort kampe kan in die toekoms selfs ʼn al hoe belangriker plek inneem omdat kinders dikwels nie meer in hul eie omgewing die geleentheid het om die natuur te ontdek nie.

“Jy weet, sommige kinders het nog nooit in hul lewe ʼn lewende kameelperd of olifant gesien nie.”

Bodenstein meen egter dit is ouers en onderwysers of skoolbeheerliggame se reg om vrae te vra oor sekere van die aspekte by so ʼn kamp.

“Ouers moet vra oor hul kind se veiligheid en die veiligheidsmaatreëls by die kamp. Hulle moet ook pertinent vra oor die seksuele veiligheid van hul kind en hoe die slaapgeriewe by die kamp ingerig is. ʼn Ouer kan selfs vra hoe skoon die kampterrein is, en of die kamers vry is van luise – dit is hul reg en verantwoordelikheid.”

Hy het verder gesê die skool moet daarop aandring om die kampterrein te besoek en hulself te vergewis van presies hoe die terrein lyk.

Bodenstein maan ook dat die organiseerders van hierdie kampe veral versigtig moet wees as daar wateraktiwiteite by hierdie soort kampe aangebied word.

“Kinders en ouers vul gewoonlik ʼn vorm in waarin hulle moet kan sê of hulle kan swem of nie, maar daar is natuurlik verskillende vlakke van hoe goed ʼn leerder wel kan swem. Dit is waarom dit dan ook uiters belangrik is om kundige instrukteurs aan diens te hê wat die aktiwiteite kan monitor, of watersport dalk eerder heeltemal te vermy.”

Volgens Bodenstein het die tragiese dood van Mpianzi die bedryf beslis laat besin oor hoe hulle hul aktiwiteite by hierdie kampe aanpak.

“Ek kan vir jou met die grootste vrymoedigheid sê die meeste van hierdie organisasies staan oop vir hulp en monitering. Daar is soveel organisasies en mense wat hierdie terreine kan help om die gehalte van hul instrukteurs en kampterreine na te gaan,” het Bodenstein bygevoeg.

“Die vennote wat almal betrokke is by die aanbieding van ʼn avontuurskoolkamp moet almal om ʼn tafel gaan sit – en dit sluit die regering op nasionale en provinsiale vlak in – om saam met die onderwyssektor en kampbestuurders te dink oor hoe ons veldskole van internasionale gehalte kan aanbied.

“Daar moet ook verdere navorsing oor dié soort skole gedoen word, soos veiligheid, want ons kan nie net die heeltyd staan en vure doodslaan nie.”

  • Herman Bodenstein, ʼn opvoedkundige sielkundige, het met Maroela Media gesels oor avontuurkampe. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Met ‘n avontuur kamp vir kinders bring jy jong mense met verskeie vlakke van ervaring en kennis bymekaar. Party kinders is “street wise” en stede is gewoonlik speelvelde, winkel sentrums, flieks, yskaats bane ens. Dan is daar die plaasjapies wat kaalvoet loop, gewoond is aan fisiese werk, het van kleins af geleer swem. Dan is daar kinders wat in shacks woon wat min tot enige ervaring het. Sit die klomp bymekaar by ‘n avontuur kamp het die leiers van die kamp ‘n groot verantwoordelikheid. Hoe weet jy watse ervaring elke kind oor beskik. Deel kinders in groepies op met ‘n variasie van ervaring in elke groep. elke groep het ‘n leier wat na sy kinders omsien, klein getalle per groep. Die inleiding en opdeling van ‘n kamp bepaal die sukses van so ‘n geleentheid.
Kinders is kosbaar.

Simon ·

Hoe groot, klein, sterk, slim of dalk gestrem of gerem jy is bepaal nie wie jy regtig is nie. ‘n Avontuurkamp wat reg benader word help ‘n kind om onbewuste talente en vaardighede te ontdek. Ons het al gestremde kinders met ondersteuning deur dieselfde bane gevat wat ander kinders soms moeilik vind. Vir enige kind word moeilik makliker en VEILIGER as hulle rustig verduidelik word wat die doel uitkoms sal wees as dit goed beplan word en daar goeie samewerking in die klein groep is. Elke kind moet ontwikkel word en nie getoets word nie. Kinders ontdek hulle vaardighede en oorwin verse op ‘n ontspane manier. Die stresvole wereld waarin ons leef moet nie op ‘n kamp ‘n verlengstuk wees van die wereld waarin hulle elke dag is nie. Goeie reels, orde en respek teenoor mekaar bring baie gou rustigheid onder die kinders. Die “moderne” wereld rem soms kinders en eenvoud is nodig om regtig die diversiteit van die natuur en jouself te ontdek.

Andre ·

Enock Mapianzi se tragiese verdrinking is ongelukkig deur die media en die owerhede so hanteer, dat alle Skole, Hoofde, Onderwysers en Avontuurkampe wat se bedoeling is om die beste moontlik vir die kind te bied, onder geweldige spanning is. Natuurilk moet ALLES op die REGTE manier gedoen word, maar vir die GOEIE werk wat deur skole en onderwysers gedoen word is daar MIN erkenning. Kampe en selfs sportbyeenkomste[interhoër-bywoning ] word afgestel omdat Hoofde net nie kans sien vir die ouers en die dep se negatiewe, soms aanvallende gesindheid nie. Die UITEINDE is die KINDERS word benadeel. Ek is self betrokke by n Avontuurkamp vir 25 jaar en na amper 300000 kinders was daar slegs EEN ernstige besering. {GROOT GENADE} Baie minder as wat by huise en op vakansies seerkry omdat daar toesig is . Dit is REG dat ouers en dep BEKOMMERD is en SEKER maak, maar gee asb ook erkenning aan die onderwysers wat bereid is om kinders op kampe te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.