Dink twee keer oor vrygeboorte

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Vrygeboorte, of sologeboorte, is ʼn geboorte waar byvoorbeeld die man, lewensmaat of ander ondersteuningspersoon soos ʼn vriendin, sonder enige mediese kennis, die vrou tuis help om geboorte te gee. Daar is ook tydens ʼn sologeboorte geen mediese personeel, soos ʼn vroedvrou of ginekoloog, op bystand nie.

Volgens prof. Mariatha Yazbek, professor in Verloskunde in die Departement Verpleegkunde van die Universiteit van Pretoria, is daar verskeie redes waarom vroue vandag sologeboortes verkies. Die tarief van ʼn vroedvrou of ginekoloog is nie altyd haalbaar nie.

“Vroedvroue en ginekoloë se koste in die privaatsektor kan geweldig hoog wees. Daar is ook die probleem van hospitaalpersoneel wat oorlaai is. Vroedvroue kan baie besig raak omdat hulle na meer as een mamma moet omsien wat daartoe kan lei dat daar nie tyd is vir die liefde en aandag wat ʼn nuwe mamma verlang nie,” verduidelik Yazbek.

“Geboortes in private hospitale is geneig om gemedikaliseerd te wees wat meestal lei tot onnodige keisersneë. Die mamma word dikwels nie toegelaat om na haar liggaam te luister nie. Sy word aangemoedig om in die bed te bly en kan dus nie die beste posisies inneem tydens kontraksies nie. Haar reg van vrouwees word ontneem” sê sy.

“Sommige hospitale, veral staatshospitale, laat ook nie pa’s of lewensmaats toe tydens die bevalling nie, wat verder bydra tot paartjies se besluit om eerder tuis geboorte te gee. Die hoë voorkoms van hospitaalinfeksies is natuurlik vererger deur die Covid-19-situasie. Die Covid-19-situasie word as verdere verskoning gebruik deur medici en hospitale om mammas te verplig om getoets en daarna onmiddellike, onnodige keisersneë te moet ondergaan. Die pa of ondersteuningspersoon moet ook dikwels dadelik die perseel verlaat ná die operasie.”

Volgens Yazbek oorweeg paartjies ook vrygeboortes om die intimiteit van hulle verhouding na ʼn nuwe vlak te voer. “Soms het ʼn lewensmaat meer as een kind se geboorte beleef en besluit die paartjie dan dat die lewensmaat genoeg ervaring opgedoen het om alleen die geboorte te kan behartig.”

Yazbek sê egter dat sy nie vrygeboorte sal aanbeveel of aanmoedig nie, aangesien die kans bestaan dat iets tydens die bevalling kan skeefloop, al is dit hoe gering.

“Indien dinge skeefloop, kan dit lelik en geweldig vinnig skeefloop,” benadruk sy. “Die grootste komplikasies tydens ʼn sologeboorte is dat die baba kan ophou asemhaal, die naelstring kan om die nek gedraai wees, die baba kan vassit in die geboortekanaal of die moeder kan akute bloeding ervaar as gevolg van ʼn plasenta wat verkeerd ingeplant het, of ʼn baarmoeder wat nie saamtrek nie. Daaraan sal ʼn ondersteuningspersoon sonder mediese kennis en toerusting weinig tot niks kan doen nie.”

Vroue kan hulself binne ʼn paar minute doodbloei indien die bloeding nie onmiddellik gestop word nie. ʼn Ervare vroedvrou en ʼn watergeboorte kan ook erge vaginale skeuring verhoed.

Die meeste paartjies wat vrygeboorte kies, raadpleeg ook nie ʼn ginekoloog of ander mediese kenner tydens swangerskap om voor die geboorte seker te maak dat die baba gesond is nie.

“Paartjies wat vrygeboorte kies, het gewoonlik uit die staanspoor die opvatting dat niks sal skeefloop nie. Hoewel dit grotendeels die waarheid is vir lae risiko swangerskappe, met ander woorde swangerskappe van vroue wat geen chroniese siektes of ander mediese probleme het nie, bestaan die moontlikheid steeds dat enigiets op enige gegewe tyd tydens die bevalling kan skeefloop.”

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Yazbek sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se riglyne dui egter daarop dat agt besoeke aan ʼn opgeleide verloskundige (vroedvrou en/of dokter) deur die loop van ʼn swangerskap aanbeveel word.

“Dit is ook belangrik om op 24 weke van die swangerskap ʼn anatomiese sonar te laat doen om seker te maak die baba se basiese ontwikkeling is goed en dat die plasenta gesond is. Hoewel dié besoek gemoedsrus aan ouers kan verskaf, is daar steeds geen waarborg dat alles tydens die bevalling goed sal verloop nie. Die baba kan in die verkeerde posisie lê of nie korrek omgedraai het nie en dit kan ʼn mens eers tydens die bevalling agterkom.”

Yazbek beveel ook aan dat ʼn vroedvrou teenwoordig moet wees tydens die bevalling, of dat mediese hulp soos dié van ʼn ambulans of paramedici wat buite die deur wag, beskikbaar moet wees ingeval ʼn vroedvrou nie beskikbaar is nie.

“Ek beveel ook ten sterkste aan dat die vroedvrou besoek word tydens die swangerskap om seker te maak dat daar geen risikofaktore soos hoë bloeddruk is nie. Die vroedvrou moet bereid wees om tydens die bevalling teenwoordig te wees of in ʼn nabye vertrek waar sy onmiddellik beskikbaar kan wees indien daar enige komplikasies onstaan. Sy sal mediese toerusting saamneem na jou huis en kan byvoorbeeld met nageboortebloeding roetinemedisyne toedien wat volgens die WGO en Suid-Afrikaanse riglyne voorgeskryf word.”

Volgens die 2017 “Saving Mothers”-verslag het keisersneë ʼn hoër risiko van ongeveer 300% om die dood van ʼn ma tot gevolg te hê as ʼn natuurlike, normale geboorte. Aangesien private ginekoloë in Suid-Afrika geneig is om ʼn keisersnee as roetine prosedure aan te beveel, of induksies te doen voor die verwagte datum wat tot ʼn noodkeisersnee kan lei, verkies Yazbek ʼn vroedvrou vir lae risiko mammas voordat sy ʼn ginekoloog sal aanbeveel.

“Maak seker jy doen jou huiswerk om die regte vroedvrou te kies. Maak seker dat die betrokke vroedvrou binne haar bestek van praktyk werk en nie mammas tuis help wat eerder in die hospitaal moet kraam byvoorbeeld as gevolg van ʼn vorige keisernee of tweelinge nie.”

Aktrise se geboorteverhaal

Die akteurspaar Jay Anstey en Sean-Marco Vorster het hulle verhaal oor vrygeboorte op sosiale media gedeel. By Jay is die skattige Ayla. (Foto: Instagram/Jay Anstey)

Die akteurspaar Jay Anstey en Sean-Marco Vorster wat albei in die MNet-telenovelle Legacy te sien is, het onlangs op sosiale media gedeel dat hulle babadogtertjie deur middel van vrygeboorte in die lewe gekom het.

Anstey het onlangs die verhaal van die geboorte op sosiale media gedeel en haar volgelinge het haar geprys vir haar dapperheid.

Yazbek benadruk egter dat vrygeboorte nie aangemoedig behoort te word nie en dat ʼn mens nie emosionele besluite oor ʼn geboorte moet neem nie.

“Sodra ʼn bekende persoon ʼn persoonlike verhaal deel, word dit heel dikwels uit verband geruk, maar dit is uiters belangrik om te onthou dat elke mamma, baba en swangerskap verskil. Jy kan jouself nie meet aan die ervaring van ʼn bekende aktrise of eie vorige geboorte nie. Doen intensiewe navorsing oor vrygeboortes en maak seker van plaaslike en internasionale statistieke oor vrygeboortes en die risiko’s daaraan verbonde voordat jy dit waag. Daar is heelwat geboortes wat plaasvind in ver afgeleë gebiede of waar die mammas is nie betyds is vir mediese hulp nie. Die moederlike en baba sterftesyfer is egter onrusbarend hoog.”

Anstey se storie begin waar sy vertel dat geen dokters of vroedvroue teenwoordig was tydens die geboorte van haar babadogtertjie, Ayla, nie.

“Ek het 01:00 op ʼn reënerige 6 Desember wakker geword van my water wat breek. Intense kontraksies het dadelik begin en Sean-Marco het saam met my begin om die geboortebad op vul.”

Sy en Sean-Marco, wat ook die rol van Nico Malan in die kykNET-reeks Alles Malan vertolk, het saam in die geboortebad geklim, vertel sy.

“Op ʼn stadium het my ma by my kom sit en my ondersteun. Soos wat die ure verbygegaan het, het ek in ʼn soort beswyming geraak en gefokus op asemhaling en om kalm te bly. Ek het gevoel hoe sy in die geboortekanaal inbeweeg en hoewel dit moeilik was, het ek nie gedruk nie, ek het net asemgehaal.”

Ná tien uur van ongelooflike pyn het Anstey gevoel haar baba is gereed om te kom. “Ek het vir drie kontraksies lank gedruk en Sean-Marco het ons babadogtertjie in die lewe ontvang. Sy hande was die eerste om haar aan te raak en die enigste gesigte wat sy gesien het, was dié van haar familie. Sy het gehuil en ons het haar lewenstekens nagegaan en sy was gelukkig en perfek. Alles wat ek wou hê vir haar. Haar perfekte geboorte.”

Haar plasenta het egter nie uitgekom nie en sy moes drie uur later na die hospitaal gehaas word om die plasenta chirurgies te laat verwyder. “Ek was nie ontsteld daaroor dat ek in die hospitaal beland het nie, want ek het vir ons kleinding die geboorte gegee wat sy verdien. Sou ek vrygeboorte weer oorweeg? Ja, 100%,” het Anstey gesê.

Daar is natuurlik ook ander opsies as ʼn koue, onpersoonlike hospitaal, sê Yazbek. Vroedvroue kan mammas tuis of in hulle eie fasiliteite help wat medies toegerus en tog ʼn warm huislike atmosfeer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Dis rerig dom. Selfs 3000 jaar gelede het hulle genoeg “sense” gehad om ‘n vroedvrou te vra om by te staan ingeval iets fout gaan. As die baba “brug” het jy iemand nodig om hom reg te draai voor hy uitkom. Jy kannie dan op Youtube gaan kyk hoe om dit te doen nie, jy moet WEET.

Stofdonkie ·

Bitter dom van die aktrise en haar akteur-man. Sy reken nie baie mans kan doen wat haar akteurtjie gedoen het nie, uhmmmm nee, jy is heeltemal reg, want ander mans het die nodige intelligensie om te weet om hospitaal dinge in die hospitaal te doen. Hierdie 2 narre sou hulle self nooit kon ophou verwyt sou daar iets verkeerd geloop het nie. Kom nou mense, moet tog netnie nou dom wees en dink dit was oulik nie.

JouPa ·

Ek is 100% vir geboorte tuis, maar dis altyd beter om iemand by te hê wat kan help as daar iets skeef gaan. En dit sal nog steed goedkoper wees as om in hospitaal geboorte te gee, en jy word nie van jou regte as persoon en ouer ontneem nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.