Dissipline sit nie stil nie

Mariesa Candiotes. (Foto: Verskaf)

Deur Mariesa Candiotes

Die daarstel van riglyne vir dissipline in ʼn aanlyn leeromgewing is ʼn heel nuwe uitdaging wat onderwysers ervaar. Dit strek veel verder as om net die leerders tydens onderrig stil te hou; daar het ander uitdagings ontstaan (wat juis die dissipline van ʼn aanlyn klaskamer beïnvloed).

Onderwysers word nou met uitdagings gekonfronteer soos kontrole rakende bywoning, kleredrag tydens ʼn aanlyn klas, die feit dat leerders hul kamera kan aan-en afskakel, deelname en om nie tydens onderrigtyd te eet of te drink nie.

Daar moet egter in gedagte gehou word dat dissipline nie beteken leerders moet doen en maak soos die onderwyser sê nie – daardie “sit-stil-bly-stil-kultuur”. Ons as onderwysers is soms die fasiliteerder van onderrig en soms die bron van onderrig. Die onus rus op ons as onderwysers om te weet wanneer om as die fasiliteerder en wanneer om as die bron van onderrig op te tree, juis omdat dissipline nagevolg word.

Die kernkonsepte wat tot ʼn suksesvolle en gedissiplineerde leeromgewing bydra, is:

  • Roetine

Daar moet roetine in plek wees. Roetine in enige leeromgewing bewerkstellig vir ʼn leerder geborgenheid.

  • Gereelde kommunikasie en terugvoer

Wat ʼn deursigtigheid daarstel t.o.v. wat verwag word en watter take, opdragte ens. voltooi moet word.

  • Kontrole

Dissipline binne ʼn aanlyn leeromgewing word suksesvol deur middel van kontrole geïmplementeer. Leerders moet eienaarskap van hul werk neem, beplanningsvaardighede aanleer en selfgerigte leer kan toepas.

  • Verantwoordelikheid

Ouers, sowel as die leerder en die onderwyser, neem verantwoordelikheid vir hul aandeel in die daarstel van ʼn leerkultuur wat gekweek word.

  • Samewerking en motivering

Hierdie is besonder belangrik, aangesien daar slegs genoegsame dissipline in ʼn aanlyn leeromgewing sal geskied indien daar samewerking tussen die verskeie mikro- en makro-omgewings bestaan (die skool, onderwyser, leerder en ouers).

  • Beplanning

Aanlyn leeromgewings verg sorgvuldige beplanning, soos lesbeplanning, watter hulpbronne daar gebruik gaan word, en watter onderwerpe hulself daartoe leen om as groepbesprekings te dien. Leerders moet ook beplan. Die rooster moet vooraf besigtig word, boeke moet vooraf in volgorde van gebruik reggesit word, hulle moet weet hoe lank pouse is en watter klasreëls geld. Verder moet leerders weet hoe om die leerplatform te gebruik, en hoe om die kamera en mikrofoon aan- en af te skakel. Dit alles sluit by die nodige beplanning aan wat tot aanlyn leer se sukses bydra.

(Foto: J. Kelly Brito/Unsplash)

Aanlyn leeromgewings het ongelukkig ook nadele tot gevolg wat tot ʼn gebrek aan dissipline lei:

  1. Leerders is geneig om uit te stel en werk nie dadelik te voltooi nie.
  2. Leerders voel geïsoleerd, aangesien die sosiale aspek wat tog deel van ons menswees vorm, ontbreek; vernaam in hul portuurgroep.
  3. Die gevoel van “behoort” word nie noodwendig by leerders ervaar nie.
  4. Dan bestaan daar ook die moontlikheid van ontbrekende tegnologiese vaardighede van onderwysers of leerders wat die leerproses verder kan verhinder.
  5. Die beskikbaarheid van genoegsame data vir toegang tot die aanlyn platform kan ook ʼn probleem wees.

Deur om ʼn aanlyn leeromgewing gedissiplineerd te bewerkstellig, word waardevolle sagte vaardighede aangeleer. Maak groepwerk dus deel van die aanlyn leeromgewing deur van “wegbreekkamers” (breakout rooms) gebruik te maak. Bekamp dus die moontlikheid dat leerders geïsoleerd voel en kweek ʼn kultuur van samewerking.

Dis belangrik dat ons moet besef dissipline word deur roetine bevorder, deur duidelike kommunikasie, asook om ʼn kultuur van samewerking te kweek, tesame met die motivering van leerders. Studies toon dat slegs 2% van volwassenes wat vir ʼn aanlyn kursus registreer daardie kursus binne die gegewe tyd voltooi. Dit is dus belangrik dat ons van vroeg af ʼn gedissiplineerde en suksesvolle aanlyn leerkultuur kweek.

  • Mariesa Candiotes is ʼn dosent aan die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.