Dood of besering van ’n kind by die skool. Wat sê die reg?

Argieffoto

Deur Lichel Helmchen

Ouers vertrou dat hul kinders veilig by die skool is, maar die tragedie by die Laerskool Bekker (waar ʼn 13-jarige leerder verdrink het); die tragedie by Hoërskool Driehoek (waar ʼn loopbrug ineengestort het); die dood van die vyfjarige Michael Komape, wat by die skool in ʼn puttoilet geval het; en die dood van Enock Mpianzi, wat tydens sy skool se wateraktiwiteite verdrink het, wys dat leerders wél tydens skoolure ernstig beseer kan word – of selfs sterf.

Is ouers egter geregtig op enige vergoeding vir emosionele skok wanneer sodanige ramp hulle tref?

Die reg het eise gebaseer op emosionele skok nog altyd met groot omsigtigheid hanteer, waarskynlik omdat alle mense op een of ander stadium trauma beleef en hartseer of trauma nie as algemene reël gedingsvatbaar behoort te wees nie. ʼn Vrees vir onbeperkte aanspreeklikheid van ʼn dader (soos ʼn skool) het ook bygedra tot die beperkte erkenning van emosionele of senuskok as eisoorsaak. Ongeag hierdie oorwegings, erken die Suid-Afrikaanse reg eise gebaseer op psigiese letsels ná die dood of besering van ʼn kind. Dié eise moet egter aan streng vereistes voldoen.

Eisers moet nie net kan bewys dat die gebeurtenis tot skok, vrees, hartseer of trauma aanleiding gegee het nie, maar ook dat dit ʼn permanente psigiese letsel gelaat het. ʼn Psigiater moet dus kan getuig dat die ongeluk ʼn herkenbare negatiewe uitwerking op die persoon se brein- en senustelsel gehad het. Die eiser moet ook kan aantoon dat ʼn onregmatige daad aanleiding gegee het tot dié toestand.

Opsommenderwys dui die begrip “onregmatige daad” daarop dat die optrede of versuim om op te tree deur een party tot die nadeel van ʼn ander aanleiding gegee het. Hierdie optrede moet ook nalatig of opsetlik en onregmatig wees. Verskillende toetse word in die reg aangewend om onregmatigheid en opset of nalatigheid vas te stel. So, byvoorbeeld, sal die redelike voorsienbaarheid en voorkombaarheid van die oorsaak van die psigiese letsel oorweeg word om te bepaal of die gewraakte optrede nalatig was. Dit is ook belangrik dat die psigiese letsel die gevolg van die dader se optrede of versuim om op te tree moet wees en dat daar ʼn genoegsame noue verband tussen die dader (skool) se optrede of versuim om op te tree en die psigiese letsel bestaan voordat die dader vir die gelede skade aanspreeklik sal wees.

Afgesien van die mediese en begrafniskoste vir ʼn kind, kan ʼn ouer ook ʼn bedrag eis vir die benadeling van sy of haar fisiek-psigiese integriteit of vir enige finansiële verlies wat uit sodanige letsel voortspruit.

Aan die een kant kan hierdie vergoeding as hulpmiddel dien vir die onkostes wat uit ʼn psigiese letsel voortvloei en ʼn mate van vertroosting bied, selfs al sal dit nooit die verlies van ʼn kind goedmaak nie. Aan die ander kant kan ʼn skool daarin berus dat eise ten opsigte van die dood of besering van ʼn kind slegs suksesvol sal wees indien daar aan die vereistes van ʼn onregmatige daad voldoen word. ʼn Prokureur kan behulpsaam wees met die bewys van ʼn onregmatige daad, sowel as die toepaslike remedie.

  • Lichel Helmchen is ʼn dosent in Regsgeleerdheid by Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
modiglianigirl

milieu wat voorlê. Soos bv. die verpligte dra van reddingsbaadjies naby water en ‘n aanspreeklike persoon wat toesien dat reëls na gekom word.

ma-Riana

Lichel
Hoe ‘n lang periode moet verloop voordat ek kan bewys dat ek ‘n permanente psigiese letsel opgedoen het?