Drie kopskuiwe is nodig vir kreatiwiteit, innovasie in klaskamers

Argieffoto. (Foto: Elaine Krige)

Deur Marlien van der Westhuizen

Wêrelddag vir Kreatiwiteit en Innovasie is verlede week op 21 April gevier, terwyl Suid-Afrika ʼn land is waar ons kinders se toekoms dikwels onseker lyk. Met ʼn jeugwerkloosheidsyfer van meer as 65% is dit van kernbelang dat vaardighede soos kritiese denke, probleemoplossing, samewerking en kreatiwiteit in die klaskamer geleer word.

Vir hierdie vaardighede om doeltreffend oorgedra te word in Suid-Afrikaanse skole moet daar drie kopskuiwe plaasvind:

Die onderwyser is die fasiliteerder van leer

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) glo dat die onderwyser sentraal staan tot die onderrigproses en daarom die belangrikste skakel is in die proses om kreatiwiteit en innovasie in die klaskamer aan te moedig. Passievolle onderwysers kweek passievolle leerders.

Onderwysers moet tyd spandeer om te reflekteer oor wat in die klaskamer gebeur. Refleksie oor ʼn sekere manier van onderrig en hoe leerders daarop reageer het, help ons om die effek van ons onderrigstrategieë te oorweeg en nuwe maniere te ontdek wat selfs beter werk.

Daar moet ʼn fokus op oop vrae wees, eerder as vrae wat op handboek-feite gebaseer is. Wanneer onderwysers oop vrae vra, besef leerders dat daar meer as een standpunt oor ʼn saak kan wees. Dit kan lei tot opwindende gesprekke, nuwe idees en die ontwikkeling van leierskapvaardighede.

ʼn Leerervaring is veel meer as kennisverwerwing

Werkgewers wil jong professionele mense in diens neem wat verstaan hoe om moeilike besluite te neem en probleme op te los. Leerders kan dus nie passiewe ontvangers van inligting wees nie, maar moet aktief deelneem in die klaskamer en aangemoedig word om risiko’s te neem en kanse te waag.

Wanneer onderwysers praktykgerigte projekte verskaf wat leerders probleme gee om op te los, bied hulle ʼn platform vir leerders om uit mislukking te leer en weer en weer te probeer tot hulle uiteindelik sukses behaal.

Kennis en ervaring is twee kante van dieselfde munt. Die verwerwing van kennis en ervaring deur toepassing, is voortdurend in wisselwerking met mekaar en vul mekaar voortdurend aan. In ʼn toenemend veranderende wêreld, is blote kennis nie meer voldoende nie.

Herbedink jou klaskamer

Die ontploffing van tegnologie in die onderwys het gelei tot ’n groot verskeidenheid van beskikbare media- en leerbestuurplatforms wêreldwyd. Die Wolkskool is so ʼn leerbestuurplatform, met gehalte inhoud in Afrikaans.

Al meer onderwysers stel inhoud aanlyn vir leerders beskikbaar ter voorbereiding vir klasse.

Leerbestuurstelsels maak dit vir onderwysers moontlik om vinnig en maklik leerders se vermoë te evalueer en vordering dop te hou. Dit stel onderwysers in staat om deurlopend gedurende kontaktyd hul leerders se spesifieke behoeftes aan te spreek. Verder skep dit ook vir die onderwyser die geleentheid om te differensieer tussen leerders en die klasaktiwiteite wat beplan word. Die Wolkskool se toepassing van die omgekeerde klas-model in verskeie skole, toon groot prestasieverbetering. Onderwysers spaar boonop ongeveer 50% van hulle tyd, beweeg vinniger deur die kurrikulum en kry tyd om dieper met hulle leerders te werk.

ʼn Omgekeerde klaskamer lyk ook fisies anders as die tradisionele klaskamer. Weg is die oorvol vertrekke wat nie die ruimte het om gemaklik rond te beweeg nie. Die ideale omgekeerde klaskamer se leerruimtes is vloeibaar en bied buigsaamheid om een-tot-een-leer, samewerking, onafhanklike denke en groepbesprekings te akkommodeer.

Kopskuiwe soos hierbo, word in detail bespreek by die SOS se kongres wat vanjaar op 21, 22 en 23 Junie by Accolades-konferensiesentrum in Midrand plaasvind. Die kongres se tema is KOPskuif en beloof om ʼn ware KOPskuif in die onderwyslandskap te weeg te bring.

  • Vir meer inligting, besoek Skole.co.za.
  • Marlien van der Westhuizen is ʼn navorser by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.