Dwelms, omdraai is moontlik

(Foto: Gras Grun/Unsplash)

*Kobus is 15 jaar oud en ʼn hoërskoolleerder. Hy is onlangs in ʼn rehabilitasiesentrum vir ʼn dwelmafhanklikheidsprobleem opgeneem.

Ani Grobbelaar, maatskaplike werker van CMR Gauteng-Oos se Lyttelton-tak, is dankbaar dat sy vir hom ʼn plek in ʼn sentrum kon kry. Sy stap ʼn pad saam met Kobus, wat werklik wil omdraai en sy afhanklikheid die rug wil toekeer.

“Hierdie seun verdien nog ʼn kans. Hy het in die verkeerde vriendekring beland. Dinge by sy ouerhuis is ook nie gunstig nie. Hy woon saam met sy tannie en albei sy ouers is in ʼn motorongeluk oorlede. Ledigheid is die duiwel se oorkussing, het die ou mense altyd gesê en ons sien dit elke dag in ons werk. Kinders wat nie besig is nie, soek vermaak. Om op straat rond te loop met niks om te doen nie, is moeilikheid soek. Kobus het, omdat sy tannie bedags by die werk is, saam met die verkeerde vriende begin leeglê,” sê Grobbelaar.

Kobus is een van baie min verslaafdes wat die moed het om op te staan, hulp te soek om skoon te kom en sy lewe sonder dwelms oor te begin. Grobbelaar verduidelik dat dwelms geredelik by skole te kry is. Die kind wat Kobus se eerste pil aan hom verskaf het, en hom aangemoedig het om dit te probeer, is ʼn verskaffer en maar net een van baie wat al in plaaslike skole sake doen.

“Dit is ʼn bekende feit dat solank iemand weier om te erken dat hy ʼn probleem het, niemand hom sal kan help nie. Maar wanneer hy, soos Kobus, daardie plek bereik en om hulp vra, is die kanse goed dat hy sal kan omdraai en suksesvol sal wees. Kobus sal kan teruggaan skool toe, en ʼn nuwe blaadjie omslaan.”

Die uitdaging is nog glad nie verby nie. Hy sal moet sterk staan teen die vriende wat hom in die gemors laat beland het – hulle is nog daar en hul dwelmgebruik duur voort.

“Kobus het my vertel dat dagga so algemeen is dat min kinders hulle eintlik daaraan steur. Iemand wat sou dink om dit nie te gebruik nie, word uitgelag en vertel hy weet nie dat dit heeltemal veilig is en dat ʼn mens nie aan dagga verslaaf kan raak nie. Kinders glo dit en so waag baie van hulle maklik die eerste stap na algehele dwelmverslawing. Hy het self eers dagga begin gebruik, en later ander pille se bedwelming leer ken.

“Ons verleen ondersteuning aan Kobus vir so lank as wat hy dit nodig het. CMR Gauteng-Oos lewer statutêre dienste aan kinders tot op 18-jarige ouderdom, in ooreenstemming met die Kinderwet no. 38 van 2005.”

Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos, benadruk die feit dat dit nie net een skool se uitdaging is nie, maar alle skole s’n.

“Om kinders te help om nie in die gat te val nie, is almal se verantwoordelikheid. Ouers moet deel word van die stryd. Weet waarmee jou kind besig is. Onderwysers, beraders, sielkundiges, maatskaplike werkers, almal moet hande vat en keer dat ons kinders in hierdie strik gevang word,” sê sy.

CMR Gauteng-Oos het 13 takkantore oor die hele Pretoria heen, en bedien altesaam 27 000 mense per jaar met maatskaplike ondersteuning.

*ʼn Skuilnaam is gebruik omdat die seun ʼn minderjarige is en nie geïdentifiseer mag word nie.

  • Kontak CMR Gauteng-Oos se hoofkantoor by 012 361 4619 of die naaste tak van ʼn welsynsorganisasie vir meer inligting of hulp.
  • Besoek die CMR Gauteng-Oos se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Porseleintjie ·

Lukas 1:37. “En geen ding sal by God onmoontlik wees nie”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.