Ek, my kind en opsommings: Wat is die doel?

Kind_huiswerk_skryf_pixabay.jpg

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Het jy al namens jou kind opsommings van hulle skoolwerk gemaak, ʼn pakket aangekoop, of so iets op ʼn skool- of ouergroepie op Whatsapp uitgeruil?

Maroela Media het met ʼn ouer, Leonora Staniforth, en twee kenners – prof. Kobus Maree van die Departement van Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria, en Elana Kriel, opvoedkundige sielkundige en die programkoördineerder van die BEd Intermediêre Fase-kwalifikasie by Akademia – oor dié onderwerp gesels wat gedurig tot vurige debatte en gesprekke lei.

Uit ʼn ouer se perspektief

Leonora het eers self haar oudste kind se skoolwerk opgesom, maar dit het later doodeenvoudig te tydrowend geraak. Daarom het sy besluit om elke jaar vir al haar kinders, wat nou graad 4, 6 en 8 is, opsommings te koop.

“Ek het toe my oudste in graad vier was, die hele jaar se werk deur die jaar opgesom, om die eenvoudige rede dat hy dit net nie self kon doen nie. Hy het ʼn kursus bygewoon wat die skool aangebied het oor hoe om self opsommings te maak en te leer, maar hy het dit net nie gesnap nie.

“Ek verstaan waarom die kenners sê dat opsommings deel van die leerproses is, maar in my geval veroorsaak dit ʼn bakleiery en groot ongelukkigheid, wat boonop ʼn aaklige begin vir enige toetsreeks of eksamen is. Daardie negatiwiteit moet tog slegter vir my kinders (en myself) wees as die feit dat hulle nie die opsommings self gemaak het nie?”

Argieffoto (Foto: Ty_Swartz, Pixabay)

Leonora voeg by dat dit soms regtig net nie haalbaar is vir kinders om elke vak se werk self op te som nie.

“Die meeste middae stap ons eers 17:00 by die huis in, na ʼn vol middag van buitemuurse aktiwiteite. My graad agt-seun kom soms ná ons eers by die huis weens sport- en ander skoolverpligtinge. Waar moet die kinders tyd kry om deur die werk te sif vir belangrike info, dit dan op te som en daarna eers te begin leer?”

Nes soveel ander ouers doen Leonora dit hoofsaaklik om haar kinders te help. “Ek dink as ek weet my kind kan nie self regkom nie, en ek help hulle nie, en daai kind doen dan sleg, is dit net soveel my skuld as die kind sin. ʼn Mens doen vir jou kinders wat jy moet, en ek dink regtig wat vir een werk, werk nie noodwendig vir ʼn ander een nie.”

Wat sê die kundiges?

Elana sê sy besef dat ouers regtig met die beste bedoelings probeer om hulle kinders te help, daarom word opsommings dikwels met goeie beweegredes aangeskaf.

“Soms is ouers se situasies van so ʼn aard dat hulle uit desperaatheid optree en keuses met goeie bedoelings maak. Die vraag wat dan eerder gevra moet word, in plaas daarvan om net na die reg en verkeerd te kyk, is wat jy vir jou kind leer en watter voorbeeld jy as ouer vir hulle stel?

“Ouers moet wel ook besef dat hulle nie veroordeel word wanneer die implikasies en gevolge van hierdie handeling bespreek word nie.”

Kobus is egter van mening dat hierdie manier waarop ouers hulle kinders probeer help, ongewens is. “Die ouer reken dalk dat hulle die kind ʼn guns doen, maar dit is eintlik kortsigtig, want jy ontneem hulle die geleentheid om self te ontwikkel.”

Prof. Kobus Maree. (Foto: Verskaf)

Hy benadruk die siening dat kinders op hierdie manier nie leer om eienaarskap van hulle verantwoordelikhede en werk te neem nie. “Waarop dit neerkom is die beginsel dat jy nie self jou werk doen nie, maar iemand anders kry om dit namens jou te doen.”

Elana beaam dit wanneer sy sê: “Ons moet by ons leerders die voorbeeld stel dat jy self vir iets verantwoordelik is, en dat jy self ʼn bydrae tot jou leer en ontwikkeling moet lewer. Dit is ʼn proses.”

In gevalle waar ouers en kinders moontlik dalk prestasiegedrewe is en hoop om dit op so manier te behaal, is daar ʼn paar aspekte wat in gedagte gehou moet word.

Volgens Elana word die fokus baie keer van die proses af gehaal, veral wanneer ouers slegs vaskyk teen die eindresultaat, ʼn prestasie of punt wat behaal moet word. “Daarmee skep ons eintlik die verkeerde indruk of beeld vir ons kinders, omdat ons eintlik vir hulle sê dat ons net belangstel in hoeveel punte hulle kry en die prestasie wat hulle behaal.”

“Dit is belangriker om op die lewensvaardighede, meer spesifiek kritiese denkvaardighede wat ontwikkel word, te konsentreer,” meen Elana.

Kobus ondersteun hierdie gedagte deur by te voeg dat ʼn hoë punt miskien nie so belangrik is soos die bydrae wat jy uiteindelik tot die gemeenskap gaan lewer nie.

“Jy werk nie omdat jy ʼn A wil behaal nie, jy werk omdat jy die beste beroepsbeoefenaar wil wees wat daar in jou veld is, en omdat jy ʼn sosiale bydrae wil lewer. As ons daardie idee by mense kan tuisbring, dan gaan hulle vergeet om te kyk na wie die beste in die klas is.”

Wat moet ouers in gedagte hou?

As ʼn mens verder ondersoek instel oor die implikasies van opsommings wat verskaf word, gaan dit ook daaroor dat kinders primêr van geleenthede ontneem word om belangrike lewensvaardighede te ontwikkel.

Die proses om ʼn groot klomp inligting tot die kern te verkort, en die hoofpunte van daardie inhoud in jou eie woorde weer te gee, is ʼn belangrike vaardigheid wat nie net op skoolvlak nie, maar ook later in ʼn kind se lewe noodsaaklik is.

Elana Kriel is ʼn dosent in die fakulteit opvoedkunde by Akademia, asook die programkoördineerder van die BEd Intermediêre Fase-kwalifikasie. (Foto verskaf)

“Dit is eintlik ʼn lewensvaardigheid wat jy heel moontlik eendag in jou beroep gaan nodig hê om doodeenvoudig ʼn opsomming te maak, notules te neem of om aan iemand terugvoer oor prosesse te gee,” meen Elana.

Wanneer ʼn kind nie self deur hierdie proses werk nie, word hulle ontneem van verskeie geleenthede om te groei. Dit behels om te leer hoe om met begrip te lees en die vaardigheid om massas werk te reduseer.

Elana glo, deur opsommings aan kinders te verskaf word hulle die geleentheid misgun om inligting te ontsluit en self ondersoek in te stel na die betekenis van konsepte of frases wat hulle nie verstaan nie.

“Dit beteken ons is besig om die kinders op skool dan eintlik van die primêre bron, wat eintlik ryk is en soveel inligting bevat, af te sny en te vervreem.”

Inligting neem ook eksponensieel toe, voeg sy by. “Soos wat die kind ouer word, en veral op tersiêre vlak, word die hoeveelheid inligting wat ʼn mens moet absorbeer en verwerk net al hoe meer.”

Om opsommings aan jou kind te verskaf, wat hulle nie self gedoen het nie, is ook geensins dieselfde as om studiehulp in te kry of vraestelle deur te werk nie.

“Ek dink regtig nie ons help ons kinders nie, want al word die opsommings deur ʼn oudonderwyser of kundige saamgestel, bly dit steeds net woorde op ʼn papier wat in elk geval gelees, verstaan en begryp moet word.

“Die waarde van studiehulp, in die vorm van ʼn ekstra klas, is dat daar interaksie en bevraagtekening betrokke is. Dit is dalk juis waardevol vir iemand wat ʼn bietjie langer neem om ʼn vaardigheid goed te snap om vaardig in iets te wees,” verduidelik Elana.

Die SOS-opname het bevind onderwysers ondervind hoë stresvlakke. (Foto: pixabay)

Sy stel voor dat ouers probeer vasstel wat dalk vir hulle kind ʼn beter manier is om te leer. “Elke kind moet hulle eie vaardighede aanleer en self met die uitdaging gekonfronteer word, eerder as wat ouers die uitdaging vir hulleself aanvaar, en dalk net ʼn maklike oplossing vir ʼn kind aanbied.”

Elana doen ten slotte ʼn beroep op ouers om introspeksie te doen en te bepaal wat die doelwit is, en waarom hulle kies om beheer oor die opsommings van kinders se skoolwerk te neem.

“As ons die doel gedefinieer het, en kyk wat die waarde daarvan is, behoort dit ʼn invloed op ons keuse en besluite te hê. Op die ou end is dit belangrik dat ons ons kinders en onself toerus om probleme te kan oplos.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.