Enkelouerskap, kritici kniehalter nie dié Mej. SA-finalis se drome

Rozelle en haar sesjarige seuntjie. (Foto: Verskaf)

Die 27-jarige model, verkoopsverteenwoordiger en onderwysstudent, Rozelle Bester, het nog nooit toegelaat dat die titel van “enkelma” haar terughou nie.

Met haar deelname aan vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie gaan sy ook nie skroom om nie dié aspek van haar lewensverhaal weg te steek nie. Inteendeel, sy dra dit met trots soos ʼn medalje om haar nek.

“Gelukkig vind ek my identiteit in die Here en daarom laat ek nie toe dat ander mense se persepsies my definieer nie,” vertel dié Vrystaatse-boorling breëbors.

Rozelle straal voor die kamera. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig dat vanjaar se bygewerkte reëls getroude vroue sowel as ma’s toelaat om in aanmerking vir die Mej. SA-titel te kom. Danksy dié aanpassing is Rozelle vandeesweek as een van die top-30 finaliste in vanjaar se kompetisie aangekondig – ʼn droom wat skielik weer wink nadat sy dit reeds as 21-jarige met die geboorte van haar seuntjie afgeskryf het.

“Ek was aanvanklik in sak en as oor die nuus van my swangerskap want ek het gevoel dat ek iets vir dié kompetisie kon bied, en toe is dit skielik nie meer ʼn werklikheid vir my nie.”

Hoewel sy sedert haar tienerjare en as jong mamma steeds aan ander plaaslike en internasionale skoonheidskompetisies deelgeneem het, kon geen titel vir haar kers vashou met dié van Mej. SA nie.

Rozelle vertel dat sy boonop in 2022, kort voordat Mej. SA hul reëls aangepas het, haar aandrokke en hakskoene permanent wou ophang om voltyds op ma-wees te fokus.

“Ek het my doelwit in die lewe begin bevraagteken en nie meer kans gesien vir teleurstelling nie. Toe verander Mej. SA hul reëls in die laaste jaar wat ek nog jonk genoeg is om te mag inskryf. Dít getuig vir my 100% van die Here se goedheid. Ek het so lank gebid en gedroom dat die regte deure sal oopgaan as dit vir my beskore was, en kyk nou net.”

Rozelle is gerat om die Mej. SA-kroon te dra. (Foto: Instagram/@Rozellebester)

Twee getroude finaliste, Jordan van der Vyver en Nicole Eksteen, wat in 2021 as die wenner van Survivor SA: Immunity Island gekroon is, is ook saam met Rozelle deel van vanjaar se top-30.

Hoewel sy begrip het vir diegene wat kopkrap oor dié kompetisie se veranderings, meen Rozelle dat dit nou kans gee vir vroue wie se omstandighede en lewens meer verteenwoordigend van die “algemene Suid-Afrikaanse vrou” is, om hul land te dien.

Sou die kroon vanjaar op haar kop beland, is haar doelwit juis om haar eie lewensreis openhartig te deel en vroue te bemoedig wat deur hul omstandighede vasgevang voel.

“Enkelouerskap is nie iets wat ek aanvanklik aan die groot klok wou hang by internasionale skoonheidskompetisies nie, selfs al was dit toegelaat in die reëls. My swangerskap was die gevolg van ʼn rebelse fase, en ek het my seuntjie half weggesteek tydens kompetisies want ek was bang vir mense se oordeel en kommentaar,” erken sy.

“Nadat ʼn organiseerder my tydens ʼn kompetisie in Bali verlede jaar genader het en gesê het dat moederskap iets is wat ek moet omarm en tot my voordeel gebruik om ander te inspireer, is my kop geswaai. Daardie gerusstelling het my laat besef dat ek nie skaam moet voel oor wie ek is of die foute wat ek begaan het nie.”

Rozelle op die verhoog by ‘n internasionale skoonheidskompetisie. (Foto: Verskaf)

Sy is reeds met vandeesweek se aankondigheid van die top-30-finaliste op sosiale media gekap, maar is vasberade om dit nie kop toe te vat nie.

“Mense kan maar gemeen wees. Ek het kommentaar raakgelees wat sê dat ek nie ‘hard genoeg probeer het om my reinheid te behou nie’. Almal maak foute, ek sal die eerste een wees om my eie te erken, maar ʼn mens verstaan nooit ʼn ander persoon se omstandighede ten volle nie, daarom glo ek kan ʼn mens niemand oordeel nie.”

Rozelle sê hoewel haar verlede haar nie definieer nie, dit haar wel sterker en vinnig volwasse gemaak het.

“Dit gaan nie oor hoe jy geval het nie, maar hoe jy opstaan. Daar is baie meisies wat in dieselfde groef val, maar dit as die einde van hul lewe of drome sien, en ek wil die teenoorgestelde kan bewys. Ons sou nie helde gehad het om na op te kyk as niemand ooit foute gemaak het nie.”

Benewens haar geloof, is haar ouers, Sakkie en Rensia, haar grootste steunpilare.

Rozelle se seuntjie saam met haar ouers, Rensia en Sakkie. (Foto: Verskaf)

“Hulle ondersteun my nog my hele lewe lank en is gerat om aan my sy te wees sou ek die Mej. SA-titel wen. Hulle is regte sout van die aarde mense en ek dink nie hulle was al ooit so trots op my soos wat hulle nou hiermee is nie.”

Ook haar amper sesjarige seuntjie ondersteun sy mamma se drome.

“Hy is baie slim en het ʼn sterk persoonlikheid. Ek dink hy’s ʼn regte klein leiertjie.”

Rozelle vertel dat hy graag saam met ouma en oupa sit en haar kompetisies aanlyn kyk wanneer sy internasionaal deelneem. “Dan sê hy blykbaar altyd; ‘dis my mamma, dis my mamma. Kyk hoe mooi is sy,’” deel sy byna bewoë.

“Hy is een van my grootste motiverings want ek weet dat dit wat ek nou aanpak, hom eendag gaan inspireer en trots maak. Hy moedig my altyd aan en sal selfs sy opinie oor my skoene en rokkeuses lig, al pas sy voorstelle dikwels nie by mekaar nie,” skerts sy.

Rozelle, tesame met die ander 29 finaliste, moet tot Juniemaand wag om te sien wie deurdring na die top-12, en hoewel dit soms vlinders in die maag los, het sy rustigheid oor die toekoms van haar Mej. SA-reis.

“Ek sal niks verander aan my storie nie, want dit het my gemaak wie ek vandag is. My kop, hart en geloof is op die regte plek. Ek sien nou net uit en is gerat vir hierdie reis, ongeag die uitkoms daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

bolletjie blom ·

Rozelle jy is pragtig innerlik en uiterlik. Baie min wat mens hierdie kombinasie saamkry. Jou onwrikbare geloof dwing respek af.

Linda ·

Alles goed en wel. Maar jaag jy nie nou jou jeug na en dit op 27 met ‘n 6 jarige kind nie? Waar is sy tyd met ‘n mamma wat 100% aan hom wei? Nou moet hy maar inpas en aanpas soos ‘n paar skoene wat druk.

RS ·

Mejuffrou? …. nee die nuwe aanpassings en veranderinge aan die kompetisie is ‘n grap. Klink soos die regring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.