Erica Wessels vertel oor ouerskap ná 40

Erica Wessels en die skattige klein Stella. (Foto: Instagram/Erica Wessels)

In Mei 2019 het die gewilde Suid-Afrikaanse aktrise Erica Wessels op die ouderdom van 40 aangekondig dat sy en haar man, Willem Boshoff, die ouers van ʼn babadogtertjie gaan word.

Nou, byna twee jaar later, is Stella Kato Boshoff op 20 maande amper ʼn peuter wat volgens haar ma (nou 42) ʼn klein rabbedoe is wat hou van boeke en die maan.

“Ons moet elke aand eers die maan buite gaan soek. Sy hou van die natuur en boeke en is ʼn uiters interessante dogtertjie met die mooiste persoonlikheid,” vertel Wessels aan Maroela Media.

“Haar ontwikkeling is absoluut ongelooflik en dis regtig baie interessant en mooi om elke dag die nuwe woordjies en nuwe gewaarwordinge raak te sien. Sy speel verskriklik baie en ons lag; sy is baie snaaks. Sy is ook meestal ʼn kalm, rustige kind wat hou daarvan om te ontdek.”

Wessels, wat sedert haar geboorte self na haar omsien, sê Stella gaan deesdae vier oggende per week na ʼn speelgroepie toe.

“Sy geniet die stimulasie en ek geniet die rustyd. Ek kyk meestal self na haar, want Willem het gewone werksure deur die dag. Ons het ook hulp in die vorm van ʼn oppasser, Sandiswa, wat vir Stella parkie toe vat en saam met haar borrels blaas. Stella is absoluut dol oor Sandiswa en hulle het ʼn wonderlike verhouding.”

Op die dae wanneer sy nie speelskool toe gaan nie, behels ʼn tipiese dag in Stella se lewe ʼn vroegoggend-kletssessie in haar kamerjassie saam met mamma en pappa op hulle bed, met tee en ʼn stukkie beskuit.

Daarna jaag sy die katte in die kamer rond of blaai deur boeke, bestee tyd in die tuin of speel met ʼn maatjie terwyl die mammas koffie drink en gesels.

Erica, klein Stella en pappa Willem Boshoff. (Foto: Instagram/Erica Wessels)

“As ouer kan die roetine baie herhalend word, so jy moet heeltyd kreatief bly in jou kop en maniere vind om die dag interessant te hou.”

Wessels vertel hulle gunstelingtyd van die dag is badtyd. “Badtyd is ongelooflik lekker. Ek bad gereeld saam met haar en daar is min dinge so spesiaal soos om saam met jou baba te bad.”

Sy vertel dat sy doelbewus baie geduldig met Stella is. “Een van die waardevolste eienskappe wat ʼn mens jouself en jou kind kan gee, is geduld, want daar is baie dinge aan ouerskap wat ʼn mens ongeduldig kan maak. Ek en Willem is beslis streng ouers met definitiewe grense – ek dink dit is uiters belangrik vir ʼn kind.”

Wessels sê sy herinner haarself gereeld om dankbaar te wees vir die klein mensie in hulle lewe en die ervaring om ʼn ouer te kan wees.

“Ons het lank gesukkel om haar te kry en ek weet watse ongelooflike seëning dit is om ʼn kind te kry. ʼn Mens is geneig om daarvan te vergeet wanneer dinge rof raak, want ouerskap is baie meedoënloos en oneindigend.”

Erica Wessels op die Johannesburgse première van ‘I am all girls’. (Foto: Instagram/Erica Wessels)

Volgens Wessels is daar voor- en nadele om in jou 40’s ma te word. “Daar was in my 20’s en selfs my 30’s nie tyd vir my om te settle of sogenaamd teruggehou te word nie. Ek was avontuurlustig, ek wou toer en het baie teater gedoen en laataande eers by die huis gekom. Dit is nie die soort leefstyl vir ouerskap nie,” verduidelik die aktrise, wat tans in die Netflix-rolprent I am all girls te sien is.

“ʼn Mens moet op ʼn plek wees waar jy stabiliteit en normaliteit vir jou kind kan bied. Teen die tyd dat ek haar op 41 gehad het, was ek meer volwasse en uitgesorteer, ek was getroud en ons wou graag ʼn kind hê. Dit was ʼn lang proses om haar te kry en teen die tyd dat sy gekom het, was ek só reg daarvoor.”

Sy bieg dat sy fisiek vinniger moeg raak as in haar 20’s. “Wat energievlakke betref, is dit beslis voordelig om jonger kinders te hê.”

Een van die grootste lesse wat sy as ma geleer het, is dat alles verbygaan. “Net soos jy dink jy kan nie meer nie, dan skuif dinge weer en verandering vind weer plaas. Moederskap leer jou ook om teenwoordig te wees en in die oomblik te leef. Ek besef wanneer ek en Stella die beste connect, is wanneer ons net saam met mekaar is, sonder enigiets wat ons aandag kan aflei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Ai, en so het ek gedink Erica Wessels is reeds jare lank al ‘n uistekende Mamma na ek “Alles wat mal is” gekyk het. Erica is en bly ‘n spone lieflike borrenlende mens!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.