Ervaar jou eerste dag van studentwees by Akademia se opedag

ʼn Akademia-student besoek die mediasentrum (Foto verskaf)

Kom vind meer uit oor studentwees by Akademia tydens die opedag wat op Saterdag 4 September by die kampus in Centurion gehou word.

Hier gaan voornemende studente eerstehands ervaar hoe dit voel om een van die baanbrekerstudente op kampus te wees. Stof jou klasdrafskoene af en maak seker jy woon dié dag by. Jou loopbaanreis begin hier!

Akademia, wat byna ʼn dekade lank reeds nauurse studies in Afrikaans aanbied, bied sedert die begin van hierdie jaar ʼn bykomende oplossing – ʼn kampuservaring waar studente voltyds kan klasdraf.

Hier studeer studente ʼn gehaltekwalifikasie in hulle moedertaal, terwyl hulle aan ʼn besonderse en unieke studentelewe deelneem en lewenslange netwerke vir ʼn voorspoedige toekoms bou.

Akademia se veilige kampus vir voltydse studies is ingerig om talle studente te akkommodeer en bied voldoende parkering, ʼn kafeteria, ouditorium, mediasentrum, ruim klaskamers, studenteverblyf, asook genoegsame wegbreekruimtes. Die kampus is gerieflik naby ʼn inkopiesentrum in Centurion geleë en is stapafstand vanaf die naaste Gautreinstasie.

Hierdie fasiliteite, en nóg meer, kan tydens die jaarlikse opedag beleef word. Die program vir die dag is noukeurig saamgestel om ʼn oorsig oor Akademia te bied, kwalifikasiespesifieke inligting te verskaf en voornemende studente solank ʼn kykie in die opwindende studentelewe te gee.

Akademia se geakkrediteerde studierigtings op kampus strek oor ekonomie en regte, finansiële en bestuursrekeningkunde, kommunikasie en joernalistiek, ondernemingsbestuur, wiskundige wetenskappe, sowel as ʼn rigting wat oor drie dissiplines strek, naamlik politiek, filosofie én ekonomie. Die studierigtings op kampus word tans verder uitgebrei namate die behoefte vir meer kwalifikasies vergroot.

In vandag se onsekere tye is dit veral noodsaaklik om verder te studeer en alle studieopsies te oorweeg. Die opedag bied daarom die ideale geleentheid vir ʼn skolier om solank studiemoontlikhede te ondersoek, skouers te skuur met medestudente, asook om solank met dosente te gesels oor beroepe en wat die verskeie studierigtings behels. Ouers is ook welkom om die dag by te woon om gemoedsrus te kry en te sien waar hulle kinders op ʼn veilige kampus geskiedenis gaan maak.

Adviseurs sal ook op dié dag kwelvrae beantwoord sodat voornemende studente uiteindelik na afloop van die dag ingeligte besluite kan neem. By Akademia voel studente tuis; nie net omdat hulle moedertaalonderrig ontvang of aan ʼn besige, dog belowende studentelewe kan deelneem nie, maar omdat hulle deel van ʼn groter studentegemeenskap vorm. Kom vind meer hieroor uit!

Voornemende studente kan registreer om een van twee opedagsessies op 4 September by te woon. Registrasie word vooraf elektronies op Akademia se webblad voltooi. Nou ja, waarvoor wag jy? RSVP by www.akademia.ac.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.