Feestydtradisies van regoor die wêreld

kersboom_sneeu.jpg

Foto: marldonchristmastrees.co.uk

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

As jou kinders nou die ouderdom bereik het waar hulle vreeslik opsien teen die malligheid van Kersfees saam met die familie, soos beterweterige tantes, onvanpaste geskenke van verlangse familie en die luidrugtige (en vals) oom wat elke moontlike Kerslied wat ooit geskryf is, sing, is dié artikel vir jou bedoel: leer kinders wat mense in ander lande doen om Kersfees te vier, sodat hulle hul eie vreemde en wonderlike familie en tradisies kan waardeer.

Vervoer: Danksy Hollywood glo ons kinders dat Kersvader op ʼn slee rondrits wat deur takbokke getrek word. Maar in Italië ry ʼn goeie heks genaamd La Befana op ʼn besemstok eerder as ʼn slee wanneer sy presente aflewer, terwyl Kersvader in Australië sy takbokke vir ses groot kangaroemannetjies verruil het. Die kinders van Nederland is weer op die uitkyk vir Sinterklaas, wat per stoomboot arriveer!

Versierings: Vergeet maar van plastiekbome versier met klaterstringe en blink balle. Oekraïners versier hul bome met spinnerakke, want volgens oorlewering het ʼn towerspinnekop eendag ʼn arm gesin met Kerstyd besoek en al die spinnerakke in hul huis in goud omgetower. En as iets nie baie lekker ruik om die Kersboom in Duitsland nie, is dit heel moontlik omdat iemand ʼn agurkie tussen die versierings weggesteek het. (Die eerste een wat dit vind, kry ʼn klein geskenkie.)

Geskenke: In Serwië ruil gesinne nie op 25 Desember geskenke uit nie. Twee Sondae voor Kersfees bind die kinders hul ma vas en sy moet dan ʼn losprys in die vorm van geskenke betaal vir haar vryheid. Die volgende Sondag is dit die pa se beurt.

Kos: Is jy moeg vir braai of ʼn kalkoen met al die tradisionele bykosse? As jy in Groenland woon, kan jy uitsien na ʼn Kersmaal genaamd kiviak – ʼn voël wat in robvel toegedraai en vir maande lank onder ʼn klip begrawe word.

Nie meer honger nie? Tsjegge word geleer om op Oukersdag niks te eet totdat ʼn spesiale aandete bedien word nie – net sodat hulle ʼn mistieke ‘goue vark’ kan sien wanneer dié sy verskyning maak. ʼn Tradisionele Poolse Kersete bestaan weer uit 12 gange.

Skoene: Vreemd genoeg is skoene ʼn gewilde Kerstema. In lande soos Brasilië, Pole, Duitsland en Frankryk los die streeksweergawe van Kersvader lekkergoed in kinders se skoene (in plaas van Kerskouse) en in Griekeland word ou skoene met Kerstyd verbrand om goeie geluk vir die volgende jaar te verseker.

Tsjeggiese vroue hoop ook vir ʼn bietjie geluk wanneer hulle op Oukersdag ʼn skoen oor hul skouer in die rigting van hul huis se voordeur gooi. As die skoen met die hak naaste aan die deur land, is sy “gedoem” om vir nog ʼn jaar enkellopend te wees. As die toon egter na die deur toe wys, kan sy maar haar ouers groet en haar droomtroue begin beplan!

Soet of stout: Jou kinders mag dalk van die idee hou om die feesseisoen in Ysland deur te bring, waar daar 13 Kersvaders is. Hulle is nou wel meer bergtrol as jolige ou man, maar dié Yule Lads kom een vir een van die berg af om geskenke vir soet kinders te los. As jou kinders egter aan die stouter kant was, sal hulle bly wees dat hulle nie in Oostenryk woon nie. Daar leef kinders in vrees vir Krampus, ʼn Kersduiwel wat stoute kinders met takke bydam!

As jou kinders dus kla dat hulle wéér vanjaar dieselfde Kersete moet eet, bied met liefde vir hulle kiviak aan. En as dit lyk asof hulle hul sleg gaan gedra, herinner hulle maar net weer aan ou Krampus.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.