Foto’s: Pret en avontuur tydens die Jong Stadsboer Veldskool

Dag 1 (Foto verskaf deur Berchtesgaden)

Die Jong Stadsboer Veldskool is ʼn inisiatief van Johannes Kleinhans, eienaar van Berchtesgaden Game Lodge & Lifestyle Farm digby Vaalwater in Limpopo waar dié veldskool aangebied word.

Hoërskoolleerders (van graad 8 tot graad 10) het vanjaar die kans gekry om die plaaslewe eerstehands te ondervind en deel te wees van die dag-tot-dag aktiwiteite van beide die wildsplaas asook die boerplaas.

Die daaglikse boerplaasroetine sluit in die melk van beeste, voer van varke, versamel van eiers, die nagaan van dieregesondheid, toediening van medisyne waar nodig en die algemene skoonmaak en higiëne van die diere se slaapplek. Daar was ook tyd vir pret soos perdry, swem in die plaasdam, kleilatgooi, veldstap en wildsritte. Hulle het ook die geleentheid gekry om ʼn boskamp in te rig en die aand daar oor te slaap nadat die wenner van die uitskietkompetisie aandete gejag het.

Dié kamp strek oor ses dae en die tieners leer ook lewensvaardighede wat wyer strek as net ʼn plaaservaring. Dit sluit onder andere oorlewingsvaardighede en kampinrigting in; asook noodhulp; wapenveiligheid; kommunikasie en menseverhoudings en nog vele meer.

Spesialiskomponente soos byvoorbeeld die noodhulp- en slangbewustheidslesing word deur professioneel geregistreerde instrukteurs aangebied.

Die Jong Stadsboer Veldskool is ideaal vir jong aspirant boere wat graag die plaaslewe wil ervaar en beproef. Hulle kry ook te doen met die harde realiteit van plaaslewe soos die trek van boorgatpompe wat breek, septiese dreine wat toeval en herskep moet word en wisselvalligheid van elektrisiteitsvoorsiening.

Opvolgkampe vir 2021 word reeds beplan maar ook vir ʼn breër groepering as wat vanjaar aangebied is. Dit sal spesialiskampe, leierskampe, avontuurkampe en die matrieksafari (ʼn alternatiewe matriekvakansie ná die finale eksamen) insluit.

Veldjoernaal van die afgelope Veldskool

Dag 1

Vroegoggend het die kinders al geleer dat die plaaslewe nie net oor hoenders voer en koeie melk gaan nie. Die ouens moes inspring en bietjie pikswaai om ʼn nuwe septiese drein te grawe.

Ná baie sweet en kruiwaens vol sand het Anneke hulle geleer van perdeversorging en bosluisbeheer.

Die kinders het die varke gevoer en geleer dat varkies vang nie kinderspeletjies is nie. Ons was ook verras met 17 nuwe klein varkies wat deur die oggend gebore was.

Marius Koekemoer het ʼn fantastiese lesing kom lewer oor slange en ander diere. Party kinders was maar bietjie skrikkerig, maar ander het elke geleentheid aangegryp om die reptiele te hanteer.

Tussendeur geniet die ouens die topklas geriewe op die lodge en almal kuier, swem, speel en eet baie lekker saam!

Dag 2

Soos alle ander oggende begin die kinders met hul plaastake: Hoenders voer, eiers uithaal, varke voer en koeie melk. Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe lekker die vars plaasmelk is nie en drink elke dag glase vol daarvan!

Maryka het hulle geleer van groentetuine, kruie en die verskillende gebruike van melk in ‘n plaas kombuis. Die kinders het gehelp om regte plaasbotter te maak.

Marcus het hulle geleer van onkruid-identifisering en bestryding daarvan op plase. Hulle het ook geleer waarom sekere bosse en bome nadelig kan wees vir die plaas se natuurlike plantegroei en vir die diere wat in die veld wei.

Die middag het Johannes en Wim die kinders skietbaan toe geneem waar hulle geleer het van wapenveiligheid. Hulle het die geleentheid gehad om met ‘n verskeidenheid wapens te skiet (insluitend boogskiet).

Die kinders het leer vuur maak met verskillende metodes en die aand is afgesluit met lekker boerierolle in die veld. Terug by die lodge het Anneke hul begroet met vars melk en lekker roomys!

Dag 3

Van dié dag af kry die kinders kans om die koeie self te melk. Vir baie was dit ‘n nuwe ervaring.

Die septiese drein is klaargemaak en die kinders het geleer hoe die proses van ontbinding werk.

AfriForum het met die kinders kom gesels oor kommunikasie met bietjie agtergrondkennis van ons land se geskiedenis.

Laatmiddag het die ouens gaan baljaar in die gronddam en hulself absoluut geniet!

Dag 4

Marcus, die plaasbestuurder op die boerplaas, het die kinders geleer hoe om skape te ondersoek vir siektes en gewys hoe die toediening van medisyne werk. Die ouens moes ʼn paar keer agter skape aan hardloop en vang. Dit was groot pret!

Daarna het Terrance hulle veld toe gevat en hulle die verskil gewys tussen die manlike en vroulike geslag van verskillende wildsoorte. Die kinders moes leer hoe om spore en mis te identifiseer. Ons was bevoorreg om die kameelperde op ons staptog te sien.

Anneke het hulle geleer hoe om ʼn perd behoorlik op te saal en hoe om perd te ry. Almal het die geleentheid gekry om ʼn hele ent op ʼn perd te ry.

Wim het die ouens geleer dat dit moontlik is om binne minute enige water te suiwer en dat selfs swembadwater drinkbaar kan wees.

Ons het lekker piekniek gehou en saam geswem.

Wim het boonop ʼn groot verskeidenheid messe uit verskeie Afrikalande bymekaar gemaak oor twee dekades en met die kinders daaroor gepraat. Hulle het geleer van die verskillende gebruike en basiese veiligheid en versorging van messe.

Gerhard, wat onlangs die “Day Skipper Course” gedoen het, het die kinders geleer van touwerk. Hulle het agt verskillende knope leer maak en ons kon hulle myle vêr hoor lag en gesels. Hulle het dit werklik waar geniet!

Laataand het Wim die sterrelesing aangebied. En met ʼn snoesige slaapsak, ʼn koel somersbriesie, die pragtige sterrehemel en rustige musiek het die ouens rustig aan die slaap geraak. So het ons die dag afgesluit – met vrede in die hart onder die sterre…

Dag 5

Die kinders was vir die laaste keer boerplaas toe om hul oggendtake uit te voer. Daarna het Wim ʼn paar noodhulpbeginsels met hulle hanteer byvoorbeeld verdrinking, KPR, verstikking, wonde, epilepsie ens.

Ná middagete het die ouens gereed gemaak vir die groot uitkamp in die bos. Na ʼn vêr ent se stap met alles wat hulle nodig gaan kry op hul rug, het ons kamp begin inrig. Tente is opgeslaan, ʼn bosstort is gebou, vuur is gemaak en wagstaanbeurte is uitgewerk. Basiese oorlewingsvaardighede en kampinrigting in die veld is vir hulle geleer.

Almal het opgewonde gewag om hul makker deur die bosse te sien aankom ná die groot jagtog. Gustav was die wenner van ons skietkompetisie en het die voorreg gehad om saam met Terrance ʼn blesbok te gaan jag. Terwyl ʼn paar kinders die vleis vir aandete versorg het, moes ander na die vuur omsien en seker maak dat die kampterrein veilig is vir die nag se uitslaap. Jayden was ons sjef vir die aand en was baie trots op sy kookvernuf.

Die kinders was absoluut in hul element tydens die veldskool. Tot so ʼn mate dat die graad 10’s bekommerd was dat hulle nie in 2021 weer die geleentheid sal kry vir die volgende een nie.

As jy dus graag jou kind wil stuur, kontak Berchtesgaden by 083 250 7989 en laat jou besonderhede wat sal verseker dat jy eerste die kennisgewing en program vir 2021 sal kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.