‘FroueVonds’: Die seisoene van vrouwees

Louret van Rooyen is ’n superma en blogger van Da Momhood. Sy deel gereeld haar ervaring as jong enkelma van vyf kinders. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Louret van Rooyen, ’n superma en blogger van Da Momhood, deel gereeld haar ervaring as jong enkelma van vyf kinders. Hou haar blad dop vir haar jongste video’s oor ma-wees en wees gereed om lekker te lag en huil.

Wat beteken dit om vrou te wees?

Dié vraag draai al vir dae deur my gedagtes en soos ek voor my rekenaar sit om my gedagtes vas te pen oor wat dit vir my beteken om vrou te wees, vra ek myself: Wat definieer my vrouwees?

Mooi aantrek? My ronde kurwes? My liefde vir sjokolade en rooi wyn? My sagte drukkies en rooi lippe? My lang donker hare en lang wimpers?

Of is dit die slapelose nagte van ’n enkelma wat haar siek kinders versorg? Is dit die hope wasgoed wat ek daagliks moet opvou en die skottelgoedwasser deur haar kraampyne moet help, want sy kry aanhoudend kleintjies. Is dit die moeilike vrae wat ek moet antwoord oor hoekom Mamma en Pappa geskei is en hoekom my maatjies my boelie by die skool? Is dit die bekommernis van waar en hoe ek geld bymekaar gaan skraap vir daardie nuwe hokkiestok of skoolfoto’s wat ek so graag teen my muur wil hang?

En skielik maak ek myself stil. Wat definieer mý vrouwees?

Vrouwees het verskillende seisoene. My seisoen definieer my vrouwees. Ek is nou ’n enkelmamma en ek verloor myself dikwels in my seisoen. Ek leer so baie van myself, hoe sterk ek as vrou kan wees. Hoe ek soms ’n mamma én pappa kan wees. Hoe ek na myself moet kyk, want ek het vyf lyfies wat na my opkyk en ook op hul manier probeer definieer wat vrouwees is in die voorbeeld wat ek vir hulle stel. Hoe ek my kinders dissiplineer om eendag ’n verskil te maak in ons samelewing. Hoe ek moet kophou deur al die chaos. Dit álles definieer my vrouwees nou, op hierdie oomblik.

My seisoen herinner my ook gereeld daaraan dat ek na myself moet kyk. Dat ek vir my sjokolade en rooiwyn moet koop en my lippie rooi moet maak en my lang donker hare uit die pony moet haal en mooi moet stilleer. Ek moet my vrouwees vier. Ek is nie net ’n ma nie.

Elke vrou, van kleindogtertjietyd af probeer haar identiteit vasmaak. Daar is positiewe en negatiewe stemme in elkeen se lewe wat help om ons identiteit te vorm.

Soms is die negatiewe stemme duideliker en vorm ons ’n negatiewe idee oor wie ons is. In my reis op soek na my ware identiteit, het ek eendag besluit om die negatiewe stemme dood te maak en te luister na wat my Skepper oor my sê. Die Een wat my immers gemaak het. As ek weet wat sê Hý oor my, klou ek dááraan vas. Wanneer die negatiewe stemme oor ’n vrou se identiteit – so ongenaakbaar op sosiale media – so bietjie harder raak as God se stem, moet ek eenkant staan en weer besluit… Ek ís goed genoeg. Ek is goed en ek is genoeg. Ek moet myself eerste lief hê, dis die maatstaf waarmee ek almal om my liefhet. Ek moet my vrouwees liefhê – hoe God mý as vrou gemaak het.

Daardie liedjie van Jan de Wat; “My nooi is in ’n nartjie”, kom by my op en ek proe sommer daai nartjie. Ek ruik daardie kaneel. Elke vrou is anders. Elkeen lyk en ruik anders. Elkeen is in haar eie unieke seisoen. En dít definieer haar vrouwees.

Of dit nou ’n jong tienermeisie is wat haarself probeer vind tussen puberteit en jong liefde, of die student wat ’n nuwe wêreld van onafhanklikheid ontdek, die bruid wat haar voete vind in ’n huwelik, of die splinternuwe mamma met ’n splinternuwe babalyfie. Dis dalk die mamma wat smiddae kosblikke skrop en huiswerk help doen, die beroepsvrou wat haar stempel probeer afdruk en die korporatiewe leer klim. Of dis die ma wat haar kinders afsien by die universiteit en terugkeer na ’n leë huis. Dalk is dit sy wat sy weer op ’n tweede wittebrood kan gaan of die trotse ouma wat skelmpies lekkers vir haar kleinkinders gee. Dit kan die vrou wees wat borskanker het en die oorlog probeer wen, die vrou wat deur ’n egskeiding gaan en haar voete moet vind as enkelvrou. Of die een wat langs haar lewensmaat se graf staan.

Daardie vrou… in haar spesifieke seisoen, definieer haar vrouwees. Elke vrou beleef dit anders.

En dis waarskynlik die geheim om suksesvol vrou te wees. Omarm jou seisoen. Aanvaar wie jy is, hoe die lewe jou reeds gevorm het en weet dat jy kan kies wie jy wil wees – net jý kan dit verander.

Maar weet ook dat jy goed genoeg is. Jy is goed en jy is genoeg. Net soos jy is.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.