Gaan speel!

playing-outside.jpg

Foto: Babyworld.co.uk

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Lente is om die draai, wat beteken dat dit tyd is om die kinders te stuur om buite te speel… Nie net tot jou voordeel nie, maar ook hulle s’n! Alhoewel buite speel dikwels ’n lewensredder is vir besige ma’s wat dinge in die huis gedoen moet kry, hou dit ook vir kinders tonne voordele in.

Ongestruktureerde buitespel gee aan kinders ’n gevoel van vryheid en ’n groter geleentheid vir ontdekking. Omdat dit hulle toelaat om met energie en entoesiasme te hardloop en speel, stel dit hulle ook in staat om hul verbeelding en kreatiwiteit op ’n unieke wyse aan te wend.

Deur buite te speel, leer kinders ook waardevolle vaardighede, van kommunikasie en samewerking tot empatie en uithouvermoë. Buite speel is inderwaarheid noodsaaklik vir die gesonde ontwikkeling van jong kinders.

’n Wye reeks ontwikkelingstake, wat verkenning, waagmoed, die ontwikkeling van fyn en groot motoriese vaardighede en die opbou van basiese kennis insluit, kan mees doeltreffend geleer word deur buite te speel. Maar dit is nie die enigste redes waarom jy vir jou kinders moet sê om buite te gaan speel nie! Hier is nog ’n paar:

  • Buitespel is verbeeldingryk en stimuleer kreatiwiteit.
  • Dit bied ’n multi-sensoriese ervaring – kinders sal dinge sien, hoor, ruik en voel wat nie tydens binnespel aan hulle beskikbaar is nie.
  • Buite speel moedig samewerking aan, bevorder probleemoplossing en leierskapvaardighede, en verbeter luister- en kommunikasievaardighede.
  • Dit verbeter aandagspan en volharding.
  • Deur in die natuur te speel word angs fisiologies verlaag.
  • Tyd in die natuur ontwikkel respek en empatie vir ander lewende wesens.
  • Buite speel verbeter kinders se vlak van fisiese aktiwiteit en gee hul immuunstelsel ’n hupstoot.
  • Dis pret!

Die beste van als is dat kinders nie veel nodig het om hulself in die buitelug te vermaak nie, en selfs die kleinste spasie kan voldoende stimulasie bied. So, met die dae wat langer word en die temperature wat styg, waarom moedig jy nie jou kind aan om die volgende te probeer nie:

  • Hardloop deur die sproeier
  • Plant iets in die tuin… of grawe sommer net in die grond
  • Gaan op ’n goggajag – ’n vergrootglas is noodsaaklik!
  • Verf klippe met waterverf (en spuit dit dan met die tuinslang skoon)
  • Ry fiets
  • Klim ’n boom of klouterraam
  • Speel met ’n bal
  • Gaan stap met die hond
  • Bak modderkoekies
  • Lê op die gras en soek vorms in die wolke
  • Speel met ’n hoepel, springtou of albasters

Wanneer jy jou kind stuur om buite te speel, laat hom toe om homself uit te daag en sy vaardighede te beproef. Onthou, die neem van kleiner risiko’s vorm ’n noodsaaklike deel van speel en laat dikwels jou kind toe om nuwe take te bemeester of sy vrese te oorkom. Dit is ’n belangrike deel van grootword en sal onafhanklikheid aanmoedig.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.