Gee jou ontwerploopbaan ʼn hupstoot met dié ideale pos

(Foto verskaf)

Deur Heléne Leonard

Die aanlyn wêreld word net groter en groter, en geleenthede vir ontwerpers is byna eindeloos. Daarby bars die internet uit sy nate en dit groei teen ʼn onmeetbare spoed, en daarom is geskikte kandidate vir twee beroepe in die ontwerpveld groot in aanvraag – ʼn gebruikerskoppelvlak-webontwerper (“user interface designer”, oftewel ʼn UI-webontwerper) en ʼn gebruikerservaring-webontwerper (“user experience designer”, oftewel ʼn UX-webontwerper).

Wat doen ʼn UI-webontwerper?

Ontwerpers wat ʼn aanvoeling het vir die estetiese deel van hoe ʼn webblad lyk, sal geskikte kandidate vir hierdie pos wees. ʼn UI-webontwerper kyk na die algehele gevoel van die webblad en hoe al die dele op die webblad lyk. ʼn UI-ontwerper fokus op dit wat vir ʼn gebruiker van webblaaie en apps visueel die beste en doeltreffendste kan werk.

Wat doen ʼn UX-webontwerper?

Die geskikte ontwerper vir dié posisie se doel sal wees om die gebruikerservaring van webblaaie optimaal te verbeter. ʼn UX-webontwerper kyk meer na hoe gebruikersvriendelik die webblad se funksies en ontwerp is. Die ideale kandidaat sal ervaring hê van app-ontwerpe, die ontwerp van webblaaie en wat mense se algehele ervaring van gewilde webblaaie is. So ʼn kandidaat moet ʼn natuurlike aanvoeling hê vir hoe ʼn gebruiker op ʼn webblad sal werk en hoekom gebruikers van sekere webblaaie hou. Die kandidaat sal ʼn webblad ontwerp wat nie net esteties mooi is nie, maar wat vir ʼn gebruiker gerieflik sal werk. Daarom werk albei vir die gebruiker en is aan die gebruiker se kant.

Dus het UI- en UX-ontwerp eienskappe gemeen – en daar is beslis ʼn mate van oorvleueling – maar die velde verskil fundamenteel wanneer dit by hul fokus en verantwoordelikhede kom.

“UX-ontwerp is ʼn bietjie meer analities en UI is ʼn bietjie meer visueel en nouer verwant aan iets soos digitale grafiese ontwerp,” sê die ontwerpstrateeg Stefan Grobler. “Alhoewel die twee ten opsigte van sommige aspekte soortgelyk is, is hulle ook baie, baie verskillend.”

Dikwels werk mense in hierdie rolle in dieselfde span – of soms is dit een persoon wat albei hoede dra. Uiteindelik kan albei velde ʼn organisasie se vermoë versterk om produkte te skep wat goed lyk, optimaal werk en gebruikersvriendelik is. Werkgewers wil dus ontwerpers aanstel wat veral die UX-hoed dra.

2023 gaan ʼn groot jaar in die ontwerpwêreld wees. Maklike webblaaie en mooi webblaaie is ʼn ingewikkelde konsep om te bemeester, en kundige ontwerpers is daarvoor nodig. Daarom is ʼn pos as UX- of UI-webontwerper uiters gesog.

As jy by die bogenoemde poste aanklank vind en oor ervaring beskik, kan jy gerus hier klik om vir die UX-pos aansoek te doen, en hier klik om vir die UI-pos aansoek te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.