Gehoorverlies in die eerste jaar ná geboorte

(Foto: Ana Tablas/Unsplash)

Deur Wilmaré du Buisson

Navorsing deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dui aan dat ses in elke duisend babas wat in Afrika suid van die Sahara gebore word, word met gehoorverlies gebore of hulle verloor hul gehoor binne die eerste week.

Dié statistiek is kommerwekkend as mens in ag neem dat slegs 10% van die babas wat jaarliks in Suid-Afrika gebore is, se gehoor getoets word. Die rede hiervoor is dat gehoortoetse by staatshospitale nie standaardpraktyk is nie.

Verder wys navorsing vir ons dat oor die 90% van babas met gehoorverlies aan families gebore word wat geen vermoede het dat hul baba gehoorverlies kan hê nie. Dus, as jy jou baba ontvang van die suster in die staatshospitaal en daar word vir jou vertel, “Alles is reg”, het hulle heel dikwels nie jou baba se gehoor getoets nie. As ’n familie wat pas ’n nuwe toevoeging tot hul gesin gekry het, dink mens nie aan al die toetse wat nie gedoen word nie en, soos tevore gesê is, het ’n mens gewoonlik geen rede om oor die gehoortoetse te vra nie – by ’n pasgebore baba is daar nie juis tekens wat dui op gehoorverlies nie en ongelukkig, omdat elke kind se ontwikkeling in die eerste jaar uniek is, kan mens ook nie na spesifieke mylpale verwys nie. Dit is dus heel algemeen dat gehoorverlies eers by ’n baba van agtien maande formeel gediagnoseer word. In hierdie omstandighede is dit baie belangrik om dadelik na intervensies te kyk waar jou kind so vinnig as moontlik taal kan aanleer. Mense vergeet dikwels dat taalontwikkeling verband hou met verskeie kognitiewe funksies soos waardes, doelwitte, motivering en dit bewerkstellig hoë kognitiewe prosessering.

Dus is dit baie belangrik vir jou kind se ontwikkeling dat jy so vinnig as moontlik jou kind se gehoor laat toets. In privaat hospitale is dit gewoonlik een van die standaardtoetse, maar vir families wat hul kinders in staatshospitale of klinieke gehad het, is dit baie belangrik om vir daardie toets te vra. Dit kan dalk gebeur dat die suster jou dan na ’n ander hospitaal of kliniek verwys; sy kan dalk selfs vir jou sê om ’n afspraak te maak en op ’n ander dag terug te kom. Die rede hiervoor is omdat die apparate en die mense wat die gehoortoets, skaars is, en hulle het of vaste dae wat hulle by hospitale en klinieke werk of hulle kom op versoek. Die belangrike ding om hier te onthou, is om te vra vir die gehoortoetse – hulle sal dan vir jou die regte inligting verskaf.

Gehoorverlies in babas kan wees as gevolg van genetika, lae geboortegewig, tekort aan suurstof met geboorte, virusinfeksies in die moeder (rubella, sifilis), en as die moeder sekere dwelms misbruik het. Dit kan ook selfs gebeur dat jou baba ná geboorte ’n gehoortoets gehad het, maar dan later sy gehoor verloor het.

Redes vir gehoorverlies ná geboorte sluit die volgende in: geelsug, kroniese oorinfeksies, masels, pampoentjies, breinvliesontsteking, medisyne vir neonatale behandeling van malaria, en tuberkulose of kanker wat middelweerstandig is.

Daar kan verskeie redes wees dat ouers hulle dalk in spesifieke omstandighede vind en om nóg iets op die lys by te voeg om oor te bekommer, is nie noodwendig die beste praktyk nie. Daarom kan ons kyk na die taalontwikkeling van die gewone baba.

Ongebore babas kan al in die laaste termyn van swangerskap die ritme van hul huistaal, en verskeie stemme herken. Hulle kan nog nie onderskeidelike woorde hoor nie, maar hulle kan al onderskei tussen hul huistaal en ander tale. Omdat soveel van ons kognitiewe ontwikkeling afhanklik is van taal, is babas ook gebore met ’n natuurlike kapasiteit om taal aan te leer. Van geboorte tot op een jaar verwys ons na die prelinguistiese fase van taalontwikkeling. In hierdie eerste jaar begin babas meer bekend word met die taal. Eers eksperimenteer hulle met verskillende soort huil en verskillende geluide.

Dan, vanaf ongeveer ses na agt maande, begin die babas babbel. Dis wanneer hulle ’n klomp lukrake geluide bymekaar voeg wat dalk bekend kan klink, maar nie regtig ’n betekenis het nie. Wat belangrik in dié fase is, is die terugvoer en versterking wat hulle van hul omgewing kry. Die ma sal byvoorbeeld ook haar taal vereenvoudig as sy met haar baba praat en na die hond wys en sê, “Kyk die woef”, en as baba dan die woord woef herhaal, word baba vreeslik geprys. So fasiliteer terugvoer van die omgewing waarin die baba is ook sy taal. Ná een jaar begin die een- en tweewoordestadium. Dis wanneer hulle begin met baie kort en eenvoudige sinne.

Vir ’n dowe baba sal hierdie fases dalk dieselfde lyk, na gelang van wanneer die baba sy gehoor verloor het. Dit is ook belangrik om te onthou dat hierdie babas nog steeds ’n natuurlike aanvoeling het om taal aan te leer. In die prelinguistiese fase van die babas eksperimenteer hulle ook steeds met verskeie soorte huil en verskillende geluide. Selfs gedurende die babbelstadium kan hulle ook dalk toevallige uitlatings soos, “Dada” maak en die familie sal dalk die uitlating toeskryf aan die begin van taalontwikkeling. Dit kan ook afhang van die graad van die baba se gehoorverlies, maar omdat die babas nie hulself en hul ouers mooi kan hoor nie, sal die taalontwikkeling nie verby die eerste helfte van die prelinguistiese fase kan vorder nie.

Dit is belangrik om te onthou dat hierdie slegs aanduidings is van die taalontwikkelingsproses. As jou kind nie ná ’n jaar eenvoudige sinne gebruik nie, beteken dit nie noodwendig dat jou kind doof is nie. Daar kan verskeie redes wees hoekom sekere kinders later as ander begin praat.

Moontlike aanduidings of praktiese aktiwiteite om te kyk of my baba dalk gehoorverlies het

Omdat daar min tekens van gehoorverlies in die eerste jaar van die baba se lewe is, het navorsing gekyk na die verskillende maniere waarop babas met voorwerpe speel. Die navorsing het vir horende en dowe babas verskillende voorwerpe gegee om mee te speel. Wat hulle opgemerk het, is dat babas hulself bekendmaak met die voorwerpe op verskillende maniere.

Eerstens voel die babas gewoonlik die speelding, dan sal hulle die speelding gewoonlik in hul mond druk om verder ondersoek in te stel. Daarna sal hulle die speelding begin skud of kap om ouditoriese terugvoering te kry. Dowe babas spandeer gewoonlik nie so baie tyd in die skud of kap van die voorwerp nie omdat hulle nie sensoriese terugvoering op hierdie manier kan ontvang nie. Hulle sal dus veel eerder met die speelding in hul mond speel of aan dit vat. Dit is dalk moeilik om so ’n onderskeid te tref, maar toets hoe jou baba reageer met speelgoed wat geluide maak. Jy kan dalk twee stukke speelgoed vir jou baba gee: een wat geluide maak en een wat stil is. Kyk of daar ’n reaksie is wanneer jou baba ’n geluid hoor. En kyk of hy anders speel met die speelding wat geluide maak as die een wat “stil” is.

Die heel maklikste en vanselfsprekende toets is om te kyk of jou baba reageer wanneer jy met hom of haar praat sonder om vir hom of haar te kyk. Baie keer kan ’n mamma onder die indruk wees dat die baba haar hoor wanneer sy met hom of haar praat, want dit lyk of die baba reageer, maar dis belangrik om te onthou dat babas baie sensitief is vir gesigsuitdrukkings. Dus, om te toets of jou baba van ouer as sewe maande regtig verstaan, probeer dalk iets vir hom of haar te sê sonder om vir hulle te kyk of sonder om addisionele gebare te maak. Soos, byvoorbeeld: “Wil jy jou melkies hê?” of “Waar is Pappa?” Jou baba hoef nie te praat nie, maar kyk na die reaksie, soos ’n kopknik of die oë wat begin soek, ensovoorts.

Op die ou end wil mens net weet of jou baba op gepaste klanke reageer. Baie dowe kinders kan slegs harde geluide hoor. Daarom moet jy kyk of hy of sy op al die normale geluide wat jy kan hoor, reageer. Die beste aanduiding is altyd jou sesde sintuig. As jy dalk vermoed iets is nie pluis nie, sal dit goed wees om ’n afspraak by ’n dokter of spesialis te maak, al is dit net ter wille van gemoedsrus.

  • Hierdie is die eerste berig uit ’n reeks van vier deur Wilmare du Buisson. Sy is tans besig met haar meestersgraad in Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan die Universiteit van die Vrystaat. Du Buisson en Solidariteit Helpende Hand het kragte saamgesnoer om deur Helpende Hand se nuutgestigte tak vir mense met gehoorgestremdhede, bewusmaking te skep oor kinders met gehoorgestremdheid. Vir meer inligting besoek www.shhgehoorgestremdhede.co.za of stuur ’n e-pos aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.