Gemeenskapsbetrokkenheid nodig om kubermisdaad te knak

Argieffoto. (Foto: Cottombro Studio/Pexels)

Hoewel sekere internetverwante oortredings in 2021 met die bekragtiging van die wetsomwerp op kubermisdaad in Suid-Afrika gekriminaliseer is, beteken dit nie dat gemeenskappe en internetgebruikers op hul louere kan rus wanneer dit kom by aanlyn veiligheid nie.

Inteendeel, gemeenskapsbetrokkenheid en waaksaamheid onder die breër publiek is nou belangriker as ooit om kwesbares te beskerm en kubermisdadigers werklik aan die pen te laat ry.

Só meen dr. Duane Aslett, ʼn senior lektor in forensiese rekeningkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus en voormalige polisiebeampte, staatsaanklaer en forensiese ondersoeker.

Hy het Dinsdag tydens ʼn aanlynbespreking van die NWU oor die bekamping van kubermisdaad gepraat en verduidelik dat wetgewing en beskermingsdienste nie alleenlik die stryd teen aanlyn misdadigers kan wen nie.

Hy meen dit is belangriker om jouself proaktief teen dié dade te beskerm.

“Eens op ʼn tyd was dit makliker om misdadigers uit te ken, maar nou kan dit enigiemand wees omdat skelms agter skerms en onopspoorbare aanlyn profiele skuil. Wetstoepassers wêreldwyd sukkel dus om by te hou en genoeg kuberkundiges op te lei om self dié tipe misdadigers vas te trek,” verduidelik Aslett.

“Danksy die Covid-19-pandemie is baie meer voete ook die afgelope drie jaar na die internet toe gelok, wat groter geleenthede vir aanlyn skelmstreke geskep het. Ons kan ongelukkig nie weghardloop van die digitale ruimte nie, maar moet voorkomend optree om onsself daarin te beskerm.”

Volgens Anslett het die digitalisering van persoonlike én besigheidsdienste, wat veral gedurende die Covid-19-pandemie toegeneem het, daartoe gelei dat Suid-Afrika ʼn groter kookpot vir kubermisdaad geword het.

Dr. Duane Aslett, ʼn senior lektor in forensiese rekeningkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU). (Foto: NWU)

Suid-Afrika was ook die land wat die sesde meeste kubermisdaad in 2021 ervaar het, en ongeveer een uit elke drie transaksies wat per selfoon hier uitgevoer word, vind op bedrieglike wyse plaas volgens navorsing wat deur Surfshark, ʼn kuberveiligheidsmaatskappy, gedoen is.

Volgens Aslett dui navorsing daarop dat kinders en eensame individue wat aanlyn na liefde en geselskap soek die twee grootste slagoffers is.

“Romanse-swendelary is wêreldwyd ʼn probleem en gebeur wanneer skurke ʼn verhouding met eensame mense aanlyn aanknoop en hulle manipuleer en besteel.

“Hoewel dit verregaande klink, val veral ouer mense vir dié skelmstreke. Daarom moet ons ons familielede en vriende inlig en waaksaam wees oor enige verdagte aanlyn verhoudings wat gevorm word,” verduidelik Aslett.

“Bank-verteenwoordigers het my al vertel hoe hulle kliënte skakel wat skielik groot transaksies na nuwe rekeninge maak in ʼn poging om hulle teen kansvatters te waarsku. Dit gebeur dikwels dat dié kliënte in ontkenning oor hul verhouding met die aanlyn swendelaar is óf selfs die bank smeek om nie hul familie te kontak en die transaksies aan hulle te verklap nie.”

Kinders en tieners is volgens Aslett ook van die kwesbaarste slagoffers en word maklik op sosialemediaplatforms geteiken.

“Ongelukkig is dié tipe kubermisdaad, waar kinders geleidelik en onbewustelik seksueel rypgemaak word (grooming), of hulself blootstel en foto’s en beeldmateriaal van hulself aanlyn heen en weer stuur, baie meer algemeen as wat ouers besef.”

Hy benadruk dat ouers bewus moet wees van hul kinders se aanlyn verhoudinge en hul kommunikasie kanale moet monitor, en stel voor dat skole leermateriaal oor aanlyn veiligheid by hul kurrikulum kan inkorporeer.

Aslett stel verder die volgende wenke voor om jou kuberwelstand te verseker:

  • Moenie op onbekende skakels klik of verdagte e-posse oopmaak nie.
  • Moenie jou ID-nommer, bank- en selfoonkodes telefonies aan dienssentrums bevestig nie, veral nie as hulle jou self geskakel het nie. Banke sal volgens Aslett nooit vir dié inligting vra nie.
  • Lees resensies voordat jy van ʼn aanlyn winkel gebruik maak, veral as dit nie ʼn bekende een is nie.
  • Wees waaksaam om van publieke Wi-Fi gebruik te maak, veral waar daar vir jou e-posadres gevra word om in te teken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.