G’n resep vir tieners grootmaak nie

(Argieffoto)

Die aanbreek van die tienerjare en die onafwendbare tienerverhoudings wat volg laat ouers dikwels met talle onbeantwoorde vraagstukke, moedelose dae en slapelose nagte.

Maroela Media het met prof. Vollie Spies, ’n maatskaplike werker en dosent aan die Universiteit van Pretoria in maatskaplike werke en kriminologie, oor tienerverhoudings, -ontwikkeling en ouers se reaksie daarop gesels.

Ontwikkeling en verandering is nie skrikwekkende woorde of terme wat ouers liefs in die vloekblik moet laat nie. Dit is ’n deel van die lewe wat nie omseil kan word nie en die beste manier waarop ouers hulself daarvoor kan voorberei is om dit te aanvaar en hulself te vergewis van wat dit werklik beteken.

Die eerste en belangrike stap in hierdie proses is die verkenning en dikwels onthou van lewens- en ontwikkelingsfases.

“Wanneer ouers aan my deur vir hulp kom klop, besef ek dikwels dat talle mense nie bewus is van natuurlike ontwikkelingsfases nie. Dié fases is nie iets wat ons bloot kan verander of buig soos wat ons wil nie – dis ʼn gegewe.”

Spies benadruk dat wanneer ouers bewus is van dié fases en weet wat dit mag inhou, sal hulle beter voorbereid wees om die taai omstandighede wat dikwels met tiener-grootmaak gepaard gaan te hanteer.

Sy verduidelik dat tieners dikwels van 15- en 16-jarige ouderdom begin voelers uitsteek om romantiese verhoudings aan te knoop. Die bewuswording van romantiese gevoelens mag dalk begin kop uitsteek met die aanvang van puberteit rondom die ouderdom van 11, 12 en 13, maar dit beskryf sy as die blote verkenning van hul eie ontwikkeling.

“Gaan kry vir jou literatuur oor menslike ontwikkeling, blaai daardeur en kyk waar jou kind in dié stadium is. Hou dit op jou boekrak en wanneer jy benoud raak oor wat nou met jou kind aan die gang is, haal dit af en vergewis jouself.”

Sy benadruk egter dat hoewel dié soort boeke waardevolle toerusting vir ouers is, daar nie ’n resep is wat vir ouers presies verduidelik hoe tieners grootgemaak moet word nie.

Die rede hiervoor is bloot nie net omdat elke tiener verskil nie, maar ook omdat hul omstandighede verskil.

“Dis elke keer ’n nuwe treetjie in ’n nuwe wêreld waar risiko’s geneem gaan moet word. En elke kind se wêreld verskil van die res.”

Hoewel sy voorstel dat ouers sommer by die aanvang van tienerontwikkeling aanvaar dat hul kinders meisies en kêrels by die huis gaan aanbring, moet dit nie gepaard gaan met die aanknoop van seksuele verhoudings waarvoor tieners nog nie gereed is nie.

“Onomwonde is kinders jonger as 18 nie emosioneel daartoe in staat om enigsins die verantwoordelikheid van seksuele intimiteit as deel van ’n romantiese verhouding te bestuur nie.”

Kinders begin op die ouderdom van drie tot vyf besef wie hulle is en hoe hulle geslagsgewys van ander mag verskil. Spies stel voor dat ouers dié geleentheid gebruik om met hul kinders te gesels oor waar hulle verskil van die seuntjie of dogtertjie wat langs hulle in die klas sit.

Dié bewuswording moet deur ouers begelei word, en die begeleiding moet deur die kind se tienerjare voortduur.

Een van die hoekstene van ’n standvastige verhouding tussen ouer en tiener is ’n oop kommunikasiekanaal. Tieners moet die vrymoedigheid hê om oor sekere kwessies met hul ouers te gesels.

Daar is egter ’n fyn balans wat gehandhaaf moet word tussen ’n verhouding waar kommunikasie maklik kan plaasvind, en die verslapping van ouerskapsleisels bloot om as vriend eerder as ouer van die kind gesien te word.

“Hulle beste vriende is in hul eie portuurgroep. ’n Kind wil struktuur, leiding en veiligheid hê, jy moenie jul verhouding wil verander om by hom of haar aan te pas nie.”

Wanneer die einste tiener dan ontevrede is met die reëls wat in die huis neergelê is, moet ouers daartoe in staat wees om te kan stewig staan in dit wat hulle gesê het.

Spies benadruk dat ouers juis dan moet besef dat dit wat hulle sê nie noodwendig gewildheid by hul tiener gaan wen nie, maar dat dit steeds nodig is om struktuur aan die dag te lê.

Wanneer ’n tiener hom- of haarself op ’n emosionele wyse uitdruk teenoor hierdie reëls deur sy of haar ouers goed toe te snou, is dit belangrik vir die ouer om ’n tree terug te neem en nie dadelik daarop te antwoord nie.

“Onthou, ons is groot en volwasse. Die lelike goed wat ʼn kind sê is ontoepaslik, maar dit gaan nie help om self ook so te reageer nie. Kinders let meer op as wat mens besef en is baie sensitief.”

Daarmee saam sê sy dat ouers nie hul tieners aan omstandighede moet blootstel waar hulle moet verantwoording doen vir dit waarvoor die tiener nog nie reg is nie.

“As jy gaan kyk na die ontwikkelingsfases, sal jy sien dat daar hier en daar verandering aan die emosionele volwassenheid van jou tiener is. Dit sal vir jou ’n idee gee van dit waarby jy moet sterk staan en daar waar jy leiding moet gee.”

Sy is ook van mening dat tieners nie in watte grootgemaak moet word nie.

“Die oomblik wat hulle uit daardie watte ontsnap, het hulle geen vaardigheid om moeilike omstandighede te hanteer nie. Hulle leer deur foute te maak en met hul ouers daaroor te gesels.”

Dit is juis dié foute wat ouers sonder veroordeling moet aanvaar en waar die begin van ’n oop kommunikasiekanaal tussen ouer en kind geskep word.

“Kinders moet weet dat hulle na hul ouers kan draai om leiding te kry wanneer hulle ’n fout gemaak het.”

Die vaardigheid om onvoorwaardelik daar vir jou kind te wees, beskryf sy as ’n geweldige uitdaging vir meeste ouers.

Hoewel sy glo dat tieners die geleentheid gegun moet word om romantiese verhoudings aan te knoop, is sy nie van mening dat skoolgaande tieners en mense wat reeds ’n paar jaar in volwassenheid gestap het, verhoudings moet hê nie.

“Wanneer iets ontoepasliks gebeur, moet gesprekvoering plaasvind. Die kind weet nie noodwendig dat dit nie reg is of verstaan selfs wat dit beteken nie.”

In die proses van tiener grootmaak moet ouers onthou dat dit toepaslik is om foute te maak, dat hulle daardie foute kan erken en dat hulle saam met hul tieners deur die emosionele en romantiese groeipyne worstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.