Google, YouTube verskerp kinderveiligheid

(Foto: Brett Jordan/Unsplash)

Google het Dinsdag ʼn nuwe reeks aanlyn veiligheidsfunksies vir kinders bekend gestel, waaronder ʼn private verstelling vir video’s wat deur tieners opgelaai word en ʼn vangnet vir advertensies wat aan gebruikers jonger as 18 vertoon word.

Die nuwe funksies is ingestel te midde van stygende kommer oor aanlyn kinderuitbuiting en -veiligheid in ʼn tydperk waarin internetgebruik weens die wêreldwye pandemie toegeneem het.

Die nuwe funksies beïnvloed ook Google se YouTube-videoplatform en aanlyn dienste soos die soekfunksie en Google Assistant.

“Namate kinders en tieners meer tyd aanlyn deurbring, raak ouers, opvoeders, kinderveiligheids- en privaatheidskenners en beleidmakers toenemend meer bekommerd oor kinderveiligheid,” het Mindy Brooks, produk- en verbruikerservaringsdirekteur van Google, gesê.

“Ons betrek gereeld hierdie groepe wat gedeelde bekommernisse het.”

Google se “safe search”, wat sensitiewe en volwasse inhoud uitsluit, sal die verstekverstelling vir gebruikers onder 18 word, wat tot nou slegs die geval vir gebruikers onder 13 was.

Op die uiters gewilde platform YouTube sal inhoud van 13- tot 17-jariges voortaan sonder uitsondering privaat wees.

“Met dié verstelling kan die video’s slegs gesien word deur die gebruikers en wie ook al hulle verkies,” het James Beser, hoof van produkbestuur van YouTube Kids and Family, in ʼn bloginskrywing gesê.

“Ons wil jong gebruikers help om ingeligte besluite te neem oor hulle aanlyn voetspore en digitale privaatheid. As gebruikers wel die inhoud openbaar wil maak, kan hulle die sigbaarheidsverstelling aanpas en ons sal herinnerings aanstuur wat aandui wie die video kan sien.”

Google sal dit ook makliker maak vir families om te versoek dat ʼn kind se foto’s van Google se soekfunksie verwyder word.

“Om foto’s so te verwyder beteken natuurlik nie dit is heeltemal van die internet af geskrap nie. Ons glo egter hierdie verandering sal help om jong mense meer beheer te gee oor hulle aanlyn foto’s,” het Brooks bygevoeg.

Google sal ook die liggingsgeskiedenis van alle gebruikers onder 18 wêreldwyd afskakel, sonder die opsie om dit weer aan te skakel. Dit is reeds vir diegene onder 13 ingestel.

Google sal ook veranderinge aanbring in advertensies wat aan minderjariges bedien word en sal ouderdomsensitiewe kategorieë versper en teikenbasering op grond van ouderdom, geslag of belangstellings van kinders onder 18 verban.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
isabelle

glad nie gelukkig met kinders wat beter fone as hul ouer geslag het nie BUITENDIEN hulle is 13 en kyk tiktok en onheilige videos en sommige ouers of volwassenes is te blind om te sien hul doen eindlik n onreg aan hul kinders Bly google skerp bietjie dinge op