Grondslagfase: Die fundamentele boublok vir leerderprestasie

vetkryte-inkleurboek-inkleur-kleuter-speel

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Impaq

Die grondslagfase begin met die vaardighede wat ʼn leerder in graad R aanleer. Daar word dikwels na dié jaar verwys as die jaar waarin kinders net speel, maar dit is presies wat hulle moet doen. Met die geweldige druk wat die samelewing deesdae op jong leerders plaas en kompetisie tussen ouers oor wie se kind die beste presteer, vergeet ons soms dit wat regtig belangrik is vir ʼn leerder in hierdie fase.

Kan jy nog jou kleuterskooljare onthou? Daar is meestal gespeel, geteken, ingekleur, uitgeknip, geverf, ens. Hierdie vaardighede is van kardinale belang om ʼn leerder gereed te maak vir graad 1. Daar word baie maal van leerders verwag om bo hulle vuurmaakplek te presteer, omdat ouers net nie wil hê dat hulle kind moet agterraak nie, maar is ouers nie besig om hulle kind in die proses te benadeel nie?

Leerders in graad R moet hulle spiere deur groot motoriese en fyn motoriese vaardighede optimaal ontwikkel. Dit het ʼn direkte invloed op hulle konsentrasie en akademiese prestasie. Leerders wat te veel blootgestel word aan skermtyd, ontwikkel swak spiere wat lei tot lae spiertonus. Dié leerders sal tipies hulle hande gebruik om hulle koppe vas te hou, of op hulle arms probeer lê en skryf. Hulle kan nie vir lang tye aanmekaar konsentreer nie, en sal nie die daaglikse take in die klas kan afhandel nie.

ʼn Leerder wat reeds ʼn agterstand het as hulle in graad 1 kom, sal net al hoe verder agterraak soos wat hulle deur die grade beweeg. Teen die tyd wat hulle in graad 4 kom en daar van hulle verwag word om selfstandig te lees en te skryf, is daar baie leerders wat nie aan die standaarde kan voldoen nie of dit net-net maak tot in die volgende graad.

In graad R moet daar ernstig gespeel word, terwyl die boustene vir huistaal en wiskunde goed vasgelê moet word in graad 1 tot 3 vir leerders om in hulle akademiese loopbaan te presteer. In graad 1 tot 3 word alle vakke en konsepte elke jaar herhaal, dit word net ʼn bietjie moeiliker en berei die leerder voor om onafhanklik te leer. Daarom is dit belangrik dat leerders in die grondslagfase die basiese begrippe verstaan voor hul aanbeweeg na die volgende fase in hul akademiese loopbaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

susan ·

Dit sou fantasties wees as ons dit kon regkry soos hier bo genoem. Ons seun het 2 jaar terug graad 1 gedoen. Die pas was so vinnig dat op ‘n stadium was hy so deurmekaar met wat a b en c is. As ek kyk na kinders in die laerskool wat begin uitbrand, dan maak dit my bekommmerd na waarnatoe ons kinders gaan. Moet hulle robotte word. In ons tyd, was die pas en die hoeveelheid werk, baie minder en stadiger en ons het goed uitgekom. Niks fout met ons nie. My hart is benoud vir ons kinders wat onder hierdie geweldige pas en druk moet probeer werk. Ek stem oor die tegnologie, ons moet baie streng wees oor dit anders sit die kinders ons ore aan met dit.

Anton ·

Probleme met kinders se akademie onstaan omdat ouers dink dit is soos in hul skooldae. Deesdae moet ouers presies weet elke dag waarmee kinders besig is op skool. Deur n kind alleen te laat op skool en of net op die sport deel te konsentreer neig na kriminele kinderverwaarlosing. Ouer ondersteuning met skoollewe is vandag selfs minder as in die goeie ou dae met selfsugtige ouers wat geld aanbid en die kinders soos goedkoop juweliersware behandel.

Breytie ·

Eintlik moet alles vêr vroeër begin. Ordentlike taalstruktuur word verwerf voor die derde verjaarsdag, daarom moet daar baie gesprek wees tussen ouers en babas. Konstruksiespel (boublokke) is die basis van wiskunde, dit moet so vroeg as moontlik begin en daar moet horisontaal sowel as vertikaal gebou word. Beweging is lyflike ervaring en dis die manier waarop kleintjies leer. Alle spel is ‘n simulasie van die volwasse wêreld en dis die manier waarop kinders die lewe leer verstaan. Stories vertel en voorlees vir jou kinders is die beste manier om ‘n liefde vir lees te kweek. Televisie kan nie daardie liefde kweek nie want dis onnatuurlik. Sonder daardie liefde is kinders nie gemotiveer om te leer lees nie. Lees hou ook sterk verband met konstruksiespel want geskrewe woorde is vorms wat herken en geïnterpreteer moet word. Om kleintjies vetroud te maak met elektronika, laat hulle speel met defekte rekenaaarskerms en toetsborde om die werklikheid te simuleer, dan sal hulle daaraan gewoond raak. Hulle leer niks deur knoppies te druk en na skerms te kyk nie. Kinders moet met die werklikheid speel so veel as moontlik voor hulle op skoolbanke vas gekluister word en in onnatuurlike bewegings ingedwing word op die sportveld. Sportafrigting behoort vanaf 14 jaar te begin want kinders se beenstruktuur is te elasties vir herhalende inoefening.

Linda Nel ·

Daar moet weggedoen word met CAPS. Dis aaklig. Oppervlakkig en ver te veel werk. Voor graad 1 moet kinder speel, speel, speel! Soveel as moontlik. Modderkoekies, klim en klouter, swem, sandput… Laat hulle net speel. Sit af die tv en iPad. Koop inkleurpotlode, inkleurboeke en leesboeke. Op laerskool moet kinders die minimum huiswerk hê sodat hulle nog kan speel. Fietsry, swaai, op die gras lê en na die wolke staar…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.