Groot reaksie oor appel wat ‘geboelie’ word

Die appels waarmee sy die boodskap oorgedra het (Foto: Facebook via Relax Kids Tamworth)

Die appels waarmee sy die boodskap oorgedra het (Foto: Facebook via Relax Kids Tamworth)

ʼn Onderwyseres van Birmingham, in die Verenigde Koningryk, se waardevolle les oor boelies is in net meer as ʼn week meer as 200 000 keer op Facebook gedeel.

Rosie Dutton besoek gereeld skole om kinders te leer oor boelie en die gevolge wat dit op ander kan hê.

Sy het die afgelope week in ʼn Facebook-plasing vertel van ʼn les wat sy gebruik het om kinders meer oor boelies te leer met behulp van twee appels.

“Ek het vandag in een van ons klasse die kinders aan twee appels voorgestel. Hulle het nie geweet ek het die een appel voor dié gesprek herhaaldelik op die vloer laat val nie, omdat hy nog mooi aan die buitekant gelyk het,” het sy geskryf.

“Tydens die gesprek het ek die een appel weer op die grond laat val en die kinders vertel ek hou niks van daardie appel nie. Ek het gesê die stingel is te kort en die kleur is aaklig. Ek het gesê omdat ek nie van die appel hou nie, moet hulle ook nie.”

Hoewel sommige van die kinders se reaksie eers dié van verbasing was, het hulle die appel tog lelike woorde toegesnou. “’Ek weet nie eers hoekom jy bestaan nie’, ‘jy het tien teen een wurms in jou’ en ‘jy stink,’” het sommige van die kinders gesê.

Dutton het toe voortgegaan om beide appels oop te sny. “Die appel waarvoor slegte goed gesê is, was bruin en vol kneusplekke. Die kinders het dadelik besef lelike woorde skaad nie noodwendig enigiets aan ons beeld aan die buitekant nie, maar dat dit skade binne ons veroorsaak,” het sy verduidelik.

“As mense geboelie word, maak dit hulle van binne seer. Hulle wys dit nie noodwendig aan die buitekant nie.”

Sy het haar intussen tot Facebook gewend om haar verbasing oor die groot reaksie op haar les uit te spreek. “Ek het glad nie die reaksie verwag nie. Dankie vir al jul ondersteuning,” het sy geskryf.

Dutton is verbonde aan die Relax Kids Tamworth-sentrum, wat kinders help om spanning en angs te verwerk en hulle leer van dinge soos die gevolge van boelie deur sewe stappe naamlik spanwerk, respek, portuurondersteuning, konflikoplossing, selfbeeld en selfvertroue.

Lees die volledige inskrywing op haar Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

san ·

Dis baie interessant en ek dink dit kan ook n voorbeeld wees, nie net vir kinders en ouers nie, maar in werksplekke en vir werk spanbou wees vir werknemers en werkgewers. Baie kan daarby baat vind. In werksplekke vind jy ook boelies.

Lance ·

Wat n wonderlike manier om die boodskap oor te kry ….dalk kan SA dit ook gebruik in ons skole …die wat nog staan ;-)

Andrea van Vuren ·

Dink jy (nuwe) Suid-Afrika is bevoeg genoeg om simboliek te verstaan?

Annelie Etsebeth ·

Ons gebruik die soortgelyke vb met die Manners4Minors Senior Boelie Werkswinkels. Ons gebruik ‘n wit papier wat ‘n persoon voorstel. Soos die kinders lelike boelie woorde ens uitskree word die papier bietjie vir bietjie opgefrommel tot ‘n klein balletjie. Ek stryk die bladsy uit, maar die skade is gedoen. Die bladsy sal nooit weer glad en sonder kreukels wees nie.

AmY ·

Ek is byna dertig jaar al klaar met skool, en loop steeds met lestels wat boelies se woorde gelos het. Jy vergeet dit nooit nie, glo my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.