Handige wenke vir oornag-tuisonderwysers

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Aw Creative/Unsplash)

Oornag is werkende ouers die diepkant ingegooi met skoolwerk wat hulle tuis saam met hul kinders moet doen ná die uitbreking van die koronavirus (Covid-19) talle regerings dwarsoor die wêreld genoop het om noodgedwonge ʼn staat van algehele afsondering in te stel om die verspreiding van die virus te bestuur.

Handhaaf ʼn goeie roetine

Diegene wat nie werksaam is tydens die afsonderingstydperk nie, beskou miskien dié tydperk as ʼn blaaskans om agteroor te sit, laat te slaap en lui te wees.

Tog is dit belangrik vir goeie geestesgesondheid om ʼn mate van ʼn roetine te handhaaf, al is jy net by die huis.

“Ons is almal in dieselfde bootjie en dit is belangrik om te verstaan dat daar in hierdie tye goed is wat buite ons beheer is – die virus self, ander mense se reaksies en die regering se besluit oor voorsorgmaatreëls,” sê Cindy Glass, eienaar en stigter van die Step Up-onderrigsentrums.

“Die goeie nuus is dat daar dinge is wat ons wel kan beheer, soos ons eie ingesteldheid en reaksies, persoonlike higiëne, sosiale distansiëring en natuurlik tuisonderrig.”

Glass het sewe wenke indien jy oornag na tuisonderwyser gepromoveer is en dit voel asof jy uit ʼn vliegtuig sonder ʼn valskerm gegooi is.

  1. Hou op om jouself met ander ouers te vergelyk. Jy kan nie misluk nie. Jy kan slegs doen wat die beste is vir jou te midde die omstandighede waarin jy jou bevind.
  2. Gee die toon aan vir positiewe onderrig in jou huis. Die gesprekke wat jy met jou kinders het, sal hul samewerking bepaal. Jou kinders het ʼn ongewone geleentheid vanjaar – ʼn geleentheid om al die werk wat hulle tot dusver by die skool gedoen het, te hersien.
  3. Werk saam met jou kinders aan ʼn rooster. Sodra jy weet wat hulle alles moet hersien, besluit op ʼn realistiese skedule en bly daarby. Deur roetine en struktuur te behou sal die tuisonderrigervaring minder oorweldigend maak.
  4. Werk saam as ʼn span. Ouers en kinders moet saamwerk om hierdie situasie te laat werk. Ouers kan nie verwag om nuwe kennis aan hul kinders oor te dra nie. Dit is onrealisties. Jy kan egter jou kinders help om die kennis wat hul reeds opgedoen het, te hersien.
  5. Ontdek jou kind se kreatiewe kant. Daar is duisende kreatiewe idees op die internet wat strek van kuns tot musiek, dans en speletjies. Gebruik die internet om met idees vorendag te kom.
  6. Ouer leerders kan maklik aanlyn studiegroepe vorm met die hulp van ʼn onderwyser.
  7. Die skoolvakansie lê voor. Laat jou kinders toe om ʼn vakansie te hê – hulle het dit ook nodig.

“Ons weet nie vir hoe lank die koronavirus nog in die omtrek gaan wees nie en as ouers is dit ons verantwoordelikheid om gehoor te gee aan die maatreëls wat die president ingestel het. Nie net vir die veiligheid van ons kinders en geliefdes nie, maar ook vir dié van alle Suid-Afrikaners. Bestee hierdie tyd op ʼn wyse manier saam as familie om mekaar weer te vind. Ons is almal saam hierin en ons sal dit saam deurmaak,” het Glass afgesluit.

Tegnologiese hulpbronne

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Martin du Plessis en Werner Cronjé van kykNET & kie se wiskunde- en wetenskapprogram Klaskamer10, beaam die feit dat kinders in ʼn daaglikse roetine moet bly.

“Leerders moet steeds ʼn sin van verantwoordelikheid behou in hierdie tyd. Omdat skole gesluit is vir ʼn langer tydperk, beteken nie dit is nou langer vakansie nie. Indien leerders voortgaan om ʼn roetine te behou en steeds skoolwerk te doen en vooruit te begin werk, sal dit nie so groot aanpassing wees wanneer skole weer begin nie,” sê hulle.

“Dit is nou baie belangrik dat leerders verantwoordelikheid neem vir hul eie akademiese prestasies – niemand kan blameer word vir die huidige situasie nie; alle leerders moet nou, meer as ooit vantevore gebruik maak van uitstekende materiaal om hulself voor te berei.”

Vir ouers wat bykomende hulp in die tuisklaskamer nodig het, is Klaskamer10 op kykNET & kie, DStv-kanaal 145, die antwoord.

Dié opvoedkundige program fokus op wiskunde en fisiese wetenskappe vir leerders van graad 8 tot graad 12 in die gemak van hul eie sitkamers.

Saam met elke episode kan jy jou gratis werkstuk op die webblad gaan aflaai. Klaskamer10 bied aan ouers die geleentheid om die konsepte saam met die leerders deur te werk. Ouers kan die werkstukke gratis aflaai en die program ook volg om hulself voor te berei om leerders by te staan in die selfstudieproses. Klaskamer10 is ook op DStv Catch Up beskikbaar sodat leerders herhaaldelik daarna in hul eie tyd kan kyk.

Klaskamer10 sal in die komende weke voortgaan met die sillabus soos voorgestel deur die departement van onderwys en sal daarna ook ʼn reeks episodes uitsaai waartydens eksamenhersiening met behulp van ʼn eksamenhersieningsboekie wat leerders van die webblad kan gaan aflaai, gedoen word.

Hulle beveel ook eClass Room aan as ʼn handige bron vir leerders: https://e-classroom.co.za/

Klaskamer10 stel ook saam met die gratis werkstukke ʼn volledige BLIKslim-reeks beskikbaar. Hierdie pakkette sluit omvattende video-lesse, werkboeke, vraestelle, breinkaarte en ander hulpmiddels in – perfek vir tuisonderrig. Sien gerus die Klaskamer10-webblad onder die BLIKslim-skakel. Maak seker om jou pakket so gou as moontlik te bestel sodat leerders onmiddellik daaraan kan begin werk.

“Die beste is om seker te maak dat die webblad wat jy gebruik van ʼn betroubare bron is, saamgestel deur persone wat ondervinding in die veld het,” sê hulle oor ander internetbronne. “Kyk ook na die departement van onderwys se webblad vir baie vorige eksamenvraestelle wat leerders kan doen en op oefen.”

Skakel weeksdae om 15:00 op kykNET & kie, DStv-kanaal 145, in vir Klaskamer10 en besoek Klaskamer10 se webwerf vir bykomende hulpbronne: https://klaskamer10.co.za/.

Bestee meer tyd aan vroeëkinderontwikkeling

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Die teenpool van die opvoedkundige chaos waarin sommige ouers voel hulle onverhoeds gedompel is, is dat algehele afsondering die gulde geleentheid bied om meer gehaltetyd saam met jou gesin deur te bring.

“Dit is nou, meer as ooit tevore, die optimale tyd om te verseker dat ontwikkeling verder as die klaskamer strek,” sê Puleng Motsoeneng, direkteur by Ntataise.

Ntataise is ʼn onafhanklike, niewinsgewende organisasie wat vroue in behoeftige gebiede in Suid-Afrika bystaan om kennis op te doen en vaardighede te leer wat noodsaaklik is om vroeëkinderontwikkelingsprogramme aan te bied en vol te hou.

“Ouers is hul kinders se eerste opvoeders. Deur die heilsaamheid van dié verhouding, sien kinders hul ouers as outoriteitsfigure by wie hulle eerste leer,” sê sy.

“Sosiale distansiëring van kleuterskole en voorskoolse fasiliteite skep die geleentheid vir die gesin om in te tree en die kinders se vroeë ontwikkeling te ondersteun, wat kan help om hulle te beskerm teen alles wat tans in die wêreld om hulle aangaan.”

Motsoeneng sê dat in sommige gevalle kan ouers steeds hul werksverpligtinge nakom en tyd gedurende die dag opsy sit om onderrig in die huishouding aan te moedig.

Ntataise se webwerf bied 17 vroeëkinderontwikkelingsvideo’s met verskillende temas vir ouers aan wat gratis afgelaai kan word.

“Hierdie video’s ondersteun fisieke, geestelike, emosionele, kognitiewe, en sosiale groei en ontwikkeling by kinders.”

Besoek Ntataise se webwerf hier.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.