Heldhaftige hondjies grootskerm toe in ‘Paw Patrol’-fliek

Die heldhaftige hondjies van ‘Paw Patrol’ is nou in ‘n fliek te sien.

Marshall, Rubble, Chase, Rocky, Zuma en Skye is ses bekende brakkies wat hulle as die Paw Patrol wêreldwyd in al wat ʼn huishouding met ʼn jong kind is, tuisgemaak het.

Dié heldhaftige hondjies van Adventure Bay is nou ook op die grootskerm in Paw Patrol: The Movie te sien. Uiteraard is Ryder, hulle tienjarige leier, Cap’n Turbot, Robo Dog, die kat Everest en Tracker ook deel van die span.

Groot opgewondenheid heers wêreldwyd oor die silwerdoekdebuut van dié hondjies. Die rolprent, wat 88 minute lank is, vertel die verhaal van die hondjies se grootste aartsvyand, Humdinger, wat die burgemeester van die nabygeleë Adventure City word en dadelik begin amok maak.

Ryder en sy gedugte span koddige vierpotiges staan oudergewoonte nie terug vir die uitdaging nie. Terwyl een van die hondjies sy verlede in Adventure City onder die oë moet sien, maak ʼn ander hondjie vriende met ʼn intelligente worshond, Liberty.

Die stemme van Iain Armitage, Marsai Martin, Will Brisbin, Jimmy Kimmel, Randall Park, Tyler Perry, Yara Shahidi, Dax Shepard en Kim Kardashian West is in dié fliek te hoor.

Kardashian West het die stem aan die gladdebek-poedel, Delores, verleen en het onlangs die uitreiking van dié fliek gevier met ʼn Paw Patrol-fliekpartytjie by haar huis in Calabasas, Kalifornië.

People het onlangs berig die 40-jarige realiteitster en aktrise het ʼn “private première” aangebied vir haar vier kinders, North (8), Saint (5), Chicago (3) en Psalm (2), asook ʼn paar vriende en hulle kinders.

Kardashian het die aand se verrigtinge met haar 244 miljoen Instagram-volgelinge in ʼn rits video’s gedeel.

In die fliekteater het ʼn Paw Patrol-aksiefiguur en ʼn sagte speelding vir elke kind gewag. Voordat die fliek begin het, het Kardashian ʼn gehoor, wat haar susters Kourtney en Khloe en dié se dogter True Thompson, asook haar broer Rob se dogtertjie, Dream, ingesluit het, toegespreek.

Paw Patrol.

“Ek wil julle almal verwelkom hier by Paw Patrol: The Movie. Ek is so opgewonde dat ek vir my kinders, hulle nefies en niggies en al my vriende my eerste fliek kan wys. Dit is so ongelooflik,” het sy gesê terwyl die gehoor haar toegejuig het.

“Ek het dít vir julle gedoen, want ek weet hoe gek julle oor Paw Patrol is,” het sy aan haar kinders gesê.

Die draaiboek is geskryf deur Billy Frolick, wat ook vir die Madagascar-flieks verantwoordelik was, en Bob Arlen, wat onder meer die draaiboek vir die fliek Arctic Dogs geskryf het.

Cal Brunker, van The Nut Job 2-faam, het ook aan die draaiboek help skryf en die regie behartig.

Die Kanadese reeks, wat sedert 2013 op Nickelodeon se Nick Jr. te sien is, is ʼn groot treffer onder voorskoolse en laerskoolkinders. Die rolprent het gelyktydig op die stromingsdiens Paramount + en in fliekteaters begin draai.

Dit is ook tans in Suid-Afrikaanse fliekteaters te sien.

Kyk hier na die lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.