Help jou gr. 8-kind só met nuwe maats, invloede

(Argieffoto: Unsplash/Melissa Askew)

Ouers en hul hoërskoolgroentjies is soms ewe onseker en senuweeagtig-opgewonde oor ʼn nuwe skoolomgewing, maats en ervarings.

Dit is egter belangrik dat ouers ʼn emosionele vangnet moet wees vir kinders wat onbekende terrein as nuwe gr. 8-leerder betree.

Angelique Biagioni,  ʼn opvoedkundige sielkundige, sê dit is eerstens belangrik dat ouers deelname aan skoolaktiwiteite moet aanmoedig.

“Dit is ʼn goeie manier vir ʼn kind om vriende te maak met kinders wat belangstellings deel. Dit kan selfs help vir ʼn kind om net ʼn paar kennisse te maak of ʼn paar bekende, vriendelike gesigte te sien.”

Moedig jou kind ook aan om aan pretdae by die skool deel te neem, sê sy. “Om nuwe vriendskappe te vorm, kan jou kind help om nie bang te wees om sy naam met ʼn plank te slaan nie – dit gaan in elk geval gebeur. Deur deel te neem aan die pret, kan hulle maats maak wat saam met hulle lag.”

Dit is ook belangrik om ʼn kind uit te vra na die skooldag en hom toe te laat om klaar te praat voor jy hom in die rede val.

“As kinders jou iets vertel, hou hulle jou reaksie haarfyn dop en as jy oorreageer, gaan hulle in die toekoms versigtig wees om ander dinge met jou te deel,” verduidelik Biagioni.

“Bly kalm en vra eerder uit; vra vir jou kind wat hy van die situasie of gebeurtenis dink en gesels daaroor sonder om jou mening onmiddellik te lug.”

Goeie kommunikasie tussen ouers en kinders is veral in hierdie tydperk van ʼn kind se lewe uiters noodsaaklik.

“As jy voel die kommunikasie tussen jou en jou kind is nie toereikend genoeg nie, of julle sukkel om met mekaar te gesels, kry hulp om julle te help om beter te kommunikeer.”

Dit is belangrik dat ouers die kwessie van nuwe maats, veral dié wat ʼn ouer kriewelrig laat voel, op ʼn sensitiewe wyse moet hanteer.

“Hoe jy ʼn ding sê, kan konflik veroorsaak as jou kind dit as negatief ervaar. Sit ʼn wag voor jou mond en monitor jouself. Moenie prontuit sê jy hou nie van ʼn maat nie, want in hierdie tydperk van hul lewe is maats ʼn sensitiewe saak.

“Begin deur iets positiefs van die maat te sê, en vra dan of jou kind saamstem met die negatiewe punte wat jy raakgesien het.”

Hoe jy met jou kind praat, is baie belangrik. “Sodra jy as ouer agterkom dat jou kind skielik anders optree of gedrag toon wat buite sy karakter is, moet jy oop kaarte met jou kind speel. Benadruk dat jy die situasie net beter wil verstaan en praat daardeur met jou kind.”

Lê altyd klem daarop dat jy as ouer lief is vir jou kind, maar dat jy nie die nuwe, ongewenste gedrag goedkeur nie.

“Jou kind moet gemaklik voel om jou te nader wanneer hy of sy onveilig voel.”

  • Angelique Biagioni is ʼn opvoedkundige sielkundige in ʼn privaat praktyk in Fourways, Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.