Help jou kind om uit te sien na die grootskool

Maroela Media het in 2019 by Laerskool Rooihuiskraal gaan kuier om te hoor wat die gr. 1’s van hul eerste skooldag sê. (Foto: Maroela Media)

Deur Annelie van Jaarsveldt

Die lyk of die Covid-19-virus nog vir die res van die jaar gaan bepaal hoe en wanneer ons kinders skool toe gaan. Dit hoef egter nie ’n onseker tyd te wees nie. Afrikaans.com het ’n paar wenke saamgestel wat kan help om die eersteskooldagmonster se tande te trek.

Graad 1 is grootskool

Die meeste kinders is deesdae deel van ’n voorskoolse program en ontmoet reeds vooraf hul gr. 1-juffrou. Dit is dus nie heeltemal nuut en vreemd nie.

Nietemin is dit ’n groot gebeurtenis in enige kind se lewe en is hy of sy nou blootgestel aan meer druk, ’n vasgestelde roetine en moet hulle leer om konflik te hanteer en aanpasbaar te wees.

Die heel belangrikste is om seker te maak jou kind is skoolgereed, want indien nie, sal geen wenk kan help nie.

’n Paar basiese wenke

’n Gelukkige kind het selfvertroue en sien uit na skool en ouers kan hulle gr. 1-parabeen so hiermee help:

  • Wees ’n rolmodel:Stel ’n voorbeeld deur liefdevol en versorgend te wees en laat jou kind geborge voel;
  • Prys jou kind:Dit skep selfvertroue en versterk goeie gedrag;
  • Gesels met jou kind:Stel belang in wat jou kind sê. Op dié manier weet jy wat in daardie koppies aangaan. Boonop is dit ’n uitstekende manier om jou kind taalvaardig te maak en woordeskat uit te brei;
  • Maak seker die basiese vaardighede is in plek:Dit maak deel uit van perseptuele ontwikkeling ten opsigte van luistervaardighede en visuele vaardighede. Jou kind moet sy of haar naam en van herken en, indien moontlik, ook kan skryf. Hiermee saam behoort jou kind skoenveters te kan vasmaak, die toilet selfstandig gebruik, tussen regs en links onderskei, kleure en vorms herken, met ’n skêr kan knip, verantwoordelikheid neem vir besittings, kan stilsit, luister en opdragte uitvoer;
  • Emosionele intelligensie:Kinders wat emosioneel veilig voel, leer beter. Moedig daarom onafhanklikheid aan en laat jou kind toe om dinge vir hom-/haarself te doen. Leer jou kind ook om sy of haar emosies te verwoord;
  • Goed ontwikkelde liggaamsbeeld.Laat jou kind gereeld voor die spieël staan en sy of haar liggaamsdele uitwys;
  • Oefen daardie spiere vir groot motoriese ontwikkeling:Beperk skermtyd en kry jou kind aan die beweeg. Dit begin reeds op babastadium deur jou baba op sy of haar magie te laat lê om die rugspiere te versterk;
  • Oefen daardie spiere vir klein motoriese ontwikkeling: Teken, inkleur, knip, plak, kleispeel en blokkiesbou:Ontwikkel kleiner spiere in die hande, vingers en gewrigte wat nodig is vir leesbaar skryf, self eet, aantrek, ensovoorts;
  • Speel met jou kind:Gooi, vang, skop, balanseer en huppel;
  • Geheue:Speel geheuespeletjies. Dit help jou kind om iets van die bord af te skryf en om te onthou wat hy of sy gehoor het;
  • Logiese denke:Dit stel jou kind in staat om met begrip te lees – ’n belangrike bousteen van wiskunde.
  • Tel alles:Die eerste stap in wiskundige taalvaardigheid. Maak dit ’n speletjie. Tel hardop hoeveel kouse is in die laai, hoeveel potlode in die sakkie, hoeveel meel in die resep. Doen basiese optel- en aftreksomme: Daar is vier balle, ek skop een weg. Hoeveel bly oor?

Ter voorbereiding vir daardie eerste skooldag

Jou kind het waarskynlik reeds sy juffrou ontmoet, weet waar die skool is en hoe die klaskamer lyk, maar wat kan jy nog doen om daardie oorgang seepglad te laat verloop?

’n Mens wil mos hê jou kind moet opgewonde wees oor daardie eerste dag – al beteken dit hy of sy staan reeds vyfuur die oggend aangetrek, reg om te ry. Dit is hoekom voorafbeplanning so belangrik is, want dit help om die angs te besweer. Laat jou kind die slapies aftel, want dit skep opwinding. Lig al die lekker dinge van skool uit. Jou positiewe gesindheid skep ook ’n positiewe beeld vir jou kind.

Nog wenke:

  • Sorg dat die voorgeskrewe skoolklere reg is – kinders is kuddediere en wil graag inpas;
  • Die aand voor die groot dag: Maak seker jou kind se tas is gepak met die nodige skryfbehoeftes en die skoolklere is gereed. Terloops, nuwe penne en potlode is ’n ideale Kersgeskenk;
  • ’n Gesonde kosblik is ’n belangrike element van enige skooltas. Besluit saam met jou kind oor wat om in te pak – en ja, daardie lekkertjie is dalk nie ’n sogenaamde gesonde versnapering nie, maar dit troos wanneer die dag lank raak en mamma ver is;
  • Kinders hou van roetine, want dit laat hulle veilig voel. Begin dus so ’n week voor die nuwe skooljaar begin met die skoolroetine. Dit sluit in om op ’n sekere tyd te gaan slaap en op te staan;
  • ’n Honger kind kan nie konsentreer nie. Daarom is ontbyt belangrik. Dit hoef nie ’n driegangmaaltyd te wees nie, maar proteïen en koolhidrate voed die brein en gee genoeg brandstof tot pouse;
  • Rustigheid is die wagwoord. Maak seker julle is betyds by die skool, want ’n onnodige gejaag (wat gewoonlik met hardpraat gepaardgaan) veroorsaak nog meer spanning. Indien nodig, neem verlof vir die dag;
  • Neem foto’s – dit is immers die eerste dag van ’n lang skoolloopbaan. En hou maar die trane vir wanneer jy terug is by die huis;
  • Maak seker dat alle reëlings vir ná skool getref is. Jou kind moet weet wie daar gaan wees om hom of haar te kom haal of waarheen hy of sy moet gaan vir naskoolsorg. Moenie laat wees nie!; en
  • Tref veiligheidsmaatreëls. Jou kind en die onderwyser moet in kennis gestel word as die reëlings verander. ’n Wagwoord wat net julle ken, is ook ’n goeie idee. Jou kind moet ook sy of haar adres ken, asook jul telefoonnommers.

’n Gelukkige kind kom uit ’n gelukkige en standvastige huis. Maak elke dag tyd om met jou kind te gesels. Soms wil hulle nie direk ná skool oor hul dag praat nie, maar jy sal vinnig agterkom wanneer dit die regte tyd en plek is. As jy agterkom daar is iets wat pla, kan jy dit dan onmiddellik ondersoek en hanteer. Dit geld ook vir tye wanneer daar dalk iets gebeur wat jou kind emosioneel kan raak, onder meer dood, egskeiding, ensovoorts. Dit is dan raadsaam om die onderwyser in kennis te stel.

Skoolgereedheid

Dalena van der Westhuizen, ʼn spesialis in kognitiewe breinontwikkeling, sê dat skoolgereedheid ’n maatstaf is wat aandui tot watter mate ’n kind gereed is om suksesvol in te skakel en deel te neem binne ’n skoolopset. En dis juis hier waar die tameletjie taai raak.

Volgens Van der Westhuizen is kinders nie noodwendig skoolgereed omdat hulle kan tel, hul naam skryf en basiese woorde herken nie. Dit behels meer, en dui op die totale ontwikkeling van ’n kind op ’n spesifieke tydstip. Daarom word die volgende ontwikkelingsareas in ag geneem:

  • Fisieke vaardighede en kommunikasievaardighede(taalvaardigheid en kommunikasievermoë);
  • Kognitiewe vaardighede;
  • Sosiale en emosionele vaardighede; en
  • Perseptuele ontwikkeling, naamlik visuele persepsie, visuele diskriminasie, visuele geheue, ouditiewe persepsie, ouditiewe diskriminasie en ouditiewe geheue.

Binne hierdie ontwikkelingsareas is daar verskeie tekens waarna jy moet oplet wanneer dit by die ontwikkeling van jou kind kom omdat dit ’n goeie aanduiding kan wees dat jou kind dalk hulp nodig het. Dit is egter belangrik dat hy of sy eers getoets word voordat enige gevolgtrekkings gemaak of besluite geneem word.

Die mees algemene tekens sluit in:

  • Sukkel om (basiese) instruksies te volg en/of kan nie meer as een instruksie op ’n slag onthou of uitvoer nie;
  • Sukkel om behoeftes te kommunikeer;
  • Vind dit moeilik om onder druk te werk;
  • Neem lank om takies/werkies te voltooi (of jaag alles so vinnig as moontlik af);
  • Sukkel om stories te verstaan en basiese inhoud daarvan te herhaal/vrae daaroor te beantwoord;
  • Sukkel om te konsentreer en gefokus te bly; of
  • Vergeet maklik/gereeld inligting wat dan weer herhaal moet word (dieselfde werk moet oor en oor herhaal word).

Lees gerus meer oor die onderwerp, hier.

Lees nog artikels hieroor:

Hierdie artikel is met die vergunning van Afrikaans.com geplaas. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.