Help, my kind damprook!

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Tientalle ouers moes al ʼn oproep van ʼn bekommerde onderwyser neem om hul in kennis te stel dat hul kind met ʼn damprooktoestel op die skoolgronde betrap is.

Maroela Media het vroeër berig dat damprook ʼn probleem in hoër- en laerskole geword het. Dié gewoonte het die afgelope paar jaar onder jongmense toegeneem, vertel Marius Botha, hoof van Marius Botha Konsultante, ʼn eksterne onderneming wat dissiplinêre kwessies by skole hanteer. Om doodluiters ʼn damptoestel uit die sak te haal, is iets wat die norm in skole regoor die land geword het.

“Die grootste rede waarom leerders damprook, is omdat hul ouers dit toelaat en hulle bemagtig om dit te doen,” verduidelik dr. Jerrie Bezuidenhout, psigiater en direkteur van Vista Clinic in Centurion aan Maroela Media.

“Die eerste stap is om summier daarmee op te hou.”

Hy verduidelik verder dat ouers dikwels skuldig voel omdat hulle self van dié toestelle gebruik maak, en dan weens dié skuldgevoelens vir hul kinders toestemming gee om dit ook te doen.

In huishoudings waar rook nie die norm is nie, en waar enigiets verbonde daaraan verbode is, behoort eerlike gesprekke te heers, glo Bezuidenhout.

“Dit is oukei om stomgeslaan te wees en so bietjie kop te verloor wanneer jy uitvind dat jou kind damprook, dit is ʼn skok. Die belangrike ding is egter om daaroor te praat.”

Hy glo daarin om onderskeid tussen hoër- en laerskoolleerders te tref. In die geval van hoërskoolleerders, kan ouers nie noodwendig streng beheer uitoefen nie. Met dié ouderdomsgroep, behoort daar oop en eerlik gesels te word oor die nagevolge van hul dade.

Bezuidenhout stel voor dat ouers gesondheidswebwerwe en -artikels saam met hul kinders lees. Om die pad saam met hul kinders te stap en hulle toe te rus met die nodige inligting vir die kinders om ʼn besluit daarvolgens te maak.

Tog, glo hy ook dat ouers ten alle tye in beheer van hul kinders se veiligheid moet wees, en dat hulle eenvoudig móét intree wanneer hulle uitvind dat hul kinders damprook.

In gevalle waar laerskoolkinders met damprooktoestelle betrap word, behoort ouers die reëls oor die gebruik daarvan ferm neer te lê.

“Jy neem die toestel weg en sê bloot vir jou kind dat dit nie in die huis geduld sal word nie.”

Daarmee saam, stel Bezuidenhout voor dat ouers hul kind se onderwyser besoek om ʼn oop en eerlike gesprek oor die voorval te hê.

“Vind uit waar die toestel vandaan kom, indien dit nie jou eie is nie. Verduidelik vir die onderwyser wat gebeur het, sodat julle saam kan werk om te verhoed dat dit weer gebeur.”

“Kinders begin dikwels damprook omdat hulle maats dit doen. Vind uit wie die maats is saam met wie jou kind by die skool speel en of dit dalk die rede is waarom jou kind dit begin doen het.”

Hy beveel dit ook aan om vas te stel waarom jou kind begin rook het.

“Is dit spanning, vriende of groepsdruk?

“Dit is belangrik om saam met jou kind hierdeur te werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is n euwel en ek hoop die nuwe mode gier sterf ‘n vinnige dood .

Harley Davidson ·

Verander ook die mooi naam” damprook” na bv kanker long pyp of so iets.

JvR ·

Dit is omdat die gemors as “veliger as sigarette” bemark word. Ouers begin daarmee in n poging om “op te hou rook”. Jy asem basies verhitte glyserol en ander vloeistowwe in. Ek persoonlik hou maar by regte sigarette. Het eenmaal probeer vape en dadelik besef dit is gemors

Gert ·

Toe ons jonk was en jy het net gedink aan rook het jy ‘n taai klap gekry! Miskien moet die ouer weer bietjie klappe begin uitdeel!

Norries ·

Ek is in beheer van dissipline by n privaatskool en het al 13 toestelle en n pakkie dagga in net meer as 8 maande afgeneem.

Johan ·

Dit is nie so sleg as mens dink aan al die ander dinge waaraan kinders blootgestel word nie.

SomeOne ·

stop, staak enige neiging wat rook behels, ons wat nie rook nie verstik behoorlik as jy net ‘n rokie ruik.
verban als wat met rook te doen het, mense steur hul nie eers aan die wetgewing wat rook verbied by eetplekke, kerke, skole, ens, verban ook rook in toegekende plekke, waars die WETGEWING om die wet tot uitvoering te bring
dis ‘n vieslike verslawing, ek glo as die Here wou gehad het mense moet rook, sou daar met geboorte ‘n koorsteen aan elk van ons gewees het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.