Help! My kind het hand-voet-en-mondsiekte

Ouers ken hand-voet-en-mondsiekte ook as die Cocksackie-virus (Foto: iStock)

Somer is voor die deur en die kleinspan is reeds ’n geruime tydjie terug in die skoolroetine. Soos die seisoene wissel en kontak tussen veral klein kinders verhoog, steek allerlei goggas kop uit wat niks met die koronavirus te doen het nie. Een hiervan is hand-voet-en-mondsiekte (HVMS).

Ofskoon ouers hulle boeglam skrik as boet of sus ewe skielik sere in of om die mond, ’n uitslag of blase op hul hande, voete, bene of boude het, is HVMS ’n algemene verskynsel, veral by kinders onder die ouderdom van vyf jaar, sê dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park.

“Hoewel dit ook by volwassenes kan voorkom en soms pynlik kan wees, is daar geen rede tot paniek nie. Die virus wat HVMS veroorsaak, is die coxsackievirus A16 en ander enterovirusse. Die siekte wat by diere voorkom, word bek-en-klouseer genoem en word deur ’n heeltemal ander virus veroorsaak.”

Simptome

Volgens Lombard is koors gewoonlik die eerste klagte. Ander simptome sluit in:

  • keelseer;
  • pynlike blase in die mond, gewoonlik aan die agterkant van die keel, of op die tong;
  • swak eetlus;
  • moegheid; en
  • lusteloosheid.

“’n Dag of twee later kan die kind ’n uitslag hê wat in blasies verander, asook kolle of sere op die knieë, elmboë of boude. Mondsere maak dit moeilik om te sluk en ’n kind wat minder as gewoonlik eet of drink is soms die enigste sigbare sein dat hy of sy siek is. Maak veral seker dat jou kind genoeg vloeistof inneem,” sê hy.

Verspreiding

Hand-voet-en-mondsiekte versprei gewoonlik as iemand wat met die virus besmet is, hoes of nies, deur noue kontak, deur glase en eetgerei te deel, kontak met stoelgang (soos wanneer ’n doek geruil word) of deur aan besmette oppervlaktes te raak. (Foto: iStock)

Die virusse wat vir HVMS verantwoordelik is, skuil gewoonlik in speeksel, slym in die neus en longe, stoelgang asook vloeistof van blase en seerplekke.

Hand-voet-en-mondsiekte versprei gewoonlik as iemand wat met die virus besmet is, hoes of nies, deur noue kontak, deur glase en eetgerei te deel, kontak met stoelgang (soos wanneer ’n doek geruil word) of deur aan besmette oppervlaktes te raak.

Behandeling

Volgens Lombard is daar geen kuur vir HVMS nie. “Omdat dit deur ’n virus veroorsaak word, is antibiotika nie doeltreffend nie. Dit klaar wel gewoonlik binne sewe tot tien dae vanself op.”

Jy kan die simptome verlig deur die volgende vir jou kind te gee:

  • Oor-die-toonbank pynmedikasie wat ibuprofeen of parasetamol bevat, of ’n mondsproei wat die pyn effens sal verdoof. Moet egter nie aspirien gebruik nie, want dit kan ernstige siektes by kinders veroorsaak.
  • Laat die kind yskoue water drink of jogurt eet. Vermy sap en koeldrank wat sure bevat wat die sere kan irriteer en die pyn vererger.
  • Jy kan ook ’n salf gebruik om die jeukerigheid draagliker te maak.

Wanneer om bekommerd te raak

As jou kind nie beter word nie en ’n baie hoë koors het, moet jy dadelik jou dokter gaan sien, sê Lombard.

“Hoewel dit seldsaam is, kan komplikasies soos ontwatering (as die kind nie genoeg vloeistof inneem nie), breinvliesontsteking (enkefalitis), swelling van die hartspier (miokarditis) en swelling van die membrane rondom die brein en die rugmurg (virale meningitis) soms intree.”

Moedig jou kind aan om nie te krap of die blasies stukkend te maak nie. Dit kan die risiko vir ’n bakteriële infeksie verhoog.

Voorkoming

Hoewel HVMS se aansteeklikheid die hoogste in die eerste sewe dae is, kan die virus nog vir weke in die kind se liggaam wees en deur speeksel of stoelgang versprei.

“Covid-19 het ons gedwing om goeie en gesonde gewoontes aan te kweek, iets wat myns insiens blywend behoort te wees. Die voorkoming van HVMS behels eintlik identiese stappe,” sê Lombard.

  • Leer jou kind om gereeld sy of haar hande te was. Was jou eie hande deeglik, veral nadat jy ’n doek geruil of ’n kind se neus afgevee het.
  • Goeie toilethigiëne is iets wat van kleins af aangemoedig moet word.
  • Leer kinders om hul mond en neus te bedek wanneer hulle nies of hoes. ’n Sakdoek is die beste, maar ’n hemp se mou sal ook deug.
  • Ontsmet oppervlaktes en goed wat gedeel word (soos speelgoed en deurhandvatsels) gereeld.
  • Vermy kontak met iemand wat HVMS het en moenie eetgerei deel nie.
  • Moenie jou kind skool of kleuterskool toe stuur voordat die simptome opgeklaar het nie. Jou dokter sal jou ook kan adviseer of die aansteeklikheidsgevaar oorgewaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.