Help, my kind is oorgestimuleer

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Kinders van alle ouderdomme raak dikwels moeilik en omgekrap tot ouers se groot bekommernis en raserny – veral as daar geen ooglopende rede is vir die gehuil en voetstampery nie.

Dit kan ouers met hande in die hare laat, maar volgens Ashley Jones, ʼn arbeidsterapeut van Bright Eyes Therapy in Pretoria, is die antwoord dikwels eenvoudig: oorstimulasie.

Wat is oorstimulasie? Dit gebeur gewoonlik wanneer kinders oorweldig voel deur meer ervarings, sensasies, klanke en aktiwiteite as wat hulle kan hanteer.

ʼn Pasgebore baba mag dalk baie nukkerig raak wanneer sy deur te veel volwassenes hanteer word. ʼn Kleuter kan moontlik ʼn uitbarsting (tantrum) hê ná ʼn groot geleentheid soos ʼn verjaardagpartytjie en ʼn skoolkind kan dalk ongelukkig wees nadat hulle byvoorbeeld skoolwerk, aanbly by die naskoolsorg én ʼn swemles op een dag agter die blad het.

“Oorgestimuleerde kinders word moeg en voel oorweldig. Wanneer dit gebeur, het hulle ʼn stil en bekende, kalm omgewing nodig.”

Daar is talle tekens wat kan dui op oorstimulasie in verskillende ouderdomsgroepe. Hier is ʼn paar:

Pasgebore babas en babas:

  • Nukkerig en moeg
  • Lyk ongelukkig en draai hulle koppe weg
  • Beweeg op ʼn rukkerige manier
  • Klem hulle vuisies of waai hulle arms of skop
  • Huil, veral as die oorstimulasie vir ʼn lang tydperk aangehou het

Kleuters en peuters:

  • Huil en kan nie hulle woorde gebruik om hulle gevoelens te uiter nie
  • Gooi hulself op die vloer in trane en woede
  • Sê hulle wil nie voortgaan waarmee hulle besig is nie
  • Weier om eenvoudige goed te doen soos om ʼn veiligheidsgordel te dra

Skoolgaande kinders:

  • Blyk meer lomp te wees as gewoonlik – laat val items of mors meer
  • Is meer klouerig en soek aandag
  • Raak vinnig verveeld
  • Huilerig oor kos
  • Minder geneig om saam te werk
  • Vra vir meer hulp soos byvoorbeeld met huiswerk

“As ʼn ouer sal jy die spesifieke tekens dat jou kind oorgestimuleer is mettertyd herken,” sê Jones.

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Balans tussen aktiwiteite en stiltetyd

In die eerste vyf jaar van ʼn kind se lewe ontwikkel die brein meer en vinniger as enige ander tyd in hulle lewens.

Jou kind se vroeë ervarings – dit wat sy sien, hoor, aanraak, ruik en proe – stimuleer jou kind se brein en skep miljoene konneksies.

Dit beteken jou kind het ʼn stimulerende omgewing nodig met verskillende aktiwiteite wat maniere van speel en leer, en kanse om te oefen wat hulle leer, skep.

Babas en jong kinders het egter ook stiltetyd nodig asook voorspelbare en bekende omgewings om veilig te voel en te kalmeer.

“Dit sal voordelig wees vir jou kind om haarself stil-stil te vermaak en haar omgewing te verken teen haar eie pas en op haar eie manier.

“Jou kind moet leer hoe om haarself besig te hou en uit te werk wanneer sy stiltetyd nodig het en om dinge te vind wat sy kan doen gedurende daardie tyd wat haar help om te kalmeer.”

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Hoe hanteer jy ʼn baba wat oorgestimuleer is?

Wanneer jy sien dat ʼn baba oorgestimuleer is, neem die baba elders waar dit stiller en donkerder is. ʼn Goeie plek om haar neer te sit is ʼn kot.

As jy uit die huis is met jou baba kan jy haar in die stootwaentjie laat lê en dit met ʼn ligte kombers toegooi om die lig te blokkeer. Maak net seker jy laat ʼn gaping vir lug om deur te kom.

“Deur pasgebore babas toe te draai kan hulle ook kalmeer want dit verminder fisieke sensasies. Jou baba kan dit ook kalmerend vind as hulle teen jou lyf gedra word in ʼn draer terwyl jy jou dagaktiwiteite afhandel.”

Babadraers soos die van Ubuntu Baba, Doona en Infantino is aanlyn beskikbaar.

Hoe hanteer jy ʼn kleuter wat oorgestimuleer is?

Probeer om self kalm te bly. Dit sal jou kind ook help om te kalmeer. Verlaag ook klank en aktiwiteite rondom jou kind deur byvoorbeeld die televisie of radio af te skakel en hulle na hulle kamers toe te neem. Laat jou kind tyd naby aan jou deurbring as hulle voel hulle moet na aan jou wees om te ontspan.

Jy kan ook jou kind help om sy gevoelens te uiter. Sê byvoorbeeld: “Ek kan sien jy is ontsteld” of “ek kan sien alles is te veel vir jou”.

Sit stil saam met jou kind en kies ʼn kalmerende aktiwiteit. Julle kan saam boek lees, op die bed lê of saggies liedjies sing terwyl jy jou kind se rug streel.

“As jy sien jou kind toon gedragsprobleme omdat hy oorgestimuleer is, is dit amper altyd behulpsaam om hulle omgewings te verander,” sê Jones.

Hoe hanteer jy ʼn skoolkind wat oorgestimuleer is?

Stel voor dat jou kind na ʼn stil plek toe gaan as hulle moeg of geïrriteerd is van te veel stimulasie. Hulle kan byvoorbeeld musiek in hulle kamers luister.

“Praat met jou kind oor aktiwiteite wat hulle interessant of waardevol vind. Jou kind het miskien die behoefte om te praat oor watter aktiwiteite hulle moet laat vaar as hulle voel hulle het te veel om te hanteer.”

“Jou kind het genoeg tyd nodig gedurende die week om skoolwerk te doen, tyd saam met gesin deur te bring, saam met vriende te sosialiseer en om alleen te wees.”

Om ʼn afspraak te maak met Bright Eyes Therapy, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die webwerf hier.

Bykomende bronne: Raisingchildren.net.au

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Twallie ·

“Hoe hanteer jy ʼn skoolkind wat oorgestimuleer is?”

Vra my Pa. Hy het vinnig van my “oorstimulasie” onstlae geraak. LOL.

VaalDonkie ·

Ek raak so wanneer ek deur vier mense op een slag in aanlyn-vergaderings ingeroep word.

Wiehann ·

My Seuntjie het al die simptome soos hul beskryf!

Ons was nou geforseer om hom uit skool uit te haal, want hy kan nie op sy eie daarmee “cope” nie.

Baie dankie vir die artikel. Ons gaan defnitief probeer om die raad te volg soos hierbo, op die webwerf en soos Ashley vir my aanbeveel het.

Pieter9 ·

Sodra jy vir iets ‘n naam gee begin baie daaraan’ lei’. Dit is nie ingewikkeld nie… Beginnende met gehoorsame kinders wat resultaat is van betrokke ouers(weet wanneer om dissipline toe te pas, empatie te toon, liefde gee) geduldig maar met duidelik gedefinieerde omgewing waarin ‘n kind veilig en belangrik voel. Ouers moet nie hul kinders aan die lot van sielkundiges oorlaat nie. Daar mag seker uitsonderings wees, gee ek toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.