Help, my ouers het ’n nuwe baba!

nuwe-baba

Hoe gemaak met ‘n ouer kind wat sukkel om aan te pas as daar ‘n nuwe baba in die gesin is? Foto: Beforeitsnews.com

Eendag was daar ’n klein seuntjie. Hy was die appel van almal se oog en die middelpunt van belangstelling. Sy ouers was so bly toe hy gebore is en het hom baie aandag gegee.

Hulle het met hom klei gespeel, saam met hom legkaarte gebou. As hy honger was, het hulle vir hom kos gemaak waarvan hy hou, en hy het dadelik koeldrank of melk gekry wanneer hy dors was. As hy in die aand bang geword het, het hulle opgestaan en by hom gaan lê of hom toegelaat om by hulle in die bed te kruip.

Sy lewe was een lekkerte. Hy het gedink dit gaan selfs beter word toe hulle vir hom vertel dat hy ’n boetie gaan kry. Hy het gesien hoe lekker ander seuntjies met hulle boeties speel. En toe kom die verskriklike dag; sy ma gaan hospitaal toe en kom vir drie dae lank nie weer huis toe nie. Hy het nie geweet dit gaan gebeur nie. Hulle gaan kuier by mamma, maar dit voel anders, almal “oeeee” en “aaaa” oor sy nuwe boetie wat in die bedjie lê. Hulle wys sy boetie vir hom en hy wonder hoe lank dit gaan vat voordat hulle met ’n bal sal kan speel.

Ná drie dae kom mamma uiteindelik huis toe, maar nou is daar baie ander mense ook daar en almal kyk net na sy boetie. Sy pappa doen sy bes om hom besig te hou en hulle laat selfs toe dat hy sy boetie vashou. Hulle neem foto’s en sê hoe oulik dit is.

Skielik word hy die stuurkind. “Gaan haal asseblief boetie se fopspeen” of “bring vir mamma ’n doek”. Dit voel of mamma net tyd het vir die nuwe boetie. Hy drink amper die hele tyd en as hy nie drink nie, maak hulle sy doek skoon, bad hom of sus hom aan die slaap. Mamma lyk moeg en is effens geïrriteerd van die min slaap. Dinge is net nie meer dieselfde nie, en stadig maar seker besef die seuntjie dit. Hy weet nie regtig hoe om homself uit te druk en sy frustrasie te hanteer nie. Skielik dink hy aan ’n plan …

Baie nuwe ouers bevind hulle onverwags in die posisie dat hulle nie weet hoekom hulle oudste kind eensklaps gedragsprobleme het nadat ’n nuwe baba huis toe gekom het nie. Goedbedoelde raadgewers sê verskillende dinge. “Ja, julle wou hom mos so bederf, dit is wat julle nou daarvan het.” Of: “Dit is jaloesie, druk maar net deur, dit sal beter word.” Of: “Nou is die tyd om die boompie te buig.”

Wat is regtig hier aan die gang?

Ek gaan van die standpunt uit dat ’n kind graag sy ouers en die mense in sy omgewing tevrede wil stel, maar dat die nodige vaardighede om homself uit te druk en sy behoeftes bekend te maak nog ontbreek. Hierdie kind word waarskynlik vir die eerste keer in sy lewe gekonfronteer met die gedagte dat sy behoeftes nie die enigste behoeftes is waaraan sy ouers moet aandag gee nie. Hy moet leer wag om sy behoeftes te bevredig en hy moet leer om sy ouers (wat die heel belangrikste mense in sy lewe is) se aandag met ’n ander mens te deel.

Daarby is hy waarskynlik in een van twee ontwikkelingsfases: twee tot drie jaar; waar hy volgens Erikson selfstandigheid probeer ontwikkel, of drie tot vyf jaar waar hy inisiatief probeer ontwikkel. Dit is belangrik vir ouers om bewus te wees van hierdie aspekte.

Hoe hanteer ek dit?

  • Moenie in die slaggat val dat die een ouer verantwoordelikheid aanvaar vir die een kind en die ander ouer vir die ander kind nie. Maak beurte en los mekaar af, indien moontlik, sodat die kind nie ’n ervaring van verlies van een ouer se aandag ervaar nie.
  • Daar moet gereelde oomblikke van doelgerigte konneksie tussen die ouers en die oudste wees. Dit beteken dat die ouer vir ’n paar minute heeltemal emosioneel en fisiek teenwoordig raak by die kind en net aan hom aandag gee. Maak seker dat daar oogkontak en aanraking is. Dit is handig om ’n gediggie, liedjie of speletjie te gebruik en ’n oomblik saam met die kleinding deur te bring. Maak bedtyd, badtyd en etes spesiale oomblikke van konneksie, al is dit net ’n paar minute. Op hierdie manier ervaar die kind dat hy nog steeds vir sy ouers belangrik is.
  • Wanneer die kind ’n emosionele uitbarsting het, is dit belangrik dat die ouers kalm bly en empatie het. Dit is goed om die kind bewus te maak van hoe hy optree.
    • Stap 1 “Ek sien jy is baie kwaad, jou voete stamp op die grond en jy skree vir mamma.”
    • Stap 2 “Kom ons haal asem sodat ons kan kalm word” (haal lekker diep asem, in deur die neus en uit deur die mond, so leer jy jou kind hoe om ontsteltenis te hanteer).
    • Stap 3 Raai waaroor die kind ontsteld is. “Jy wil nou op mamma se skoot sit.”
    • Stap 4 Empatie: “Ek weet dit is moeilik om te wag, maar ek weet jy kan dit regkry, mamma gee net gou vir boetie kos, dan kry jy ’n beurt om op my skoot te sit.”

Bly deurgaans kalm en gee empatie. Op hierdie manier leer die kind dat hy nog steeds veilig is, sy behoeftes gaan bevredig word.

  • Stap 5 Onderrig: Wanneer die kind rustig op jou skoot sit en als bedaar het, sê: “Volgende keer as jy mamma se aandag wil hê, moet jy woorde gebruik en vir mamma sê ‘mamma, ek wil op jou skoot sit’, dan weet mamma wat jy nodig het.”

Om lewensvaardighede aan te leer neem net so lank soos enige ander vaardigheid wat die kind moet bemeester. Ouers moet geduldig die gedrag wat hulle van hulle kinders verwag, modelleer en vir hulle aanleer, dan maak ons emosioneel intelligente kinders groot.

Moenie skroom om hulp te vra by kundiges nie. Ouerskap is een van die belangrikste take en daar skort niks daarmee om hulp te soek nie. Een of twee sessies by ’n ouerafrigter (parent coach) kan wondere verrig en later heelwat probleme uitskakel.

Meer oor die skrywer: Karin Grobler

Karin Grobler is ʼn ma, ouer-opleier (parent coach), spelterapeut, pastorale berader, beroepsvrou en ʼn volgeling van Jesus Christus. Sy het in 2013 haar M-Phil graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Karin het ʼn produk ontwikkel wat sy Gevoelsmaatjies noem, wat ʼn handige hulpmiddel is om kinders te help om emosionele vaardighede aan te leer. Besoek gerus haar webwerf.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

elsabe ·

Ai Karin…waar was jy tog toe my twee spruite klein was….. ek het nou die “link” na my skoondogter gestuur wat ‘n 2-jarige en maande-oue nuwe baba het! Kyk – hy weet van op die grond neerval en hartstogtelik huil en jammer wees vir homself – foeitog – ouma kry hom so jammer!

Ek het al baie kere gese dat ouerskap die BELANGRIKSTE taak in ons lewens is – jy kry opleiding vir bykans ALLES in die lewe – behalwe vir ouerskap! Ek dink werklikwaar dit is ‘n lewensvaardigheid waaraan daar meer aandag behoort gegee te word. Dankie vir hierdie leersame inset van jou! Groete – elsabe

JJ ·

Dis nog niks. Jy moet die ouers se gedrag sien as sussie met ‘n baba by die huis aankom!!

Alta Woest ·

Goeie dag, ek sou baie graag die artikel, ‘Help, my ouers het ‘n nuwe baba’ wou druk om aan my dogter en skoonseun te gee, maar weet nie hoe om dit te doen nie. Help asseblief? Baie dankie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Alta

Dankie vir jou navraag. Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk of dit uitdruk.

Ons verkies natuurlik dat persone eerder ons webwerf direk besoek, aangesien meer besoeke op ons webwerf verseker dat ons op ʼn advertensieinkomste kan staatmaak, en dat ons steeds die nuus gratis aan julle kan verskaf. Laat weet dus asseblief almal vir wie jy die dokument gee om ons sommer direk te kom besoek.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.