Helpende Hand sorg tans dat minstens 8 000 behoeftige kleuters daagliks by 88 instellings in Afrikaanssprekende gemeenskappe ’n voedsame bord kos kry. Die aanvraag na kos is egter meer as waaraan Helpende Hand kan voorsien, en almal wat hulp soek, kan nie gehelp word nie.
“Elke aand is daar kleuters wat honger gaan slaap. Hulle ouers kan net eenvoudig nie bekostig om vir hulle kos te gee nie. #StopHonger saam met die Kosblikkie-projek is daarop gemik om te sorg dat hierdie kleuters daagliks ’n bord kos ontvang,” sê Margole Riekert, Solidariteit Helpende Hand se projekorganiseerder van die Kosblikkie-projek.
“Dit is hartverskeurend hoeveel kleuters afhanklik is van ʼn ete by die skool as hul primêre ete vir die dag; dis ʼn harde werklikheid dat klein liggaampies nie normaal kan ontwikkel sonder ʼn gebalanseerde dieet nie. Dis moeilik om te konsentreer wanneer jy honger is; dis onmoontlik om te presteer terwyl jou magie grom,” sê sy.
Riekert sê die hooffokus van Helpende Hand se voedingskema is om te verseker dat behoeftige kleuterskole ondersteuning ten opsigte van voeding ontvang.
“Die Kosblikkie-projek ontvang geweldige positiewe terugvoer van die skole wat betrokke is by die voedingsprogram. Onderwysers bestempel die projek ook as broodnodig. Gedragsprobleme soos ADHD, wat nie deur behoeftige ouers hanteer en bestuur kan word nie, word deur ʼn meer gebalanseerde dieet vir die kinders verlig.”
Volgens haar word kleuters danksy die voedingsprojek as fisiek sterker bestempel. Hulle groot- en klein motoriese vaardighede, sowel as intellektuele en emosionele ontwikkeling, baat ook by die toevoeging van ʼn gesonde maaltyd. Dit beteken dat kinders meer gehoorsaam is, hulle take makliker kan verrig en dat hulle selfvertroue verbeter.
Helpende Hand ontvang ook versoeke om by kinderhuise, ouetehuise en behoeftige gesinne in te gryp en daarom is bykomende veldtogte soos #HelpJag begin om die Kosblikkie-projek aan te vul.
“Met die hulp van die publiek en Helpende Hand se veldtogte soos #StopHonger en #HelpJag, kan ons vanjaar vir 8 000 kleuters kos gee. Die nood is egter groot en die behoefte word by die dag al hoe meer en ons moet poog om vir 12 000 kinders kos te voorsien. Dit is ’n massiewe 2,4 miljoen etes ’n jaar,” het sy bygevoeg.
Só kan jy help
- Word ’n ondersteuner van Helpende Hand en maak ’n maandelikse bydrae van jou keuse. Helpende Hand se nuwe e-mandaat maak die aansluitproses maklik en jy kan in ’n japtrap in die gemak van jou huis aansluit sonder dat iemand jou skakel. Besoek https://www.sluitaan.co.za en volg die stappe.
- Vir ʼn eenmalige finansiële bydrae kan jy https://helpendehand.co.za/kosblikkie/ besoek of wees kreatief en pak ʼn kosblikkie vir ʼn behoeftige kleuter.