Herdefinieer ‘naweek’ en geniet dit!

Foto: Elly Fairytale van Pexels

Deur Maretha Botes

Nege-tot-vyf werksure, die gelui van ’n skoolklok, rugbyoefening en balletklas is enkele dinge wat Suid-Afrikaners se tyd voor sosiale afsondering gereguleer het. Dit was dinge wat ’n vasgestelde, bekende ritme aan elke dag gegee het. Woensdag was klein Saterdag, en op ’n normale Vrydagoggend het jy vrolik uit die bed gespring, want die naweek was ’n paar uur ver.

Die konsep van tyd het egter verander met die instelling van sosiale afsondering. Vrae is op sosiale media gevra soos of dit regtig nodig is om te weet of dit Maandag of Saterdag is. Dit skep ’n dilemma vir dié wat van die huis af werk. Hoe onderskei jy tussen werktyd, rustyd en “ander” tyd ? Sommiges wonder selfs of is dit hoegenaamd nog nodig is om onderskeid te maak en iets soos naweektyd te hê.

Kenners sê dit is allermins nou die tyd om naweke die deur te wys. Louis Venter, verhoudingsterapeut van Couples Help, sê naweektyd skep ’n sin van veiligheid in dié tyd wanneer baie mense angstig en onseker is.

Elna Schoeman-Steenkamp, kliniese sielkundige, sê om te weet dit is Vrydag, skep ’n gevoel van opwinding en afwagting wat nodig is om die kreatiewe sappe te laat vloei in ’n tyd wat ’n mens maklik afgestomp kan raak deur eentonigheid.

Naweke is die tyd wat ons afbaken om te speel, rus en ook vir die gesin en kinders om te weet mamma en pappa is beskikbaar sonder onderbrekings.

“Roetine en ritme is ongelooflik belangrik. Ons as mensdom het grense en ritme nodig om veilig te voel. Dit is ons grootste behoefte. In die afsonderingstyd is daar veral drie goed wat mense ervaar. Onbeperkte pyn, want ons weet nie wanneer hierdie pyn gaan eindig nie. Onbeperkte verlies, want ons weet nog nie eens wat ons verloor het nie. Hiermee saam ook ’n verwagte verlies. Ons weet ons het iets verloor, maar ons kan dit nie meet nie. Al hierdie dinge veroorsaak angstigheid. En die grootste teenvoeter vir angs is om in onseker tye ’n sin van veiligheid te hê deur jou eie lewensritme te kan bepaal. Daaglikse leefritmes van Maandag tot Sondag is ’n ongelooflike belangrike deel hiervan, » Louis sê.

Grense tussen huis en werk het begin verdwyn in gevalle wat mense van die huis af werk.

Argieffoto (Foto: Junjira Konsang/Pixabay)

“Ons werk nie van die huis af nie, maar sáám met die huis. Alles gebeur in een ruimte. Soms gebeur werk sommer orals en enige tyd. Ma en pa stuur e-posse en maak oproepe in speeltyd, kosmaaktyd en selfs slaaptyd. As daar kinders in die huis is, is dit vir hulle selfs moeiliker, want ma en pa is daar, maar nie noodwendig beskikbaar nie. Daarom moet ons ’n tyd afbaken wanneer ons asem skep en sê hokaai, ons rus en speel nou almal saam,” sê Louis.

“Naweke is die tyd wat ons afbaken om te speel, rus en ook vir die gesin en kinders om te weet mamma en pappa is beskikbaar sonder onderbrekings.”

Louis sê in baie gevalle veroorsaak angstigheid dat mense harder werk as voorheen, en dat hulle ná die afsondering uitgebrand sal wees.

“Juis hieroor moet jy afgebakende rustyd maak, soos oor ’n naweek,” sê hy.

Elna sê naweke gee ’n gevoel van begin en einde. “As ons op ’n naweek iets lekker en anders kan doen, gee ons die boodskap die week is verby, dis tyd vir speel en kreatief wees. Dit help ook om vir ’n rukkie afstand te skep van die uitdagings wat ons in die week beleef. Afstand bring dikwels nuwe perspektief en nuwe moed en insig in ons situasie. Wanneer die lewe eentonig raak, beïnvloed dit ons energievlakke en demp kreatiwiteit,” sê sy.

Wilmien Davis is ’n leefstylafrigter en tuisskoolma van Vanderbijlpark. Sy sê, “Grendeltyd laat my byna soos ’n entrepreneur voel. My tyd is nou baie meer buigsaam om te doen wat ek wil, wanneer ek wil, maar dit maak ook ongelukkig dat ek veral oor naweke werk.

‘‘Voor inperking het my en die kinders se ritme om my man se ritme gedraai. Wanneer hy opgestaan het, het ek opgestaan en reggemaak en daarna die kinders. As hy smiddae tuis gekom het, het ons geweet dis tyd om ’n bietjie te ontspan en op te hou werk. Nou het ons ’n nuwe normaal. Ons het ’n meer ontspanne roetine, want daar is nie ’n gewone agt-tot-vyf werkdag nie. En hoewel ons roetine verskil van baie ander mense s’n en ons ‘naweektyd’ dalk langer of korter is, is die beginsels van rus, konneksie met mekaar en met jouself, vir ons belangrik.”

Wilmien stem saam dat rustyd nodig is om kreatiwiteit te laat blom, en dat dié tyd gebruik moet word om op ander dinge te fokus as dié waarop jy gedurende ‘‘werktyd’’ fokus.

Kristina Kuzmic, Amerikaanse komediant en vlogger met meer as 140 000 YouTube-volgelinge, sê in haar huis word alle skool- en werkroetine naweke opsy gesit, veral tydens die afsondering.

“Dit is die tyd vir pret en saamwees en om te fokus op dinge wat nie verband hou met die pandemie nie. Dit is vir my uiters belangrik om my kinders te leer om veral te midde van ’n pandemie te kan lag. Dít beteken egter nie dat jy oneerbiedig is teenoor mense wat siek is en swaarkry in dié tyd nie, maar dat jy jouself herlaai om aan ander te kan gee indien dit nodig word,” sê sy op USA Today.

Maak naweektyd weer spesiaal

Argieffoto: Pixabay.com

  1. Hou ’n fliekaand. Amanda Allen van Vanderbijlpark is ma van twee woelwaters. Sy sê elke Vrydagaand is fliekaand in hul huis en is iets waarna almal uitsien. Maak springmielies, ’n krismisbed en raak saam verlore in ’n goeie fliek.
  2. Woon ’n virtuele konsert van jou gunstelingkunstenaar by. Min dinge sê ‘‘naweek’’ soos om op ’n Saterdagaand teater toe te gaan.
  3. Eet uit. Petro van Staden, laerskoolonderwyseres van Johannesburg, sê Vrydag- en Saterdagaand was dié aande wat sy en haar gesin hulle nie veel aan kosmaak gesteur het nie. Noudat sommige restaurante wegneemetes berei, en jy met dienste soos Uber Eats en Mr. Delivery lekkernye kan bestel, maak hulle weer elke naweek een uiteetaand.
  4. As kosmaak juis jou ding is, is die naweek dié tyd om kreatief te raak in die kombuis. Jy kan jou uitleef sonder om jou te veel te bekommer oor ander dagtake wat agterweë bly. Dit kan boonop ’n prettige kuiersessie om die kombuistafel met jou huismense raak.
  5. Gee weer aandag aan jou stokperdjies. As jy heel week met werk, kosmaak, tuisskool en wasgoed besig is, kan jy gerus weer jou stokperdjies afstof of nuwe belangstellings ontdek oor naweke wanneer weekdinge vir eers opsy gestoot word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.