Het jou ouers dalk jou loopbaankeuse beïnvloed?

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Danksy meer as 1,5 miljard gebruikers het Facebook se navorsingspan ʼn oorvloed inligting tot hul beskikking.

Ismail Onur Filiz en Lada Adamic het inligting van 5,6 miljoen ouers en kinders gebruik om te bepaal of kinders in hul ouers se voetspore volg wat loopbaankeuse betref.

Die span het interaktiewe visualiseringskaarte ontwerp om die verband tussen pa en seun en ma en dogter se loopbane te bepaal. Hulle ondersoek ook die verband in loopbaankeuses tussen ma en seun en pa en dogter.

Jy is byvoorbeeld vyf keer meer geneig om by die weermag aan te sluit indien jou pa in die weermag was of is. As ʼn man, indien jou pa geboer het of in die vissery- of bosboubedryf gestaan het, is jy 7,6 keer meer geneig om ook in sy voetspore te volg.

Dogters wie se ma’s verpleegsters was, sal 3,75 keer meer geneig wees om ook ʼn verpleegster te word.

Dit kan dalk klink of jou ouers wel ʼn groot invloed het op jou loopbaankeuse, maar persentasiegewys is dit baie kleiner: slegs 3% van seuns wie se pa’s geboer het, of in die vissery- of bosboubedryf gewerk het, sal in hul pa se voetspore volg. Slegs 8,5% van dogters sal ook verpleegsters word indien hul ma in dié beroep gestaan het.

Daar moet ook ʼn paar ander faktore in ag geneem word: nie almal het Facebook nie, nie almal dui aan wie is hul ouers of kinders op Facebook nie, en nie almal dui hul beroep aan nie. Boonop is ook slegs Engelssprekende profiele in ag geneem.

Klik hier om meer oor die data te lees en nog interaktiewe kaarte te sien.

Laat weet ons gerus in die kommentaargedeelte of jy in jou ouers se loopbaanspore gevolg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

ora ·

Ek het my eie pad gevolg. My oudste het (weens sekere omstandighede) in haar pa se voetspore gevolg, hoewel dit nie haar eerste keuse was nie. Die ander twee het hul eie pad geloop.

Reinhardt ·

Die gootste invloed wat my pa op my loopbaan keuse gehad het is om my prakties groot te maak, om alles te kan regmaak en te peuter met elektriese komponente, houtwerk ens. Dit het veroorsaak dat ek n liefde vir tegnologie en wetenskap ontwikkel het. Maar ek en my pa se loopbane is glad nie dieselfde nie. Hy is n besigheidsman, ek is n ingenieur.

Xa ·

Ek het nie maar is spyt Ek het nie. Dit maak eintlik baie sin om te volg as die kind wil en die industrie groei want die ouer kan baie help nie net met vaardighede en raad nie maar ook kontakte, wat belangrik is. En dit kan help op n familiebesigheid te begin.

Johann ·

Ek het nie my ouers se voorbeeld gevolg nie, maar my skoolhoof het “besluit” watter beroep my soos ‘n handskoen sou pas. Dit het nie so uitgewerk nie en ek is na 40 jaar spyt daaroor! Ek moes eers weermag toe gegaan het om my kop skoon te kry. Dán sou ek geweet het om sélf te besluit! Die jongmense moet asseblief baie goed besin voor hulle besluit.

elize naude ·

ek het my eie kop gevolg… en dit was ook reg so… my ouers het nooit ingemeng nie… dit is die grootste vertroue wat ń ouer ń kind kan skenk… dankie aan my onbaatsugtige ouers :-)

Breytie ·

Dit verstom my dat die boodskap wat tussen die lyne gelees kan word, is dat dit op ‘n manier verkeerd of beperkend is as jou volwasse menswees duidelike trekke het van jou ouers se invloed. Jy het immers gedurende jou mees sensitiewe vormingsjare intiem met hulle saam gelewe, onder hulle gesag gestaan, hulle bewonder en gespeel jy is hulle. Of is hierdie boodskap deel van die hedendaagse vernietigende verskynsel dat kinders van kleins af “onafhanklik” moet wees en dat ouers hulle kinders moet oorgee aan ‘n sogenaamde kinderwêreld waar ouers geen sê het behalwe om die geld aan te hou ingooi nie?

Dis verkeerd om te dink dat kinders die kloon van hulle ouers moet wees deur presies dieselfde beroep te volg, maar die mees suksesvolle mense in die samelewing het ‘n passie gevolg wat deur hulle ouers se invloed bewerk is en hulleself verklaar dat dit so is en dat hulle dankbaar is daaroor. Dis tog net logies dat jy die beste sal vaar as jou volwasse lewe die elemente behou waaraan jy as kind gewoond was.

Ouers sal hulle kinders ‘n guns doen deur hulle intens deel te maak van die ouers se wêreld, liewer as om die kinders oor te gee aan onderwysers en afrigters. Daar is ‘n gevaar van verlies aan identiteit en “behoort” as so’n benadering gevolg word. Jou kinders het ‘n natuurlike behoefte om deel van jou te wees.

Riaan Roux ·

Nee, nie naastenby nie. My pa was ‘n bankbestuurder en my ma ‘n sekretarese by die bank (nie syne nie lol). Ek het ‘n elektriese ingenieur geword en my suster ‘n internis. Maar, my vrou se pa is ‘n elektriese ingenieur maar sy is ‘n somatoloog.

Joe ·

Om die voetspore van ‘n ouer te volg kan net goed wees aangesien hul alreeds baie skoolgeld betaal het wat nie meer nodig sal wees nie. Ouers weet in die algemeen beter, volg hul raad dus nougeset. Dit kan net goeie vrugte afwerp!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.