Het ons die wapenrusting om die Covid-hidra te onthoof?

Daan Potgieter is die uitvoerende hoof van die Afrikaaanse Onderwysnetwerk (AON). (Foto: Verskaf)

Deur Daan Potgieter

In Griekse mitologie is die hidra ʼn veelkoppige slang met die vermoë om twee koppe te groei vir elkeen wat afgekap word. Die monster is uiteindelik deur  Zeus se seun, gewapen met ʼn goue swaard, oorwin. Dit voel soms asof slegs só ʼn goue swaard Covid-19 kan verslaan, want beide die virus (dink aan die Delta-variant) en die verwoesting wat dit saai, is hidra-agtig. Die onderwyslandskap is hierdie verwoesting nie gespaar nie. Drie koppe van die hidra skep tans groot kommer.

 Leerderuitval: ʼn afwaartse spiraal

Leerderuitval word ten beste deur die Engelse term “dropped-out” beskryf, met ander woorde leerders wat besluit, of deur omstandighede soos armoede gedwing word, om formele onderrig die rug te keer. Die getalle is skrikwekkend:

  • Die Verenigde Nasiesse Kinderfonds (Unicef) is van mening dat tussen 400 000 en 500 000 leerders tussen die ouderdomme van sewe en 17 hulle tydens die laaste 16 maande aan skoolonderrig onttrek het.
  • Die National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey (NIDS-CRAM) reken dat 500 000 leerders gedurende die pandemie uitgeval het. Dié getal kan egter so hoog as 750 000 wees. Dit is ongeveer 12 volgepakte Ellispark stadions!
  • Volgens NIDS-CRAM is die uitvalkoers die hoogste in 20 jaar.
  • Die matriekgroep van 2020 het hul skoolopleiding in 2009 met 1 072 993 leerders begin. Slegs 578 468 het die eindeksamen geskryf. 440 702 het geslaag (ʼn slaagsyfer van 76,2%).

Unicef wys daarop dat leerderuitval nie net leerverliese tot gevolg het nie. Kinders buite die skoolstelsel word meer aan geweld en mishandeling blootgestel. Die ontwikkeling van sosiale vaardighede word belemmer. Skoolmaaltye word verbeur. Dit is inderdaad ʼn somber situasie.

Covid is nie die enigste rede vir leerderuitval nie. Die Gauteng Gesondheidsdepartement het onlangs aangekondig dat meer as 23 000 tieners swanger geraak het tussen April 2020 en Maart 2021. 934 van hierdie meisies was tussen die ouderdomme van 10 en 14 jaar. Hierdie statistieke is skokkend. Wat dit erger maak is dat sowat 11 miljoen Suid-Afrikaners probeer oorleef op minder as R28 per dag. Watse toekoms wag op so baie van hierdie tienermoeders? Gaan die dodelike kombinasie van te veel stres en te min hulpbronne hulle knak? Gaan hulle ooit terugkeer skool toe? Indien wel, gaan hulle deurdruk en matriek slaag? Hul vooruitsigte lyk nie goed nie.

Leerderuitval is die begin van ʼn afwaartse spiraal wat by werkloosheid eindig, ʼn gebrek aan inkomste en ʼn veel groter kans om met die gereg te bots.

ʼn Leerverlore generasie in wording

In sy mees eenvoudige vorm kan leerverlies as die afwesigheid van nuwe kennis gedefinieer word. Verskeie redes onderlê hierdie fenomeen, onder andere die opheffing van klaskameronderrig, beperkte of geen toegang tot digitale hulpmiddels en ouers wat nie die vaardighede, tyd en/of hulpbronne het om by die onderrigtaak betrokke te raak nie.

Sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie het ʼn beduidende hoeveelheid leerders gestagneer omdat hulle nie aan nuwe kennis blootgestel is nie. Dit skep ʼn wesenlike gevaar dat ons land ʼn leerverlore generasie kan oplewer. Suid-Afrika met sy brose onderwysstelsel en wankelende ekonomie kan allermins so ʼn situasie bekostig. Tog word ʼn leerverlore generasie ʼn al hoe groter realiteit. ʼn Voorbeeld hiervan is soos volg: Volgens die Verenigde Nasies se Kinderfonds (UNICEF) beloop leerders se agterstallige onderrig tussen 75% en ʼn volle skooljaar. Dit is ʼn magdom nuwe kennis wat heel moontlik permanent verlore is.

Die langtermynimplikasies van leerverliese skets ʼn donker prentjie. So byvoorbeeld meen die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) dat huidige leerders in grade 1 tot 12 ʼn verlies aan inkomste van sowat 3% oor hul leeftyd kan ervaar. (Die wat daarin slaag om sinvolle werk te kry!) Sodanige verlies beteken dat lande ʼn afname van 1,5% in bruto binnelandse produk tydens die res van die eeu kan verwag. Die rede hiervoor is dat ekonomieë sal moet voortbeur met ʼn arbeidsmag wat minder toegerus is vir die uitdagings van ʼn kennisgebaseerde arbeidslandskap.

Vir minderbevoorregte leerders wat sedert die aanvang van die pandemie vir alle praktiese doeleindes geen onderrig ontvang het nie, is die vooruitsigte selfs donkerder. Vir Suid-Afrika met sy geweldige gaping tussen arm en ryk voorspel dit niks goeds nie. Dink byvoorbeeld daaraan dat leerders in die top-200 skole meer onderskeidings in wiskunde behaal as al die leerders in die daaropvolgende 6 600 skole, of dat meer as 20 000 skole geen laboratorium het nie. Amper 17 000 skole het geen toegang tot die internet nie.

Ons is kniediep in die Vierde Industriële Revolusie. Suid-Afrika benodig vaardighede soos kritiese denke, kreatiwiteit en komplekse probleemoplossing. Ook lewenslange leer. Dit alles begin in die klaskamer. Leerverliese trek ʼn donker wolk oor hierdie aspirasies.

Brose geesteswelstand

“On and on the rain will say how fragile we are.” So het Sting in 1987 gesing. Vandag het hierdie woorde ʼn meer onmiddellike en dringende betekenis. Die impak van Covid op ons geesteswelstand word toenemend as ʼn sekondêre pandemie gesien. Spanningsdruk, depressie en ʼn verlies aan energie onder volwassenes is aan die orde van die dag. Kinders is ook in die spervuur.

Isolasie, sosiale afstand, maskers en die skep van ʼn kliniese omgewing dra daartoe by dat leerders verhoogde angsvlakke ervaar en depressief voel. Daar is leerders wat reeds met ʼn gebrek aan selfvertroue sukkel, veral om die sogenaamde “nuwe normaal” te verwerk. Dan is daar ook leerders wat van nature introverte is. Dit is ongetwyfeld so dat leerders vandag meer leiding en berading benodig. Ongelukkig sukkel onderwysers self met bykomende vlakke van spanning, veral omdat hulle nuwe metodologieë en werkswyses moes baasraak om leerders te onderrig. Dit is ook so dat nie alle onderwysers toegerus is om uitdagings rondom geesteswelstand aan te spreek nie.

ʼn Verdere belemmerende faktor is dat leerders die spanning (byvoorbeeld finansiële druk en gesinsgeweld) wat hulle by die huis ervaar, saambring skool toe.

Die langtermynuitwerking van die pandemie op leerders se geesteswelstand kan nie nou al bepaal word nie. Ek kan egter met ʼn redelike mate van sekerheid voorspel dat angsversteurings sal toeneem, ondanks die feit dat kinders oor die algemeen emosioneel veerkragtig is. Dit is uiters belangrik om veral kwesbare leerders van hulp te wees.

Ons is nie wapenloos nie

Ek vermoed dat ʼn soektog na ʼn goue swaard ʼn nuttelose affêre sal wees. Ons is egter nie wapenloos nie.  Napoleon Bonaparte het eenmaal opgemerk dat ʼn leier ʼn handelaar in hoop is. Hoe waar is sy woorde nie! Die wetenskaplikes wat die Covid-hidra beveg, bring hoop in die vorm van entstowwe. Medici wat Covid-slagoffers op die been kry, bring hoop dat hierdie siekte nie noodwendig fataal is nie. Onderwysers wat leerders se belange bo alles stel, bring hoop dat gehalteonderrig sal voortgaan, ondanks die aanslag van die pandemie.

Handelaars in hoop. Die onderwys vra daarvoor. Pleit daarvoor. Die kwaliteit van ons leierskap, die diepte van ons toewyding, die erns van ons besef dat hef aan en vasvat al uitweg is – hierdie is die wapens in ons arsenaal waarmee ons die hidra kan aanvat. Dit geld vir administrateurs, vennote, onderwysers en ouers.

Die veerkragtigheid van ons kinderdae is nie verlore nie. Ook nie ons aanpasbaarheid nie. Vind dit. Voed dit. Gebruik dit. Word ʼn handelaar in hoop.

  • Daan Potgieter is die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanCzu ·

Ek dink dis tyd om te aanvaar dat die meerderheid Suid Afrikaners eenvoudig nie oor die intelligensie beskik om tot by Gr 12 te kan vorder nie.

Jacob ·

Die hoop in die vorm van entstowwe is ‘n mite in die volgende opsigte;
1. Die entstowwe is ondoeltreffend om die virus te keer om te muteer en nuwer, gevaarliker variante te vorm.
2. Die beperkte beskerming wat dit bied maak dit in baie gevalle gevaarliker omdat daar ‘n valse veiligheidsgevoel ontstaan. Sien deurbreek infeksies.
3. Die entstowwe kan weerstand teen verskeie vorme van kanker en ander virusse onderdruk.
4. Die entstowwe sal nooit kudde immuniteit teweegbring nie.
5. Die entstowwe kan negatief wees op natuurlike immuniteit.
6. Israeliese studie wys dat natuurlike immuniteit 13 keer meer doeltreffend is as Covid 19 entstowwe.
7. Entstowwe bly ongetoets vir langtermyn newe effekte.

Hou ook in gedagte dat die agterbakse wyse waarop doeltreffende alternatiewe behandelings gesensor word, rede tot agterdog is. Sien ivmmeta.com

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.