Hoe gemaak met kreatiewe angs?

(Foto: Sharon McCutcheon/Unsplash)

Deur Mariesa Candiotes

Studies toon dat ons kreatief gebore word. Dis as’t ware ʼn ingebore talent, maar soos die jare aanstap én as gevolg van verskeie eksterne faktore gaan hierdie talent mettertyd verlore.

Navorsing deur George Land het bevind dat kreatiwiteit oor tyd verleer word.

Die studie het, onder andere, vyfjariges bestudeer deur hulle ’n reeks kreatiewe toetse te laat aflê. Die gemiddelde kleuter het 98% behaal – dit val in die kreatiewe genie-kategorie. Mozart, Picasso en Da Vinci ressorteer onder dié rare groep.

Daarteenoor het slegs 12% van volwassenes – wat dieselfde toetse afgelê het, in dié kategorie geval.

Kreatiwiteit is in beginsel dubbelsinnig van aard – aan die een kant word dit geadmireer en vereer, maar aan die ander kant word dit bestempel as gevaarlik en buite die norm. Die samelewing bevorder ongelukkig eenvormigheid as die norm, selfs ons kurrikulum stel jaarliks algemene assesseringstandaarde bekend, asook jaarlikse onderrigplanne waaraan onderwysers moet voldoen, wat juis hierdie een-grootte-pas-almalsiening versterk.

Wat veroorsaak kreatiewe angs?

Ons denke is van nature negatief van aard en ons is geneig om die glas as half leeg te aanvaar. Uiteraard word ons kinders ook aan hierdie tipe denkwyse blootgestel.

Hierdie negatiewe denkwyse is ʼn ingeboude oorlewingsvaardigheid, wat ons voorberei op ʼn veg-, vlug- of vries-reaksie, maar indien kinders herhaaldelik hieraan blootgestel word, neig hul tot katastrofiese denke en óórdink ʼn probleem (wroeg) maklik.

Mariesa Candiotes. (Foto: Verskaf.)

Om ʼn mindere mate van angs te beleef, is nie noodwendig sleg nie, aangesien dit kinders inherent leer om vooruit te beplan, voorsiening te maak en strategieë gereed te hê vir moontlike uitdagings.

Daar moet egter teen die kreatiewe angs wat ʼn leerder kan kniehalter, gewaak word. Kinders kan so angstig raak dat daar ʼn “blok” ontstaan ten opsigte van ʼn sekere vakgebied of onderwerp. Hulle ervaar inderwaarheid ʼn gevoel van mislukking nog voor hulle probeer het. Kreatiwiteit en angs loop hand aan hand – en daarin lê die uitdaging.

In die klaskamer kan dit ʼn leerder kniehalter, want vrees vir mislukking bestaan. Maar dit kan ook van groot hulp wees – angstigheid moet op die regte manier gekanaliseer word om sodoende waardevolle vaardighede soos beplanning en innoverende denke te ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Snowball ·

Onderwysers en ouers speel ‘n groot rol in hoe kinders hulleself kreatiwiteit uitleef. Rigiditeit (gras is nie pers nie Jannie, gras is groen) demp dikwels kinders se unieke uitdrukking van kreatiwiteit. Daarenteen kan ‘n bemoedigende woord kinders dikwels laat blom en laat waag. Verbeelding het nie reëls nie en kinders moet vry en sonder vooroordeel kan waag om kreatief te wees. Daardie ma’s wat die perfekte kind wil hê en gedurig foute uitwys demp uiteindelik die kreatiewe gees.
Kinders speel ook te min deesdae; alles is net uitkomsgebasseerd – punte en prestasie staan bo aan die lys, selfs by klein kindertjies wat eintlik nog net pret moet hê en moet beleef is daar al ‘n gewroeg hoekom hy/sy minder sterretjies kry as die maatjie langsaan.
Die wêreld is eenvoudig te kompeterend – die fynbesnaarde kunssinnige kind kry min kans om sin te maak van die wêreld deur kuns of kreatiwiteit, daarvoor het die skoolopset heeltemal te prestasiegerig en ‘one size fits all’ geword.

Delene ·

Uitstekende Insiggewende kommentaar Snowball! Stem 100% saam met jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.