Hoe leer ek my kind om van kleins af probleme op te los?

kinders-met-probleme

Kinders moet leer om hulle eie probleme op te los. Foto: Hopecliniconline.com

[promosie-artikel]

Tienie Bester

As ouers word ons daagliks blootgestel aan ons kinders se doen en late. Elke nuwe dag bevat talle oomblikke waar ’n kind ’n probleem moet oplos en dit nie altyd regkry nie. As kinders nie van jongs af leer hoe om probleme op te los nie, gaan hulle as volwassenes ook daarmee sukkel.

As ouer speel jy ’n belangrike rol om kinders te leer hoe om na ’n probleem te kyk, dit te evalueer en dan ’n plan van aksie uit te werk.

Daar bestaan nie ’n kitsoplossing soos ’n lys van stappe oor hoe om ’n probleem op te los nie. Elke probleem bevat unieke omstandighede en unieke faktore wat ’n rol speel. Gesels met jou kind oor die probleme wat hy ervaar. Soms kan die blote feit dat hy ’n probleem aan jou verduidelik ’n beginpunt wees vir ’n oplossing. Sodra jou kind ’n probleem kan identifiseer, leer hom om aan ten minste drie moontlike oplossings vir die probleem te dink.

Kom ons kyk na die volgende voorbeeld: ’n Seuntjie vertel sy ma dat die kinders hom oor sy voorkoms spot.

Met sy ma se aanmoediging, dink die seuntjie so vinnig aan die volgende moontlike oplossings:

  • Klim met die vuiste onder hulle in
  • Spot hulle terug
  • Ignoreer hulle
  • Vermy hulle
  • Rapporteer die geval aan ’n gesagsfiguur.

Nou kyk die ma saam met haar seuntjie na die gevolge van elke keuse. Elkeen het sy voor- en nadele wat opgeweeg moet word. As die seuntjie byvoorbeeld kies om die kinders terug te spot, lei sy hom om tot die gevolgtrekking te kom dat die besluit meer nadele as voordele inhou.

Moenie altyd inspring om jou kinders se probleme vir hulle op te los nie. Leer hulle om op hulle eie oordeel te vertrou deur hulle toe te laat om self hulle probleme op te los – tensy dit natuurlik ’n veiligheidsrisiko inhou. Leer hulle ook dat almal soms die verkeerde besluite neem, maar dat dit ook aanvaarbaar is. Om te leer dat verkeerde besluite onaangename gevolge het, is net so ’n belangrike lewensles!

Artikel verskaf deur Impak Onderwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.