Hoe lyk respek en medemenslikheid in skole?

(Foto: Sweetlouise/Pixabay)

Deur Jeanette De Klerk-Luttig

Een van die belangrikste kernwaardes waarop ouers en opvoeders in ons land behoort te konsentreer, is respek. Hierdie waarde is nie net onmisbaar vir kinders se gesonde persoonlike ontwikkeling nie, maar ook vir die voortbestaan van ʼn menswaardige samelewing. Respek is wat verhoudings laat werk, en die suurstof van enige demokrasie. Dit is ʼn ononderhandelbare kernwaarde van alle beskaafde samelewings.

’n Gebrek aan respek en medemenslikheid is op elke vlak van ons samelewing te sien – van woede op ons paaie tot boeliegedrag in skole – en maak Suid-Afrika een van die gewelddadigste samelewings ter wêreld. Talle kinders in ons land word groot in ʼn kultuur waar geweld eerder as respek die norm is, met verwoestende implikasies. Een uit elke drie vroue in Suid-Afrika sal in haar leeftyd verkrag word, en sowat die helfte van alle kinders in ons land word voor 18-jarige ouderdom mishandel. Dié geweldskultuur is die duidelike simptoom van ’n gebrek aan respek en medemenslikheid.

As ʼn omvattende waarde, begin respek by ’n mens self. Daarna kring dit uit na respek vir alle ander mense, ook dié wat van jou verskil; respek vir eiendom, sowel joune as ander s’n; respek vir alle vorme van lewe, en respek vir die aarde wat lewe onderhou. Boonop behels dit respek vir jou eie en ander se tradisies en kultuur. Respek is die kern van die goue reël om aan ander te doen soos jy wil hê hulle aan jou moet doen, en die grondslag van goeie maniere.

Die woord “respek” kom van die Latynse woord respectere, wat letterlik beteken “om weer te kyk” en sodoende ander se inherente waarde raak te sien. Daarom sluit respek in om agting te toon vir die inherente waarde van ander mense en dinge, en sluit dit enige magsmisbruik uit. Dít impliseer dat ek geen mens sal manipuleer, verkleineer, boelie of misbruik nie.

Kinders ontwikkel selfrespek wanneer ouers en onderwysers hulle beleefd hanteer. Hulle leer hulleself ag wanneer ouers en onderwysers hulle met agting behandel, en hulle word medemenslik wanneer hulle self so behandel word. Toe Trevor Huddleston byvoorbeeld die negejarige Desmond Tutu se ma buite haar werkplek, die Instituut vir Blindes in Roodepoort, beleefd groet en sy hoed vir haar lig, het dié klein gebaar van respek en medemenslikheid Tutu se lewe vir altyd verander. Vanaf daardie beslissende oomblik in sy lewe het hy gedroom van, en gewerk vir, ʼn Suid-Afrika waar alle mense mekaar met respek en menswaardigheid behandel.

Wanneer respek in skole ontbreek, kan onderwysers nie onderrig nie, en kan leerders nie leer nie. Sonder wedersydse respek tussen onderwysers en leerders, en onderlinge respek tussen onderskeidelik onderwysers en leerders, val skole uitmekaar. Volgens navorsing is leerders se gebrek aan respek teenoor hulle onderwysers een van die drie hoofredes waarom leerders nie onderwysers wil word nie. ’n Gebrek aan respek teenoor onderwysers is ongelukkig dikwels ʼn uitvloeisel van gebrekkige respek teenoor ouers in die huis. Wanneer ouers, as primêre opvoeders, nie respek as kernwaarde in die huis vestig nie, maak dit onderwysers se taak soveel moeiliker. Dit is ook belangrik dat leerders sien hoe hulle ouers beleefd teenoor onderwysers optree, en nie afbrekend en oneerbiedig van onderwysers praat nie.

Hoe lyk respek in skole in die praktyk? Skole se kernwaardes behoort in hulle gedragskodes tot uiting te kom. Hieronder volg voorbeelde van hoe verskillende skole in hulle gedragskodes konkrete inhoud gegee het aan die waarde van respek:

“Hier groet ons mekaar.”

“Ons gebruik beskaafde taal, en ons vloek nie.”

“Ons duld geen vandalisme, verkleinering, boeliegedrag of enige vorm van groepwreedheid nie.”

“Ons toon goeie maniere teenoor ons meerderes, maar ook teenoor ons minderes of juniors.”

“Ons respekteer en erken die kultuur, taal en tradisies van ander wat van ons verskil.”

“Ons luister na mekaar, gee almal ʼn kans om hulle kant van ʼn saak te stel, en probeer mekaar se standpunt verstaan.”

“Ons toon respek deur ons klaskamer, geboue en terrein skoon te hou, en ook deur ons skooldrag netjies te hou.”

“Op die sportveld tree ons beleefd en in ’n goeie gees teenoor ons teenstanders op, ongeag of ons wen of verloor.”

“Ons toon respek teenoor besoekende sprekers en kunstenaars deur ʼn hoflike en waarderende gehoor te wees.”

Waardes kom altyd in bondels voor, en dus kan die waarde van respek nie van die waardes van omgee en medemenslikheid geskei word nie. Medemenslikheid impliseer dat ek, as onderwyser, leerders as mense sal raaksien en erken. Dit beteken nie net dat ek leerders se name sal leer ken en gebruik nie, maar ook dat ek sal onthou dat elkeen ’n unieke mens is met hulle eie, unieke persoonlikheid, talente, omstandighede en verhale. Dít impliseer dat onderwysers nie witbroodjies sal hê of sommige leerders voor hulle klasmaats sal verneder en in die verleentheid stel nie. Verder behels omgee en medemenslikheid dat onderwysers nie leerders deur sarkasme, verkleinering en persoonlike aftakeling sal probeer dissiplineer nie.

Omgee is die kern van etiese besluite. In die vele skietvoorvalle in skole in die VSA die afgelope aantal jaar, waar leerders op klasmaats losgebrand het, het die oortreders ná die tyd gesê niemand by die skool het vir hulle omgegee nie. Wanneer leerders ervaar dat mense by die skool werklik vir hulle omgee, vaar hulle akademies beter.

Leerders se onuitgesproke ingesteldheid teenoor onderwysers is: “Ek gee nie om hoeveel jy weet voordat ek weet dat jy omgee nie.” Die gehalte van die verhouding tussen onderwysers en leerders vervul ʼn kernrol in alle opvoedingsgebeure. Ongelukkig val die klem in skole so sterk op formele onderrig, en is die kurrikulum so oorlaai, dat dié verhouding dikwels nie die nodige tyd of erkenning kry nie.

Natuurlik beteken medemenslikheid en omgee nie dat onderwysers ʼn laat-maar-loop-houding inneem, en laksheid en onverantwoordelikheid oorsien nie. Juis omdat hulle omgee, wil onderwysers leerders ondersteun om die mens te word wat hulle kan en behoort te wees.

Kinders leer vir ander omgee en medemenslik optree wanneer hulle leef tussen mense wat omgee, en sien hoe hulle ouers en onderwysers uitreik en ander mense prakties help. Hulle leer omgee deur direk betrokke te wees by die aanbieding van ekstra klasse, die voorbereiding en uitdeel van kos by ʼn sopkombuis, die insameling van kos en klere vir minderbevoorregtes, of die vestiging van ʼn tuin by ʼn kleuterskool of ouetehuis.

In ʼn gesprek met onderwysstudente is hulle gevra om oor hul eie positiewe ervarings op skool te gesels. Een student het vertel dat sy gedurende die rekordeksamen erg verkoue gehad het, en dat haar sneesdoekies opgeraak het terwyl sy met ʼn moeilike wiskundevraestel besig was. Haar oplettende onderwyseres het dit raakgesien en ongemerk haar eie sakdoek op die student se bank neergesit – ’n gebaar van omgee en medemenslikheid wat haar altyd sal bybly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Kinders het nie respek nie . Punt .

Heinrich

Die hedendaagse politieke klimaat van die land is sterk teenwoordig in die skole waar die huidige bevoordeeldes meer regte toe-eien word, soos liberals, GBTQs, ANC lede ens. Enige iemand wat nie saamstem met dié groepe word summier gebrandmerk en gedissiplineer.