Hoe om ’n tuis­onder­rig­kur­riku­lum te kies

Argieffoto (Foto: Mihail_fotodeti, Pixabay)

Deur Hilda Erasmus, ’n grondslagfasespesialis

Jy het dalk al van dag een af geweet dat jy jou kind by die huis wil onderrig, maar in ander gevalle het omstandighede waarskynlik daartoe gelei dat ouers tot dié besluit gekom het. Dikwels bring die kinders so baie huiswerk saam huis toe dat ouers die werk net so wel self met hul kinders by die huis kan doen. Soms kan die leerders nie by die pas hou waarteen die onderwyser werk nie of die leerders word geboelie of bly op plase wat dit moeilik maak om by ’n skool uit te kom. Wat ook al jou rede is, hier is ’n paar aspekte wat jy in ag moet neem as jy ’n kurrikulum vir jou kinders kies:

Hoe lank wil jy tuisonderrig gee?

In Suid-Afrika word daar van die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) in staatskole en meeste privaat skole gebruik gemaak. Indien ’n ander kurrikulum gebruik word, kan die kind dalk probleme ervaar om in ’n skool aan te pas indien die ouers besluit om die kind terug skool toe te stuur. Dit gebeur dikwels dat omstandighede verander en dat ouers nie meer self hul kinders tuis kan onderrig nie. Onthou, dis baie belangrik dat die kind by die Provinsiale Departement van Onderwys vir tuisonderrig geregistreer word.

Kies ’n goeie kurrikulumverskaffer

Jy het die keuse om na ’n boekwinkel te gaan en boeke vir die regte grade aan te koop of om deur ’n kurrikulumverskaffer te werk. Kurrikulumverskaffers sal die hele pakkie verskaf wat benodig word en teen die tyd dat die kind in graad 10 kom, sal die verskaffer ook die kind by ’n eksamenraad registreer sodat die leerder ’n Nasionale Senior Sertifikaat (aan die einde van graad 12)  kan verwerf. ’n Kurrikulumverskaffer vergemaklik die proses vir die ouer. Daar is ook verskaffers wat ’n naverkoopdiens lewer sodat ouers van die kurrikulumverskaffer se akademiese kennis gebruik kan maak om hul vrae te beantwoord.

Neem jou kind se leerstyl in ag

Dit is belangrik om jou kind se leerstyl in ag te neem. Indien jou kind sterker in een vak is en stadiger in ’n ander leer, moet die kurrikulum buigbaar wees om daarby aan te pas. Party kinders leer deur ure agter die boeke te sit, waar ander ’n meer praktiese aanslag verkies. Jy as ouer gaan ook ’n sekere voorkeur hê in die uitleg en manier van aanbieding.

Op die ou end is daar nie ’n regte of verkeerde manier nie, jy moet ’n kurrikulum kies wat vir jou en jou kinders gaan werk. Jy kan altyd iets anders probeer as jy nie die eerste keer gekry het waarna jy gesoek het nie. Dit is ook altyd goed om met ander ouers te gesels wat reeds hul kinders by die huis onderrig en by hulle uit te vind wat vir hulle werk. Onthou net dat elkeen ’n unieke behoefte het en dat dit wat vir die een werk, nie noodwendig vir ’n ander een sal werk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan Neuteman ·

Dit klink teenstrydig om tuisskool te doen, en dus ‘n sterk standpunt in te neem om jou kind se onderrig self te hanteer, maar steeds gedwing te word na die staat se kurrikulum toe.

Danie ·

Maak nie saak watter instansie jy kies nie maak altyd seker dit word wêreldwyd erken. Anders gaan jou kind dalk eers ‘n oorbrugging jaar op meer moet voltooi voordat die kwalifikasie aanvaar word. Of dalk heeltmaal oor moet begin.

Chirani Meyer ·

Die staatskurrikulum is nie nootwendig nodig vir tuisskool nie , daar is baie tuisskool families wat ander bronne gebruik wat beter werk in n leeromwewing wat anders is as die in die klaskamer.

Meeste tuisskool familes kies om nie by die Departement v Onderwys te reggestreer nie omdat hulle hul konstitusionele reg beofen as ouers om hulle kinders optevoeg soos hulle goed sien .
Die staatskurrikulum is een van die swakste in die wêreld en ouers soek beter opsies vir hul kinders se opvoeding.

Lynne ·

Ek stem 100% saam met jou Chirani! Die StaatsKurrikulum is een van die swakstes in die wêreld! Die beste keuse bly ‘n vaartbelynde kurrikulum wat die fokus en klem op die bemeestering van die nodige basiese vaardighede plaas!

Disselboom ·

Volgens dr Danie Brink is die Afrikaanse openbare skole wêreldklas – en hulle volg die staatskurrikulum. Die staatskurrikulum kan dan nie so sleg wees nie, of hoe?

Breytie ·

Disselboom, vir jare al kla sommige tuisonderrig ouers oor die SA Kurrikulum. Baie van hulle voer dit aan as ‘n rede waarom hulle liewer die “unschool” metode volg. Dis gebaseer op die filosofie dat kinders alles op ‘n “natuurlike” manier sal leer – hulle moet net gelos word. Ek het al sommige van hulle gevra om spesifieke inhoude van die kurrikulum te noem wat so erg swak is, dan word dit duidelik hulle het nog nooit die kurrikulum oopgemaak nie – laat staan nog bestudeer.

As ‘n mens nie die voorbeelde wil gebruik wat in die KABV of “CAPS” gegee word nie, kan jy slegs die voorgeskrewe uitkomste gebruik en jou eie inhoud daaraan gee, dan het jy in elk geval jou eie kurrikulum. Baie van hierdie mense herhaal net bewerings wat hulle by ander gehoor het. Hulle het nie ‘n eerlike standpunt van hulle eie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.