Hoe weet ek of my kind skoolgereed is?

onderwys-alfabet-swartbord-boek

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Hilda Erasmus ’n grondslagfasespesialis

Skoolgereedheid is een van die grootste bekommernisse van ’n graad R-ouer. Hoe weet jy of jou kind reg is om met die “groot skool” te begin? As jy as ouer met ander ouers praat, dan hoor jy hoe hulle kinders al woorde kan bou en somme kan maak en skielik begin jy twyfel in jou kind se vermoë en of hy/sy werklik gereed is om skool toe te gaan.

Miskien moes jy jou kind beter voorberei het sodat hy ’n voorsprong bo die ander kinders kan hê of dalk moes jy basiese graad 1-werk in die middae ná skool begin doen het.

Skoolgereedheid word in drie basiese vaardighede opgedeel:

Intellektueel

Die kind moet die vermoë hê om nuwe begrippe te kan verstaan, te redeneer en weer te gee. Op daardie ouderdom absorbeer en prosesseer hulle alle nuwe inligting. As jy ’n klank vir ’n kind gaan aanleer, gaan hulle dit waarskynlik onthou, maar daar is ander vaardighede wat belangriker vir jou kind se skoolgereedheid is.

Omdat ons so ’n groot verandering in ons samelewing ervaar van ouers wat albei werk, fokus ouers dikwels op die ontwikkeling van die intellektuele vaardighede en nie die fisiese of sosiale vaardighede nie. Televisies en rekenaars het ook ’n maklike metode geword om kinders soet besig te hou terwyl ouers gou kos maak of wasgoed was. Alhoewel dit nie verkeerd is nie aangesien kinders algemene kennis opdoen, moet ouers onthou om ook buite saam met hul kind te speel deur balle te skop of wegkruipertjie te speel.

Fisiek

’n Kind wat fisiek sterk is, wat gemaklik kan hardloop, spring, klim en klouter het ook die vermoë om langer te konsentreer. Hulle kan hul spiere gebruik om langer regop te sit, ’n potlood vas te hou en vir 40 minute op ’n slag te fokus op dit wat in die klas gedoen word.

’n Kind wat slegs intellektueel gestimuleer word (met die aanleer van basiese graad 1-werk) kry nie kans om hierdie spiere te ontwikkel nie. Dit is ook die leerders wat oor hul werk hang of op hul arms lê en vinnig moeg raak. Hulle voltooi nie hul klaswerk betyds nie en moet dit vir huiswerk doen. Ouers wonder dan wat by die skool gebeur omdat hulle in die middae nog tot laat moet sit en huiswerk doen.

Sosiale en emosionele ontwikkeling

Jou kind gaan uit sy veilige omgewing na ’n gestruktureerde omgewing met ander roetines, langer ure en hoër druk. Dalk gaan daar niemand wees wat hy/sy ken nie. Vir jou kleuter is dit dieselfde om na graad 1 te gaan.

As jou kind nie sosiaal met ander kinders kan speel nie, leer hulle nie hoe om moeilike situasies te hanteer nie. ’n Kind wat nie sosiaal en emosioneel gereed is nie sal moord en brand skree en aan hul ma se rokspante vasklou (Ons weet darem ook dat party kinders bietjie kan oordryf).

In spel is daar konflik, ongelukkigheid, oneerlikheid, en die arme onderwyser tree as regter op, maar hieruit leer die kinders hoe om moeilike situasies te hanteer en te verwerk. Hierdie vaardigheid sal hulle leer hoe om vir die res van hul lewe stresvolle situasies te hanteer en aanpasbaar te wees vir die onbekende.

  • Hier is ’n baie oulike webtuiste wat gebruik kan word om te sien of jou kind gereed is vir graad R: http://www.schoolsparks.com/kindergarten-readiness-test
  • Hilda Erasmus is ’n spesialis in die grandslagfase (Gr. R tot Gr. 3) by Impaq. Impaq vorm deel van die FutureLearn-groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

dr. Sakkie van der Merwe ·

Dankie Hilda, Ons jong ouers het meer sulke artikels nodig.

Moedeloos ·

My kind het spesiale onderig nodig, daar is eenvoudig net nie plek vir haar nie. Ek het haar toe in een van Impaq skole geplaas en wonderlike terug voering ontvang maar toe ek haar laat toets kon sy nie eers die basiese wiskunde doen nie. So ek voel ek “koop” n goeie rapport in plaas van regte resultate

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.