Hoekom is wiskunde belangrik?

wiskunde-02

(Argieffoto)

Deur Susan Naudé

In vandag se moderne wêreld, waar leerders se antwoorde slegs die druk van ’n knoppie vereis, mag jy dalk wonder waarom wiskunde as vak nog belangrik is. Is algebra en trigonometrie werklik ʼn vereiste vir sukses? Moontlik nie, maar daar is soveel meer waarde aan wiskunde as wat jy dalk besef. Hier volg net ’n paar redes waarom wiskunde as vak belangrik is:

Wiskunde ontwikkel kritiese denkprosesse

Met die aanleer van die onderskeie afdelings in wiskunde, sal die leerder belangrike vaardighede aanleer wat in talle ander vakke gebruik kan word, soos byvoorbeeld:

  • logiese redenering;
  • probleemoplossing; en
  • die vermoë om kreatief te kan dink.

Wiskunde leer jou om data te analiseer deur verskillende patrone te herken, toepaslike vrae te vra en metodes uit te werk om by die antwoord uit te kom. Jy leer selfs metodes om te toets of die antwoord korrek is.

Hierdeur leer jy dus om beide analities, logies en kreatief te dink, ook hoe om ’n probleem op verskeie maniere te benader en dan met ’n logiese en toepaslike oplossing vorendag te kom.

Wiskunde het praktiese toepassings

Jy is dalk nie eens bewus daarvan nie, maar jy gebruik daagliks wiskunde. Wanneer jy jou maandelikse kruidenierswarebegroting uitwerk of bestanddele afmeet as jy bak, gebruik jy wiskunde. Selfs as jy bereken hoe laat om te vertrek om betyds ’n afspraak na te kom, maak jy van syfers en berekeninge gebruik.

Om vinnig en akkuraat afstande, tye, gewigte en persentasies te bereken, is ’n basiese, maar baie belangrike vaardigheid wat ons daaglikse lewe makliker maak – en dáárvoor moet ons wiskunde bedank.

Wiskunde open verskeie loopbaanmoontlikhede

Die afgelope jare word die akroniem WTIW (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) of STEM (science, technology, engineering and mathematics) al hoe meer gehoor. Al hierdie rigtings vereis ʼn gevorderde insig en begrip van wiskunde en daar is ’n groot tekort aan gekwalifiseerde kandidate in hierdie loopbaanrigtings. Dit beteken dat studente wat in wiskundige rigtings studeer en goed presteer, vir hulself die weg baan om verskeie winsgewende en opwindende beroepe te betree.

Selfs al wil jy nie ’n wetenskaplike of ’n ingenieur word nie, sal jy vinnig agterkom dat byna elke denkbare beroep in een of ander mate gebruik maak van wiskundige berekeninge. Argitekte en vermaakkunstenaars, fotograwe en modeontwerpers, marknavorsers en verkoopsagente gebruik almal daagliks wiskunde in die werkplek. Indien jy moeite doen met wiskunde tot in matriek, sal jy ná skool ’n wyer veld van loopbaankeuses hê om van te kies.

Wiskunde is die taal van die heelal

Die basiese beginsels en wette van wiskunde help ons om die wêreld om ons te beskryf en te verstaan. In werklikheid is wiskunde nie net die taal van die heelal nie, maar wel ook ’n universele taal.

Om getalle op te tel of om ’n nuwe algoritme te ontwerp, is dieselfde in enige taal; dit maak nie saak waar jy jou in die wêreld bevind nie. Dit alles vorm deel van die opwinding wat in wiskunde as vak opgesluit lê.

Dit is ʼn feit dat wiskunde steeds ’n groot uitdaging bied vir baie leerders, maar tog bly dit ’n baie belangrike vak. Met ’n bietjie moeite en baie oefening kan enige persoon wiskunde as vak bemeester.

Wat is die verskil tussen die verskillende soorte wiskunde?

Susan Naudé is die departementshoof van wiskunde by die Hoërskool Die Wilgers. (Foto: Verskaf)

Wiskunde is ʼn teoretiese vak met praktiese toepassing. Daar word baie klem gelê op die abstrakte denke. Dit wil sê die leerder gaan met onbekendes soos x, y, α, β, θ, sin, cos, tan en formules werk. Hulle het egter minstens ʼn matige aanleg vir hierdie tipe denke nodig.

Wiskunde is noodsaaklik vir tegniese- en wetenskaplike studierigtings en gaan saam met vakke soos fisiese wetenskap (FW), ingenieursgrafika en ontwerp (IGO), meganiese tegnologie (MEG), inligtingstegnologie (IT) en rekeningkunde (RE).

Wiskundige geletterdheid is ʼn syfervak met praktiese toepassing in die alledaagse lewe.

Dit is ʼn baie goeie vak vir diegene wat nie spesifiek wiskunde vir hul kursus nodig het nie. In hierdie vak leer hulle, onder meer, om volumes, omtrek en oppervlaktes uit te werk, asook water- en elektrisiteitsrekeninge, telefoonrekeninge, bankstate en belastingvorms te ontleed, om maar net ʼn paar te noem.

Tegniese wiskunde is wiskunde wat net meer ingestel is op dit wat nodig is vir studie in ’n tegniese rigting. Die klem is dus meer op toepassing en minder op abstrakte idees. Jou kind kan dan ná matriek verder in ʼn tegniese rigting by ʼn geakkrediteerde tegniese kollege studeer. Tegniese wiskunde en tegniese wetenskap is ʼn pakket saam met meganiese tegnologie plus ingenieursgrafika en ontwerp. Inligtingstegnologie word sterk aanbeveel as ’n ekstra vak as jou kind in hierdie rigting belangstel.

Gevorderde wiskunde word nauurs teen vergoeding aangebied. Gr. 8- en 9-klasse is inleidend tot gevorderde wiskunde. Vanaf gr. 10 volg ons ʼn spesifieke sillabus. Kandidate sal ná die suksesvolle aflegging van die AP Maths (gevorderde wiskunde)-matriekeksamen ʼn nasionale sertifikaat van die onafhanklike eksamenraad ontvang.

Voornemende eerstejaarstudente wat hierdie vak neem, vind die toelatingseksamen en wiskunde 1 by universiteite baie makliker as die ander studente. Gevorderde wiskunde bied ook aan matrikulante ʼn groot voorsprong, aangesien ʼn groot deel van die matrieksillabus in die gr. 11-klas afgehandel word.

Hoërskool Die Wilgers het ʼn trotse wiskundetradisie en bied wiskunde op 4 vlakke aan. Wiskunde (graad 8-12), wiskundige geletterdheid (graad 10-12), tegniese wiskunde (graad 10-12, mits daar genoeg belangstelling is) en gevorderde wiskunde (graad 9-12). Gaan loer gerus ook na ABC Maths & Science se webblad vir meer besonderhede oor wiskunde en wetenskap.

  • Susan Naudé is die departementshoof van wiskunde by die Hoërskool Die Wilgers. Naude is al vir 41 jaar in die onderwys waarvan 36 jaar as wiskundeonderwyser aan die Hoërskool Die Wilgers. Vra jy haar hoekom sy ’n onderwyser geword het, sê sy dat sy graag haar liefde vir haar vak aan ander wil oordra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.