Ideale geleentheid om afstandsonderrig te probeer

Foto verskaf deur Breinlyn

Die woord “koronavirus” het vinnig deel van ons daaglikse woordeskat en gesprekke geword. Die impak van die pandemie het veral ‘n realiteit geword toe Suid-Afrika verlede week ‘n 21-dae tydperk van afsondering binnegegaan het. Die afsonderingstydperk is voorafgegaan deur die sluiting van onder andere skole, wat natuurlik ‘n geweldige impak op duisende leerders se akademiese onderrig het.

Nagenoeg 300 miljoen leerders reg oor die wêreld word deur die impak van die virus geraak, aangesien talle skole en universiteite gesluit het. Daar is reeds geluide vanuit die departement van basiese onderwys se kantore dat drastiese stappe gedoen moet word om te verseker dat die skooljaar nie ontspoor nie. (Lees hier)

Die vraag wat nou ontstaan is in hoe ʼn mate word tuisonderrig of afstandsonderrig relevant te midde van die huidige omstandighede? Breinlyn bied vir die afgelope 30 jaar afstandsonderrig aan duisende leerders binne en buite Suid-Afrika se grense. Breinlyn se reeds bestaande aanlyn klasse vir leerders het veroorsaak dat die akademiese program nie deur die sluiting van skole geraak is nie.

Na aanleiding van die afsonderingstydperk, sê Breinlyn se uitvoerende hoof, Coleen Cronje, het hulle ook besluit om leerders buite die Breinlyn-familie by te staan.

“Ongewone omstandighede genoodsaak buitengewone stappe,” verduidelik Cronje. “As ‘n virtuele skool word ons leerders minimaal tot glad nie deur die huidige situasie beïnvloed nie. Ons het daarom besluit om leerders wat tans nie deel van die Breinlyn virtuele skool is nie, ook met hulle onderwys by te staan omdat ons weet dat ouers uiters bekommerd is oor die langdurige effek van ‘n onderbreking in akademiese onderrig. Breinlyn bied ‘n hele aantal opsies aan leerders om te verseker dat hulle nie waardevolle akademiese tyd mis nie. Tuisonderrig is nou ook vir hierdie leerders beskikbaar via ʼn aanlyn platform.

“Ons het maandelikse keuses met gemaklike kansellasie-opsies vir die leerders wat van ons dienste gebruik wil maak terwyl hul nie hul eie skole kan bywoon nie,” voeg Cronje by. Breinlyn het ook spesifiek voorsiening gemaak vir Graad 12-leerders wat tans ook by die departement van basiese onderwys ingeskakel is.

Voorsiening word ook gemaak vir Graad 12-leerders wat tydens die tweede semester by Breinlyn wil aansluit, indien hulle aan die voorwaardes vir hulle onderskeie vakportefeuljes voldoen. “Ons gekwalifiseerde onderwysers is beskikbaar om hierdie leerders met ‘n vinnige oorgang by te staan. Graad 12’s wat van die geleentheid gebruik wil maak, kan ons kontak vir meer besonderhede.”

Virtuele klasse bied leerders die geleentheid om deur die vakke te werk volgens ‘n pas wat vir hulle gemaklik is. “Ons aanlyn klasse is spesifiek so saamgestel dat leerders eienaarskap van hulle eie skoolloopbaan kan neem en dit by hul besige lewens aanpas. As jou kind ‘n atleet, kunstenaar, vrywilliger of werker is, is ons virtuele skool oop met 24-uur-toegang.”

In die verlede was daar ‘n baie negatiewe persepsie van tuisonderrig en prentjies is geskets van ‘n ma wat by die huis onderrig gee terwyl die kind alleen by ‘n klein tafeltjie sit en ‘n eensame kluisenaarsbestaan voer sonder om met maats te sosialiseer.

“Dit is gewoon nie waar nie! Die 21ste eeu het plek gemaak vir ‘n alternatiewe vorm van onderwys wat op die nuutste tegnologie geskoei is en ‘n verfrissende nuwe opsie bied vir leerders van die digitale era,” verduidelik Cronje.

Breinlyn bied sedert 1990 afstandsonderrig aan duisende leerders en hierdie formaat van onderwys het die afgelope tyd in Suid-Afrika toegeneem. Teen die einde van 2018 was daar reeds meer as ‘n geskatte 100 000 tuisonderrigleerders in die land.

“Daar is verskeie redes vir die groei van hierdie bedryf wat ook baie te doen het met die toename in die gesofistikeerdheid van tegnologie wat met hierdie soort afstandsonderrig gemoeid is. Aangesien ons kurrikulum gebaseer is op individuele behoeftes, kan dit ook ‘n veilige omgewing vir leerders bied wat die tradisionele skoolomgewing uitdagend vind,” vertel sy.

Liezel Bruwer, mentor vir Breinlyn se leerders, sê hulle bied op ‘n gereëlde basis ondersteuning aan leerders en hulle families wat met uitdagings soos outisme, depressie en angs sukkel. “Breinlyn se program bied die geleentheid aan leerders en hulle families ‘n leerprogram wat aan hulle eie individuele behoeftes voldoen. Indien studente deur ADHD, depressie, angs en soortgelyke probleme geteister word, kan ons hulle help om hulle eksamenskedules aan te pas om sodoende ‘n veilige leeromgewing vir hulle te skep,” sê Bruwer.

Voordele van tuisonderrig sluit in:

  • Leerders kan teen hulle eie pas werk.
  • Daar is meer buigsaamheid rondom skedules.
  • Groepsdruk, boelie en hoë mededingsvlakke is iets van die verlede.
  • Een-tot-een opvoeding beteken daar is meer tyd om werklik te leer.

Breinlyn bied deur die IEB (Independent Examination Board) ‘n volledige Nasionale Seniorsertifikaat (NSS) wat voldoen aan die vereistes en voorskrifte van Umalusi.

Uit die mond van Breinlyn se families

“My werksomstandighede noodsaak my familie om gereeld te trek, maar met Breinlyn kon my dogter sonder moeite haar IEB-matrieksertifikaat voltooi en sy leer tans vir haar LLB-graad. My seun wat met ADHD sukkel, voltooi nou sy vyfde suksesvolle jaar by Breinlyn en ons sal nooit spyt wees oor ons keuse nie” – Gerald Randall (Ouer)

“My dogter het gesukkel om in ‘n hoofstroom skool aan te pas waarna ons by Breinlyn aangesluit het. Breinlyn en haar tutorsentrum het haar ‘n tweede kans gegee. Ons is nog nie een dag spyt dat ons by Breinlyn aangesluit het nie. My seun het ook intussen by Breinlyn begin en doen baie goed.” – Anali Bisogno (Ouer)

“Ons het baie gesukkel om by ‘n gewone skoolverband in te skakel aangesien my dogter, Ashley, met ‘n gehoorprobleem gebore is en altyd harder as die ander leerders moes werk om by te hou. Breinlyn het haar lewe verander want sy kan nou teen haar eie pas leer en floreer.” – Tania Cambell (ouer)

Besoek www.brainline.com vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.