In ’n japtrap gereed vir die grootskool

Lees soveel as moontlik vir jou kind. Foto: Sven Brandsma/Unsplash

Wilna van Rooyen, ʼn vroeëkinderontwikkelingspesialis van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), verstaan die hart van klein mensies en deel graag ʼn paar idees om gr. R-leerders speel-speel vir die grootskool voor te berei.

Algemeen:

  • Laat jou kind gereeld oefen om sy of haar huisadres, telefoonnommer (selfoon of landlyn), volle name en verjaarsdag te sê. As hulle dit gereeld herhaal, ken en onthou hulle dit sommer gou!
  • ʼn Goeie beleid is dat indien kinders iets kan doen, hulle dit móét doen. As hulle byvoorbeeld self kan aantrek, laat hulle dit doen, maar help hulle om al die vasmaakmiddels te bemeester. Dit gee hulle selfvertroue en verhoog hul eiewaarde, wat die belangrikste eienskap vir skoolgereedheid is.
  • Laat kinders oefen om skoenveters vas te maak, dit verg heelwat oefening, maar is binne bereik!
  • Dit is belangrik dat jou kind ʼn goeie nagrus kry. ʼn Gepaste slaaptyd is nie later nie as 19:30.
  • ʼn Gesonde ontbyt en ʼn kospakkie is noodsaaklik om energievlakke hoog te hou en optimale leer te laat plaasvind. Vrugte en toebroodjies bly die gesonde keuse, asook rou groente, biltong, neute en gedroogde vrugte.

Emosioneel:

Jou kind se emosionele intelligensie is waarskynlik net so belangrik soos sy of haar intellektuele intelligensie. Indien kinders nie emosioneel veilig voel nie, verskraal hul kanse om intellektueel na wense te vorder.

  • Moedig onafhanklikheid aan. Laat kinders dinge vir hulself doen, al is jy haastig. Indien jy take uit jou kinders se hande neem, begin hulle glo dat hulle dit nie kan doen nie. Om take self af te handel, skep ʼn gevoel van prestasie en onafhanklikheid.
  • Groet jou kind en vertrek so gou as moontlik wanneer jy jou kind in die oggend aflaai. Kontak met verskillende persoonlikhede versterk en ontwikkel die persoonlikheid van jou kind.
  • Stel belang in wat jou kind sê en ag sy of haar mening van waarde.
  • Leer jou kind om sy of haar emosies uit te druk. Help jou kind om emosies te benoem, byvoorbeeld: Ek kan sien jy is nou baie kwaad. Jong kinders ondervind dit moeilik om emosies soos woede, vrees, frustrasie, blydskap en hartseer uit te druk en toon hul gevoelens deur hul gedrag.
  • Waak daarteen dat jou kind se emosies jou manipuleer.
  • Help jou kind om verantwoordelikheid vir sy of haar aksies te aanvaar. Keur wangedrag af. Moenie jou kind as persoon afkraak nie.
  • Jou kind se kunswerk is die uitdrukking van sy of haar gevoelens wat moeilik in woorde uitgedruk word. Indien jou kind se werk weggegooi word of nie uitgestal en bewonder word nie, sal hy of sy ook nie enige belang hê by of trots wees op die werk wat hy of sy eendag sal lewer nie.
  • Buitemuurse aktiwiteite moet tot die minimum beperk word, oorstimulasie versmoor die kind in plaas daarvan om die kind te ontwikkel.

Perseptuele ontwikkeling:

Luistervaardighede:

  • Luister na buite- of binnenshuise geluide en identifiseer die klank.
  • Sê drie woorde en vra die kind om die woorde in dieselfde volgorde te herhaal. Sê later vier, vyf en ses woorde.
  • Sê ʼn woord en vra waarmee die woord begin, en later waarmee die woord eindig.
  • Gesels in die motor met jou kind.
  • Lees elke aand stories voor. Laat kinders die stories terugvertel.
  • Gee meer as een opdrag wat kinders moet uitvoer.
  • Klap lettergrepe van woorde en ander patroontjies.

Bou legkaart saam met jou kind. Foto: Markus Spiske/Unsplash

Visueel:

  • Bou legkaarte. Begin by die hoeke, daarna die reguit kante en vul verder in.
  • Speel speletjies waar weggesteekte voorwerpe in ʼn prent gesoek moet word, of in die huis.
  • Sorteer knope, messe en vurke, sokkies en lepels
  • Bou met blokkies.
  • Gooi en vang ʼn bal, boontjiesakkie of speel ook met ʼn veilige kolf of raket. Dit ontwikkel ʼn kind se hand-oog-koördinasie
  • Herken en benoem primêre en sekondêre kleure.
  • Herken vorms, veral 3D en in die leefwêreld, byvoorbeeld watter vorm het die deur, venster, ensovoorts.

Maak seker dat jou kind ʼn sterk liggaamsbeeld het. Vra dikwels dat jou kind die liggaamsdele sal uitwys en benoem. Hy of sy moet dikwels in ʼn spieël kan kyk en na liggaamsdele wys.

Beperk TV-kyk tot die minimum, asook die speel van rekenaarspeletjies, aangesien dit lei tot ʼn swak spiertonus, waaraan al hoe meer kinders ly. Kinders moet soveel as moontlik beweeg en hul omgewing op verskillende maniere ontdek en beleef.

  • Laat jou kind toe om op ʼn trampolien of ʼn ou matras te spring.
  • Laat hulle op groot balle sit wanneer hul TV kyk.
  • Spring op een been, daarna op die ander een.
  • Swem is ʼn waardevolle oefening, asook opstote.
  • Kruiwastoot kan ook groot pret verskaf, steun net die bene by die knieë om rugprobleme te voorkom.
  • Laat jou kind touspring.

Taal:

Hoe beter die kind se taalvaardigheid, hoe beter sal sy of haar leesvermoë wees.

  • Dring daarop aan dat jou kind in volsinne praat en vrae beantwoord.
  • Lees versies of rympies voor, help jou kind om dit te memoriseer.
  • Lees stories en laat hom of haar dit terugvertel. Hoe meer stories, hoe beter die taalontwikkeling en latere lees.
  • Om liedjies saam met ʼn CD te sing waarop goeie, verstaanbare taal gebruik word, verbreed nie net die woordeskat nie, maar help met breinontwikkeling.

Tel hardop en tel enige iets. Foto: Crissy Jarvis/Unsplash

Wiskundige begrippe:

  • Tel hardop en tel enige iets soos byvoorbeeld motors, wasgoedpennetjies en knope. Leer ook rangorde van dinge soos dat iets eerste, tweede en derde kan wees.
  • Optel en aftrek met stories en konkrete voorwerpe is ook iets wat ouers saam met hulle kinders speel-speel kan inoefen:
    (Ek het ses lekkertjies en eet twee op, hoeveel bly oor?
    Ek het drie motors en kry nog twee geskenk, hoeveel het ek altesaam?)
  • Rangskik voorwerpe van klein na groot en andersom. Dek ʼn tafel en help jou kind om geld te herken.
  • Speel bord- en dobbelsteenspeletjies met jou kind (byvoorbeeld slangetjies en leertjies)
  • Meet saam met jou kind. Vul verskillende houers met water sodat hy of sy die konsep van half, vol en leeg onder die knie kan kry. Vra jou kind dan ook hoeveel houers maak hierdie een vol?
  • Help jou kind ook om tyd te verstaan soos gister, vandag en môre; die dae van die week; en oggend, middag en aand.
  • Help jou kind ook om vorm en kleur te herken. Hierdie sluit die herkenning van 3D-vorms ook in.

“Lees soveel as moontlik vir jou kind. Vertel stories, vra vrae en luister na jou kind. Die belangrikste is egter om jou kind te geniet,” het Van Rooyen afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.