Inperking knou Helpende Hand se kosblikkieprojek

(Foto: Erika Fletcher/Unsplash)

’n Bord kos by ’n kleuterskool is dikwels die enigste maaltyd wat ’n kleuter per dag ontvang. Solidariteit Helpende Hand ondersteun ongeveer 85 kleuterskole of 8 000 kleuters deur daagliks aan hulle ’n gebalanseerde maaltyd te verskaf, wat met groot uitdagings tydens die inperking gelewer word en selfs in sekere gevalle geensins gelewer kan word nie.

Solidariteit Helpende Hand se navorsing

Solidariteit Helpende Hand het in Desember 2015 omvattende navorsing gedoen rakende die impak van die Desembervakansie op die liggaamsmassa van ’n kleuter wat deel uitmaak van ons Kosblikkieprojek. In ’n neutedop was die navorsing soos volg: Die kleuters se liggaamsmassa is in Desember en weer in Januarie gemeet om te sien hoeveel die kinders gegroei het, met die doel om te bepaal of hulle voldoende voeding gedurende dié tydperk ontvang het. Die kleuterskole was tydens Desember gesluit en kleuters het dus nie by die Kosblikkieprojek kos ontvang nie.

Daar was ’n duidelike verlies aan liggaamsmassa by die kleuters. In een kleuterskool het tot 93% van die leerlinge ’n gewigsverlies getoon vanaf die eerste meting in Desember tot in Januarie. Die gemiddelde gewig van die kleuters was 16,7 kg by die eerste meting in Desember, maar die getal het tydens die vakansie met 300 gram, oftewel 2% gedaal weens ’n gebrek aan voeding. Die kleuters se groei in lengte is ook deur die tekort aan ’n gebalanseerde maaltyd benadeel.

Die Kosblikkieprojek is weer in Januarie 2016 hervat en kleuters kon weer daagliks ’n gebalanseerde maaltyd verwag. In Maart, drie maande ná die tweede meting, is die kleuters weer gemeet. Weer eens was daar ’n duidelike verskil in die gewig van die kleuters. Kleuters het gemiddeld 4,3% van hul liggaamsmassa opgetel. In sekere gevalle het die kleuters tot 19% van hul liggaamsmassa gegroei danksy die Kosblikkieprojek se voedingsprogram. Verder het die gemiddelde gewig van die kleuters vanaf 16,4 kg tot 17,1 kg gestyg met die derde meting. Daar was ook ’n gemiddelde toename van 1,5% in die lengte van die kleuters.

Waarom is hierdie navorsing in die Covid-19-tyd van toepassing? Ons kan vir seker dieselfde en ’n stygende tendens van bogenoemde navorsing tydens die inperking verwag. Die Covid-19-inperking strek egter oor ’n langer tydperk as wat bogenoemde navorsing gestrek het en daarom kan ander probleemareas ook verder sterk na vore tree, naamlik:

Gedragsprobleme

Gedragsprobleme soos AAHS (aandagafleibaarheid- en hiperaktiwiteitsindroom) waaraan behoeftige ouer dikwels nie aandag kan gee nie, verbeter ook as ’n kind ’n meer gebalanseerde dieet geniet en in ’n ondersteunende omgewing van ’n opgeleide kleuteronderwyseres funksioneer. Kleuters word oor die algemeen, danksy die voedingsprojek, bestempel as fisiek sterker. Hul groot en klein motoriese vaardighede sowel as intellektuele en emosionele ontwikkeling baat dus by hierdie voedingsprojek. Dit beteken dat kinders oor die algemeen meer gehoorsaam voorkom, hul take makliker kan verrig en dat hul selfvertroue daardeur verbeter.

’n Toename in gedragsprobleme kan dus tydens die inperking verwag word, as kleuters nie voldoende voedsel ontvang nie.

Liggaamlike ontwikkeling

Verder het groeiende kinders voortdurend voedingryke voedsel nodig, omdat hul groei en hul beendere, tande en spiere voortdurend ontwikkel. ʼn Kind wat genoegsaam gevoed is, het genoeg energie om positief op stimuli uit sy of haar omgewing te reageer. Kleuters se emosionele, intellektuele en fisieke ontwikkeling ly onder ʼn gebrek aan hierdie gesonde voedsel. Kinders kan tot soveel as 2% van hul liggaamsmassa binne slegs een maand verloor indien hulle nie gebalanseerde maaltye eet nie. Gelukkig kan die toevoeging van ’n projek soos Kosblikkie toesien dat daar dramatiese verbeteringe in die ontwikkeling van kleuters plaasvind, wat tydens inperking nie hierdie doelwit kan bereik nie.

Finansiële uitdagings van ouers tydens Covid-19

’n Verdere uitdaging vir ouers is dat talle ouers se inkomste/salarisse verminder is of dat hulle geen inkomste ontvang nie. Hierdie ouers moet vir oorlewing uitgawes sny, veral voedselaankope. Ouers koop dan meer styselryke voedsel soos mieliemeel en brood wat tot ’n verdere ongebalanseerde dieet lei. Daar is eenvoudig nie genoeg geld vir groente en vrugte nie.

Maatskaplike kwessies

By talle gesinne kan die inperking ook verdere emosionele uitdagings bring, onder meer, spanning en depressie, wat tot gesinsgeweld en ander maatskaplike kwessies kan lei. Kleuterskole dien dikwels as buffer tussen die ouer en die kind deurdat die kleuterskoolonderwysers aandag aan hierdie kwessies kan gee, die betrokke gesinslid (-lede) na iemand verwys of die saak aanmeld.

Om bogenoemde rede is dit uiters belangrik dat kleuterskole toegelaat moet word om te kan heropen. Dit is nodig dat voedingsprojekte soos die Kosblikkieprojek, wat ’n groot verskil in duisende kleuters se lewens maak, weer ten volle kan funksioneer. Ons mag nie toelaat dat ons vrese vir die virus veroorsaak dat kleuters dag-vir-dag honger gaan slaap nie.

Solidariteit Helpende Hand wil die regering vra om eerder positiewe riglyne en ondersteuning aan kleuterskole te bied, sodat kleuterskole die nodige voorsorgmaatreëls kan tref vir veilige heropening. Verder het elke ouer die keuse om self te besluit of sy of haar kind klasse sal bywoon, maar ons almal het die verantwoordelikheid dat veral arm kleuters die nodige voeding kry om suksesvol te ontwikkel en om te kan leer.

  • Dr. Elsha Hermann is ’n maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike afdeling.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Elsha Hermann

Dr. Elsha Hermann is ’n maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike afdeling.

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Is dit nie die ANC se plan nie Solidariteit en Helpende hand? Hulle wil he die land se mense moet bakhand daar voor hulle kom kniel, en smeek vir ‘n stukkie brood! Maar daar sal eerdags nie eers meer brood wees nie, want daar sal nie meer boere wees nie. Voel soe jammer vir die kinders van die land in Covid-19. Kry liewer ‘n fiets ambulanse in die Oos-Kaap teen R94000, as om seker te maak dat die land se kinders nie hongerly. Julle weet darem om net verby die ANC op die stem papier te beweeg in enige volgende verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.